Posted on Leave a comment

Die foto studio

Toe ek in Oktober 2021 ervaar het dat die Pienk Vere reeks ontwerp moet word, het ek nie die vaagste benul gehad waarvoor ek myself, op alle vlakke, in laat nie. Ook maar goed so, want ek dink nie ek sou dit gedoen het nie!

Waarvan praat ek nou? Die hele proses om ‘n aanlyn winkel te hê, te bestuur, voorraad en voorbeelde te laat maak, geld om alles te betaal, maar die grootste van alles – die fotos vir die webblad. Ek het nie ‘n clue gehad nie. Nie daaroor gedink nie, want ek was so gefokus op die ontwerpe en fisiese produk.

Maar nie te min. Ek het toe fotos geneem op my manier en soos ek goed gedink het. As ek nou terug kyk was dit AAKLIG en die feit dat enige iemand by my iets gekoop het met daardie fotos is eintlik ‘n wonderwerk!!

So groei ek toe nou in die proses, besluit om die agtergrond te verander, neem weer fotos, gaan weer deur die proses om dit op my webblad te laai. Dit neem lank, net so tussen ons, want jy is afhanklik van jou internet se spoed. Dan lewer iemand kommentaar op die fotos en sê dit moet ‘n skoon en wit agtergrond wees, neem bietjie van ‘n ander hoek af, maak so en doen dat.

Oor Paasnaweek besluit ek om WEER al my fotos oor te neem. Al wit ding wat ek in die huis het is ‘n laken. Die vou lyne frustreer my, die weerkaatsing van die lig (ek neem dit in die aand op die eetkamer tafel terwyl die res van my gesin ‘n fliek kyk) irriteer my nog meer. Ek kry nie die foon (ja ek neem met my foon want die Canon kamera is ook ‘n frustrasie vir my) se posisie presies dieselfde vas gehou wanneer ek neem nie.

Die ring lig staander ding wat ek gebruik werk eintlik glad nie en dis eintlik net een vet groot gemors voel dit vir my. Maar nou moet ek deur druk, want ek het nou mos klaar die proses begin, ek kan nie nou moed op gee nie. So karring ek aan, baie gefrustreerd soos jy seker kan aflei, maar ek werk met wat ek het en probeer om nie onnodige geld op fieterjasies te spandeer nie.

Heelwat later (‘n paar maande), gesels ek eendag op Whatsapp met Anri Erasmus van Painted Lemons. Kan ek net vir jou vertel hoe die girl my gehelp het sedert ek die plan van die Here af gekry het? Sy was die een wat ek gekontak het om te sê ek wil ‘n desk pad ontwerp. Sy was die een wat my geleer het van Canva, Creative Market en nog vele ander goed.

Sy was die een wat my in verbinding gesit het met die drukkers wat ek gebruik, die tannie wat die voorskote maak. Sy was die een wat my net aanhou ondersteun en lei het deur die hele proses. Nou ja, ek kan nie onthou hoe ons begin praat het oor fotos nie, maar ek sê toe vir haar dat ek nie MAL is ook my huidige fotos nie.

Dis toe dat sy vir my antwoord (in haar woorde nou) Nee tjommie, jy kry vir jou drie borde met mooi textures. Ek dink by my self WAT? Wat moet ek nou kry? Waar kry mens die borde waarvan sy praat? Nie lank na dit nie, kom die skakel deur vir die borde van Flatlay Studio af. Net daarna nog ‘n boodskap van ‘n app wat ek moet aflaai om soos ‘n pro (en hier glo ek dit staan vir professional en nie probeerder nie) fotos te kan neem en edit.

Wow. Watter wonderlike kennis! Ek haal toe maar geld uit en skaf die nodige aan vir my. Na die goed afgelaai word by my (wat soos ‘n ewigheid voel maar eintlik net ‘n paar dae is), kan ek natuurlik nie WAG om foto’s te neem nie. Ek maak die een oop en dink UUUHHMMM ek dink ek het ‘n verkeerde ding gekoop, ek kan nie sien hoe mooi fotos van dit af gaan kom nie. Wel, ek was verkeerd!

Impromto besluit ek een Saterdag, toe ek by die Spar was, om vars blomme te koop vir die foto’s. Daar begin ek toe om fotos te neem, maar sukkel steeds met die hoek en hoogte waarteen dit geneem word, want ek het nie ‘n staander wat werk nie. Ek begin neem en neem en neem. Ek neem in die huis die aand fotos (want dis al tyd wat ek het). Dit lyk vir my stunning, maar ek voel steeds iets kort.

In die tussentyd, Whatsapp ek ALWEER vir Anri en deel die foto’s wat ek geneem het met haar, asook my frustrasies. Sjoe ek kom nou net agter dat die hele foto-nemery vir my ‘n frustrasie was! Seker maar omdat ek eintlik glad nie geweet het wat ek probeer doen nie.

Sy sê toe ek moet ‘n staander koop en stuur ‘n skakel op Takealot van een wat sy gebruik. Sy kyk na my fotos – gee raad en advies en beveel aan om in natuurlike lig te neem eerder as in die huis met ligte aan geskakel. Die volgende dag begin ek WEER van voor af. Hoekom, weet ek nie, want ek het nog nie ‘n staander nie. Ek begin fotos in die middag te neem, daglig raak min en ek kon nie klaar kry nie. Ek neem in die huis verder in die aand en toe begin ek die verskil sien tussen natuurlike lig en onnatuurlike lig.

My moed sak in my skoene, want nou is my goed nie klaar geneem nie, die blomme gaan afgaan en ons gaan met verlof. Ek het nie ‘n staander nie. Ek het nie tyd in die week om dit te doen nie, ek moet werk. Die day job se werk hou nie op nie. Ek bêre die blomme in die yskas (dis Proteas so hulle sal lank hou het ek geredeneer) en laat maar die ander blare uit droog en bêre dit in ‘n houer om te bewaar teen stof.

Terwyl ons met verlof was, arriveer die staander. Die dag na ons terug gekom het van verlof af, besluit ek om WEER alles oor af te neem, die keer met die staander saam, stickers geplak om die verskillende ontwerpe op min of meer dieselfde plek te laat lê (ek sê mos ek raak nou ‘n pro), in daglig op die stoep. Die blomme lyk nog goed genoeg vir fotos so ek hoef nie WEER Spar toe te ry en te koop nie.

Kyk, halfpad deur hierdie proses, toe my rug voel of hy wil afbreek van die vreemde prosisie wat ek in gestaan en buk het om af te neem, dink ek weer by myself WAT HET MY BESIEL? HOEKOM DOEN EK HIERDIE? Maar, ek kan nie nou stop nie. Ek is nou so ver, ek moet maar deur druk…..

Kan ek net een ding sê? Ek het nuwe respek vir webblad fotos. Veral van skryfbehoeftes. Want hoe op dees aarde neem jy dit af dat dit mooi en aanloklik lyk vir mense om te WIL koop? Nie te min. Die fotos is klaar geneem, geedit en opgelaai op my webblad. As ek terug kyk na waar ek begin het, minder as 1 jaar gelede en waar ek nou is, kan ek net die Here se hand in alles sien.

Hoe Hy mense gestuur het (ok een mens met connections) om my net te help en te lei deur die hele proses. Anri Erasmus, uit die diepte van my hart bedank ek jou dat jy hierdie crazy vrou op Facebook se messenger boodskap in 2020 beantwoord het. Dat jy my na jou huis genooi het om al my vrae te vra oor die Bybel wat ek wou koop, die verf, en net al die ander vrae te antwoord en geduldig, alles wat so natuurlik en maklik vir jou kom, te verduidelik.

En hoe jy my net aan en af lei deur die proses. As ek met my hande in my hare sit, en 500 boodskappe begin stuur as ek onseker is (net mense wat al op Whatsapp met my gesels het sal die een lekker verstaan), kom jy, en hou my net rustig en kalm, en verduidelik net alles stap-vir-stap wat ek nodig het op te weet op daardie tydstip. DANKIE vir dit!!!

Bo dit alles, dankie Here vir die insig, kennis en wysheid wat U my gegee het, met wat ek noem Die Here se mal plan (met respek gesê natuurlik) en vir die groei wat ek kan sien in my as mens op alle vlakke. Emosioneel, geestelik en fisies. Ek deel so paar fotos op die inskrywing van waar ek was en hoe dit getransformeer het na die fotos wat nou met trots op my webblad pronk.

Hierdie is nou wragties ‘n getuienis van Met God is alles moontlik se skrif vers. Ek hoor in my gedagtes hoe die kinders saam in ‘n koor sing A-N-Y-T-H-I-N-G IS POSSIBLE WITH GOD. A-L-L-E-S IS MOONTLIK MET GOD. Iets wat hulle by Eden Leersentrum geleer het. En dit is wragties so. Alles is moontlik met God se hulp. As ‘n Chartered Accountant sulke fotos kan neem en so kreatief kan wees, dan kan enige iemand enige iets doen!

The photo studio
Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.