Posted on Leave a comment

Die kop vs. die stert

Soos wat ek die ander dag deur die plaaslike inkopiesentrum stap, voel ek net die einde van die jaar in die lug. Jy weet, net so ‘n vibe wat nie op ‘n ander tyd as November en Desember in die lug is nie. Dit voel of die lewe net gebeur en die tyd net aanstap en as jy een oggend wakker word, is dit verby middel November.

Nog ‘n jaar is amper verby. Nog ‘n jaar om oor te reflekteer. Wat het gebeur? Hoogte punte en laagte punte. Die nostalgiese tyd van die jaar. Iets waarvan ek nie baie hou nie, want dit impliseer dat ek nog ‘n jaar ouer is. In my kop is ek nog al die pad 28 jaar oud. Ek weet nou nie of ek nog soos ‘n 28 jarige, of selfs ‘n thirty-something-year-old lyk nie….maar ek voel nog jonk….vir wat dit wêrd is.

Die maand se skrif op die desk pad is uit Deuteronómium (as jy nou nog nie weet waaroor dit gaan nie – besoek maar gerus my winkel, bestel vir jou een, dan het jy ook ietsie mooi vir jou werkstafel en dan gaan jy verstaan hoekom ek oor random verse skryf). Noodwendig moet ek maar daardie sin daar eindig, omdat ek nou so ‘n lang verduideliking in hakkies gesit het. Moving on!

Nou ja, die boek wat seker die moeilikste is om uit te spreek in die Bybel, is waaruit die maand se skrif kom. Díe skrifvers is vir my so ‘n groot en profound een, (by gebrek aan ‘n beter Afrikaanse woord), een met soveel beloftes in. En die Here sal jou die kop en nie die stert maak nie, en jy sal net boontoe en nie ondertoe gaan nie as jy luister na die gebooie van die Here jou God wat ek jou vandag beveel het om te hou en te doen. Deut 28:13 (Afrikaans 53 vertaling).

Wow. Waar begin mens met die ontleding en dit wat die Here op my hart lê van die skrifvers? Kom ons begin by die gebooie onderhou. Nou ek weet ons is lankal nie meer onder die wet van die Ou Testament nie. Jesus het ons kom vrymaak van dit. MAAR, in die Nuwe Testament verwys Jesus na die grootste gebod. Jy moet die Here jou God lief hê met jou hele hart, en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelyk staan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Matt 22: 37- 39 (Afr 53).

Wat dit vir my sê is, as jy God lief het, en jou naaste, sal jy outomaties die tien gebooie onderhou, want as jy iemand lief het, steel jy nie by hulle nie, of vertel jy nie leuens nie, en so gaan die lysie aan. So ek reken ek kan sê check ek dink ek verstaan die deel in die skrif wat verwys na gebooie.

So terug na die eerste deel – die belofte van God self af. Dit kom nie via iemand anders nie. Dis God self wat hier praat en BELOWE. Dis ook nie ‘n halwe belofte nie, en nie ‘n miskien, maybe baby tipe ding nie. Hy belowe dat Hy MY (en jou wat dit lees) die kop sal maak, ek SAL boontoe gaan, en nie ondertoe nie. Maar daar is ‘n voorwaarde daaraan gekoppel – jy moet die gebooie van God onderhou.

Slegs as jy jou deel doen, sal die Here Sy deel doen. Hoeveel keer doen ons nie iets wat ons eintlik afgelê het toe ons bekeer het nie? Of veronderstel was om af te lê met die sondige mens toe ons bekeer het nie…? Het jy nie dalk weer vir iemand ‘n halwe waarheid, wat eintlik maar ‘n leuen is, vertel nie? Iets belowe en dit nie gedoen nie? Iemand dalk ingedoen, op watter wyse ookal? Seergemaak, geskinder, o die lys voel eindeloos.

Jy sien en dis hier waar dit vir my voel die geveg tussen die kop en die stert inkom. Ons gees is gewillig maar ons vlees bly swak. En dis hoekom ons Jesus nodig het! Alleen kan ons dit nie doen nie. Die duiwel sal jou oor en oor kom condemn, oordeel, sleg laat voel. Laer as ‘n luis, want jy het nou al weer hierdie en daardie nie gedoen nie. Jou probeer aftrek ondertoe.

Maar, wanneer jy werklik bekeer het van jou ou sondige natuur en wel alles in jou vermoë doen om die Here lief te hê EN sy gebooie van liefde onderhou, kan dit mos nie anders as om die kop te wees en op te styg na bo nie? God se genade is groot, Hy vergewe ons as ons iets verkeerd gedoen het en ons omvergifnis vra. Ek kies om God se belofte aan te kleef, alles binne my vermoë doen om naaste liefde (en self liefde) te betoon, asook my liefde vir God.

Ja, ek faal nog soms (ek moes gaan google met ‘n v of f, net so tussen ons, sodat dit ek die regte betekenis oordra). En dis seker maar ook hoe mens leer en groei is dit nie? Niemand is perfek nie, maar ons kan streef na heiligmaking, onderhoud van gebooie. Wees ‘n Jesus-Freak, probeer heeltyd self liefde en naaste liefde betoon en wys, draai weg van ou, slegte gewoontes. Dan gaan jy sien wat gaan God vir jou doen!

Wie wen in jou lewe? Die Kop of die Stert? Wat is die uitkoms van die bannier wat groot gespan is, wat die geveg aankondig – Kop vs. Stert? Ek hoop seer sekerlik dat my uitslag Kop 1 – Stert 0 sal wees, en so sal aanhou!

Head vs. Tail
Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.