Posted on Leave a comment

Koffie wat klap

Ek word vroeër as beplan wakker vanoggend, op ‘n Saterdagoggend nogal, om Harties toe te gaan. Ek het ‘n vroeë nael afspraak, 7 uur die oggend om presies te wees, by my ander Sister from another mister, Irene. Ek is mal oor vroeë oggend ritte, veral op ‘n Saterdagoggend. Dit het hierdie gevoel en iets wat dit net spesiaal maak. Die Magaliesberge vertoon pragtig voor my soos wat ek ry, wat die mood vir die dag stel. Met die lug mooi blou en skoon gewas na die reën hierdie week, kort na een van DIE warmste Januarie maande ooit.

Nie te min, die plan was om te gaan en my naels te doen, so bietjie goedjies en inkopies te doen by die plaaslike inkopiesentrum Village Mall en dan terug te keer huis toe om so bietjie day job take te verrig. Omdat ek so vroeg moes ry, terwyl die huishouding nog in droomland was, kon ek nie my oggend shake maak in die blender nie. Met net koffie om die hol kol te vul, klim ek in my kar en ry na my afspraak toe.

Een van die winkels wat ek besoek in Village Mall was Woolworths Food, om so bietjie vars groente, vrugte en slaai goed aan te koop. Oppad uit herinner my maag my dat dit STEEDS net koffie gehad het om te verteer. Ek besluit om by die koffie toonbank, wat redelik onlangs geinstalleer was te stop. En met onlangs bedoel ek iewers aan die einde van 2022, iewers in die laaste kwartaal van die jaar, het Woolworths besluit dat diegene in Harties ook bederf kan word met so ‘n koffie toonbank. Altans – ek DINK dit was 2022, miskien was dit 2021 al? Die dae vlieg so, ek kan nie seker wees nie. Elkgeval.

Sedert die installasie en oprigting van daardie einste toonbank, het ek nog net verby geloop. Elke keer ruik ek die heerlike aroma van vars gemaalde koffie bone. Ek is altyd haastig en het nooit tyd om te stop en een te koop nie. Maar vandag is anders en vandag besluit ek om een te koop. Ek wou eintlik ‘n muffin of iets koop saam met die koffie. Terwyl ek die muffins wat uitgesprei is bekyk, vra ek die Barista (sonder om op te kyk) watter muffins hulle het, ek is honger (in Engels). Ek verduidelik dat ek net een soek nie 4 nie.

Sy antwoord my deur te sê sy het baie lekker goed. Ek vra uit oor die koffie. My vraag was (in Engels) Is it Lekker? Haar antwoord? Lekker is an understatement. It is Coffee e Monate. Ek kyk na haar en sê ampertjies HUH? maar besluit om ordentlik te vra om te herhaal wat sy gesê het en te verduidelik wat dit beteken. Sy sê dit beteken Coffee that slaps. Nou het sy my aandag. Coffee that slaps. Wat IS dit veronderstel om te beteken? Ek reken iets beter and groter as Lekker koffie. Ek is MAL oor koffie. Ek dink ek drink te veel koffie.

Dit was die oortuiging wat ek nodig gehad het, na my besluit etlike sekondes vroeër om van die Woolworths koffie te probeer. Op hierdie einste Saterdagoggend, want o vet, ek het kaffeine nodig om wakker te bly! Ons het ‘n aangename luidrugtige gesprek, ons lag terwyl sy die koffie maak. Iewers gedurende hierdie gesprek, besluit ek om oor my ervaring te skryf. Ek vra haar toe om die frase wat sy gesê het neer te skryf vir my, want ek gaan om die dood nie Coffee e Monate onthou tot ek by die huis is nie.

Gedurende ons gesprek, leer ek dat die dame, met die pragtige, stralende en aansteeklike glimlag, en wie se persoonlikheid ook e Monate is (as ek nou deel van ‘n frase wat elders gebruik word hier kan invoeg – ek is nie seker of dit so werk in Tshwana nie – maar ek bedoel eintlik haar persoonlikheid kan nie as LEKKER beskryf word nie – dis ‘n understatement), pas terug gekom het van verlof af. Sy verduidelik dat dit die rede is hoekom sy in ‘n goeie bui is vandag. Tomalo (ek dink dis haar naam – die foto op my foon vertoon nie haar naam op haar hemp duidelik genoeg nie) vra my watter koffie ek wil hê en of ek iets ekstra in wil hê soos suiker, heuning of versoeter. Ek gee my bestelling deur vir ‘n Grande Cappuccino met een bruin suiker.

Die ander Barista roep my na die till om te betaal. Ek swipe (wat is die woord in Afrikaans tog?) my Woolworths kaart meer as een keer en wonderbaarlik kry ek meer as 10% afslag op ‘n Grande coffee by Woollies. Voor ek loop, beveel Tomalo aan (skuus as ek nou die naam verkeerd het hier) dat ek die koffie MOET proe voor ek loop, om seker te maak dis lekker. Ek vra haar, in Afrikaans, Het jy die suiker geroer ook? Sy verduidelik vir my dat haar Afrikaans so bietjie verroes het terwyl sy op verlof was. Ek lag vir dit en herhaal die vraag in Engels.

Sy HET dit geroer, soos dit ‘n goeie Barista betaam om te doen. Ek vat ‘n slukkie en maak ‘n gebaar met my hand na my gesig toe dat dit wel ‘n Coffee e Monate IS (koffie wat klap soos direk vertaal). Om die dood toe kan ek nie die man se naam uitspreek (of onthou) nie, maar ek vra hom en Tomalo om te glimlag, ek wil ‘n foto neem vir my blog inskrywing. Ewe opgewonde glimlag hulle mooi terwyl hulle pose vir die foto. Uiteindelik het ek ‘n foto wat vir my werk, wat almal se glimlagte en opgewondenheid wys.

Voor ek gaan, sê Tomalo dat ek by my inskrywing moet voeg hashtag best_baristas_in_harties. Sy gaan voort deur te sê People will comment. Ons gaan voort met ons grappies en ek sê ek sal nog ‘n paar hashtags by hierdie inskrywing sit soos #coffee_e_monate en #best_coffee om net ‘n paar te noem. Sy het ook gesê ek moet terug kom vir ‘n tweede date, hierdie was nou my eerste date. Ek moet sê, ek mag dalk net ‘n Woollies Grande Cappuccino deel maak van my weeklikse inkopielys. Dis jammer dat my koffie nie so lank gehou het soos die lekker gevoel na hierdie gesprek met hierdie twee mense nie. Dit was klaar nog voor ek by die damwal was, oppad terug na die pragtige Skeerpoort toe.

#best_baristas_in_harties #coffee_e_monate #coffee_that_slaps #best_coffee #Woolworths_harties #saturday_morning_vibes #what_a_lekker_experience #have_you_had_coffee_e_monate_yet?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.