Posted on Leave a comment

Die Jubel Jaar

Hierdie is amptelik my eerste inskrywing van 2023. Ek dreig al sedert my kantore gesluit het die 15de Desember 2022 om net bietjie op te vang op inskrywings wat ek klaar geskryf het maar nie vertaal of gepubliseer het nie. En raai wat? Dit het nie gebeur nie. Dit was asof ek die Desember vakansie futloos en sonder energie was. Soos ‘n battery wat leeg was.

Ek en my bediende redeneer hieroor, sy sê sy het ook so gevoel. Als was moeite. Sy sê laggender wys dat sy dink ons word ouer. Ek bestraf sommer dit daar en dan en sê vir haar ons is nou net 40, dit kan wragties nie die ouderdom wees nie. Na ‘n vinnige geselsie met ons buurvrou (haar hond het kleintjies gekry so nou boer die Potgieters weer by die Krugers en dan as almal huise het, sien en praat ons min met hulle….my kinders is mal daaroor om klein hondjies te sien en te oooooeeeee en aaaaaaahhhhh oor die wonderwerkies wat gebore was). Nou ja, noodgedwonge stop ek die sin daar, want, ai, soos altyd, oormaat inligting. Nie te min, na ‘n gesels met die burvrou, sê sy dat hulle het ook so gevoel. Lus vir niks. So dalk is dit iets in die lug?

Hierdie jaar is veronderstel om die Jubel Jaar te wees. 2023 the year of Jubilee. Maar ai, dit voel vir my of die vyand dit net wil kom steel. Die lied in my hart, die lofsange, voel net of hulle soos mis voor die son verdwyn het. Ek voel sommer Januarie in die lug. Jy weet? Die gevoel van die gejaag wat nou weer afskop. Die atletiek atmosfeer. Die oggende wat stadig maar seker koeler begin word (al beleef ons tans ‘n hittegolf) soos wat die somer haar laaste draaie draai en een van die dae gaan oorhandig aan Herfs om te baljaar in die blare. Ek weet dis NOG NIE Herfs nie, want vet weet, dis WARM. Maar, ek kan die verandering in die lug voel. Die jaar, voel vir my, het bietjie bumpy begin. Eers slaan die weerlig my ou laptop gaar. Die keer is daar nie so baie dokumente wat ek verloor nie, maar tog waardevolle goed, veral met Beroepsvrou se admin….maar, dit is wat dit is. Dit het gebeur en ek kan niks omtrent dit doen nie.

Die week voor ons kantore heropen, besluit ek om maar aan die gang te kom met werk. Maar dit gaan sukkel-sukkel. Die skool se skryfbehoeftes het ek later gekoop as beplan, ek het nie krag vir dit gehad vroeër nie. Toe staan die sakke vol boeke en penne en wie weet wat nog rond en was soos iets wat my koggel. Dit moet nog gemerk word. Ek herroep hoe erg die vorige jaar vir my was en hoe lank dit geneem het. En dit was my verwysingsraamwerk waarop ek hierdie taak gebasseer het. Op die ou einde was dit nie so erg nie, ek het dit wel tot op nommer 99 gelos, iets wat net nie vir my werk nie. Maar nou ja. Dit daar gelaat.

Om alles te kroon, besluit ek en my man om ons dogter se kamer te begin oordoen en verf. Iets wat ons aan die begin van die vakansie wou doen. Maar nie by uitgekom het nie en ook nie lus voor was nie, want, weereens weet ons dat dit eintlik nie ‘n eenvoudige taak is nie. Nie te min, die naweek voor ons amptelik weer ons kantore open, besluit ons toe om die bul by die horings te pak. Gedurende die proses, kry my man ‘n besering aan sy voet, wat ons op daardie stadium reken, seker 6 tot 8 weke op krukke vir hom sal wees. Ten tye van die publikasie van die berig (dit klink nou fêncy soos ‘n koerantberig), was die verwagte tyd op krukke toe heelwat minder en net so 2 weke. Hy kan nou nog nie behoorlik op die voet trap nie en ook nie rond hardloop nie, maar ten minste is sy ekstra paar bene iets van die verlede en kan hy eintlik redelik soos normaal funksioneer.

Nou my lys van treurmares en moan songs gaan aan en aan, maar ek sal nie als hier herhaal en oordra nie. Die doel is glad nie om in almal se ore te kla nie. Ek deel maar frustrasies en irritasies en uitdagings. Hierdie inskrywing het ek al ‘n week of wat voor hy gepubliseer was, begin skryf. Maar kom nie daarby uit om dit klaar te maak nie. Dit begin selfs voel of die vyand tyd steel, want tyd vir alles wat ek wil doen, voel soos altyd min, skaars en few & far between. Net laasweek ry ek iewers, en dink aan hoe dit nie soos ‘n jubel jaar voel nie. Net toe ek links van my kyk, sien ek ‘n trok, van ‘n Boerdery wat sê Verbly julle in die Here.

Net daar besef ek dis die Here wat my gedagtes berispe en aanspreek. Maak nie saak wat nie, ons moet feesvier en die Here loof en prys! Want wanneer ons dit doen, het die vyand geen mag nie. Hy het geen mag gehad om mee te begin nie, en wanneer mens die Here loof en prys, snoer jy omtrent die vyand se mond sodat hy nie verdere gemors kan strooi in jou gedagtes nie. Net ongeveer een week later, na ek die trok gesien het, gesels ek en my man. Hy praat van ‘n fout op die elektrisiteit voorsiening by sy ma se biltong winkel. Ek sê vir hom dit is maar moeilik om positief te bly, veral as goed nie reg werk nie. Net daar raak hy amper moedeloos met my en sê vir my “Moet jy nie nou ook begin nie.”

Verbaas kyk ek na hom, oor die algemeen praat ons nie die land en die stand van sake sleg nie. Maar, dit IS uiteraard moeilik om positief te bly – kom ons wees maar eerlik hier. Veral as alles om jou negatief voel. En ook veral na ‘n Carte Blanche insetsel wat ons onlangs gekyk het en hoe dit oorkom asof dinge net nie werk soos dit moet nie. My man noem toe van iemand wat soos ‘n doem-profeet negatief was oor iets, en die toekoms en wie weet wat nog alles. Hy sluit af en sê al wat hy in sy gedagtes hoor is (in Engels), Rejoice in the Lord, Rejoice. Ek kyk so in verbasing na hom toe hy die woorde uiter wat ek op ‘n trok gelees het ‘n week vantevore (en eintlik weet ek dat ek nie moet nie, want dit IS die Here waarvan ons praat).

Dit was asof dit ‘n bevestiging was van dit wat ek gesien het op die trok die week van te vore. Ek deel die trok se skrif met hom en ons albei is net in verwondering oor hoe die Here nou regtig werk. Dit is asof die Here my net wil kom herinner aan alles waarvoor Hy staan (so asof ek dit nie weet nie, maar wanneer mens vasgevang voel in omstandighede dan vergeet mens maar). Voorsiening in oorvloed, kom van Hom af. Môre hou sy eie bekommernisse, ons hoef nie onsself vandag al te bekommer oor môre nie. Die Here is reeds in môre. Hy weet wat die beste is vir ons.

Dan dink ek weer aan hoe ek laas jaar gevoel het. Hoe ons gesukkel het om in roetine te kom na ons kinders na ‘n nuwe skool geskuif het. Ek wonder by myself hoe het ek dan by skryf uitgekom? Dan herinner die Heilige Gees my aan hoe ek alles tussen alles deur gedoen het. Ek het geskryf op my foon terwyl ek gewag het vir die kinders en dan later eers dit op my rekenaar klaar gemaak. Werk het ek ook tussen deur gedoen, soos wat ek sit en wag vir die kinders by skool aktiwiteite.

Ek hou nie daarvan om so te werk nie. So te jaag van punt A na punt B, laptop sak oor die skouer. Maar dis die realiteit van die wêreld waarin ek myself bevind. Ek is seker baie mamma’s voel so! Ek is ten minste daar vir my kinders naskool. Om die kossies te gee en sunblock te spuit. Om te sit en sweet onder ‘n Gazebo by die Huissport, foto’s te kan neem van my kinders op die podium. Daar te wees om vir hulle te cheer. Iets wat ek nooit as kind ervaar het nie, want my ma moes voldag werk. Ek probeer altyd my tyd effektief gebruik. En tussen alles deur, loof en prys ek tog die Here. Dit vind nie altyd op ‘n spesifieke tyd plaas nie. Tussen werk deur en selfs terwyl ek werk, gesels ek met Hom. Bou ek verhouding, hoor ek by Hom wat my geskape het. Probeer ek positief bly, al is alles om my negatief en sukkel ons met selfoon seine tussen beurtkrag deur, verkorte sperdatums, goed wat net die wit waks uit mens uit frustreer. Tussen dit alles, moet ons steeds aanhou KIES om positief te wees. Om LIG te wees in die wêreld.

Dit voel dalk nie soos ‘n Jubel Jaar nie. Vir baie mense reken ek voel dit so. Dit voel soos uitdaging op uitdaging, so aan die begin van die jaar. En dis presies hoekom ons moet aanhou om die Here te loof en te prys. Te jubel oor Sy goedertierenheid! Sodat ons die teendeel kan wys vir die duiwel, wat ‘n spanner in the works probeer gooi, dag in en dag uit. Ek weier dat die duiwel se spanners my enjin sal laat cease. Aanhou sal ek aanhou. Dit het net weer ‘n rukkie geneem om in die roetine te kom na die Desember vakansie. Maar beweeg sal ek beweeg en sing sal ek sing! 2023 is the Year of Jubilee.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.