Posted on Leave a comment

Die vrugte

Toe ek die Here se mal plan (met respek gesê natuurlik – want in my kop het dit glad nie sin gemaak nie) vir Beroepsvrou begin deurvoer van desk pads, kalenders en ander gedateerde items, notaboeke en muismatte, het ek dit net gedoen. Ek het nie gedink nie en nie regtig beplan nie. Ek besef net al hoe meer HOE God se Upside-Down Kingdom werk – Sy somme is nie ons somme nie, Sy planne is nie ons planne nie, Sy tyd is nie ons tyd nie.

Om net goed te doen sonder om te dink, is iets wat so ietwat buite my comfort zone is. Want vir my day job is dit AL wat ek moet doen. Beplan en dink – goed moet sin maak jy weet? Vir Beroepsvrou het ek deur gedruk (nog nooit so iets in my lewe beleef wat die Here so hard op my hart gedruk het om te doen nie) en die leuse, as ek dit nou so kan stel, waarmee Beroepsvrou identifiseer en waaroor dit alles gaan, is Pienk Vere™ vir die Here. Wanneer ek van Pienk Vere™ praat, verwys ek natuurlik na die Flaminke en dit wat die Here vir my openbaar het oor hierdie voëlspesie. As jy nou nog nie weet waaroor dit gaan nie – gaan lees die stukke onder die kategorie Pienk Vere™ – begin by die oudste artikels en werk jou pad deur na die nuutste artikels toe.

Dit was dan ook die eerste jaar se tema vir alles van die Pienk Vere™ reeks, nie net die gedateerde items nie, maar ook notaboeke en muis matte. Ek het egter gou besef dat Flaminke nie in almal se smaak val nie, en, mens raak maar moeg om vir 12 maande vir dieselfde prentjie te kyk op jou desk pad of dagboek. Januarie 2022 (een jaar gelede) slaan ek ‘n panic so te sê oor wat 2023 se tema gaan wees en hoe dit gaan werk in die toekoms. Ja, ek weet, dis ‘n hele jaar voor die tyd, maar daar IS die deel van my persoonlikheid wat van beplanning hou (alhoewel ek eintlik glad nie van dit hou nie maar toemaar – maak dit sin om so te voel? Amper ‘n love-hate verhouding met beplanning…).

Nou dit voel of ek met ‘n Kaapse draai by my punt uitkom. Maar die punt wat ek wil maak is, die Here het kort daarna, sommer vroeg in Februarie 2022, vir my bevestiging gegee van die tema vir 2023 waaroor ek gewonder het. Op so ‘n wonderlike manier, soos wat net die Here kan. Dis weer een van daai fist pump oomblikke met God. My rooikop vriendin (almal het so een nodig in my opinie – ‘n regte egte Ginger) kom kuier een Saterdag by my. Ons het gesukkel om ‘n datum te kry wat beide van ons pas en ons kuiertjie was so bietjie overdue. Heel beskeie en verleë oorhandig sy vir my ‘n persentjie saam met die woorde “Abba Vader het gesê jy het vrae hieroor en dat ek dit vir jou moet gee” iets in daardie lyn.

Ek kyk af in my hande na wat sy vir my gegee het – ‘n stelletjie klei oorbelle, bloedrooi granate. Ek bars amper oombliklik in trane uit, want dit was een van my vrae aan God (niemand het dit geweet nie). Kan ek ‘n tema doen, wat moet dit wees en is granate ok? Saam met dit het ek natuurlik honderde ander vrae gehad, en soos wat die tyd aanbeweeg is dit besig om beantwoord te word.

Daar het ek sommer gou my antwoord gekry en besef ek net weer dat Beroepsvrou se beplanning ietwat anders gaan wees as my day job se beplanning. Daar is beplanning, maar op God se manier, nie soos die wêreld dit bepaal nie. Nou dit bring my by die heel eerste skrifvers vir 2023 se desk pad, so hier op die einde van Januarie. Hierdie was ‘n BESIGE maand, erger as wat ek al voorheen beleef het en daarom dat ek nou eers hierby uitkom. Niks het drasties verander nie en ek kan wragties nie my vinger lê op dit en hoekom dit so voel nie – die gejaag wat net erger word. Dit is net wat dit is. Seker maar sperdatums wat verkort word wat bydra tot dit wat soos chaos voel om my.

Ek het gevoel díe Bybelvers is van pas by die tema vir 2023, en alhoewel die vrug waarna verwys word nie benoem is in die Bybel nie, (dit verwys wel na lote en wynstokke en dus neem mens maar aan dat dit na druiwe verwys), reken ek Granate kan ook werk vir die doel. Dit kan eintlik maar enige vrugte wees reken ek – druiwe, appels of lemoene. Maar die Here het Granate op my hart gelê. Ons kan slegs vrug dra wanneer ons IN HOM is. En dit sluit weer aan by die Pienk Vere™ – want waarmee vul jy jouself? Wys jou vrugte wat jy dra dat jy Pienk Vere™ vir die Here het? Watter vrugte dra jou Pienk Vere™? Sê jy vir mense jy is ‘n Granaat boom maar dan dra jy piesangs en is so ver verwyderd van dit wat jy proklameer en dit wat jy uitleef?

Sonder Jesus kan ons niks doen nie, soos die skrifvers ons leer. Wanneer ons IN Hom woon en onsself opvul met Hom, dan dra ons baie vrugte. Woon jy in Hom? En Hy in jou? Dra jy vrugte? Watter vrugte dra jy? Does your walk and talk agree? So aan die begin van die nuwe jaar, (die Jubel Jaar), wanneer alles net vinniger uit die blokke wegspring as wat ons kan hanteer, is dit soms moeilik om hierdie by te hou en deur te voer. Dis juis dan, in hierdie woeste tye, dat ons moet onthou en herinner word aan hierdie skrif. Dit uitleef en vir mense WYS dat God in ons is en ons in Hom is. Dat ons vrugte ooreenstem met ons dade en woorde. Watter vrugte dra jou Pienk Vere™?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.