Posted on Leave a comment

Die versorger

Die hele week terwyl ons by die see vakansie hou, het ek heimwee en verlange na die versorger in ons familie. Soos wat ons terug ry van ons see vakansie, dwaal my gedagtes. Na my sussie Erika Breytenbach toe. Jy sien, die wat nou eers inskakel by my webjoernaal weet dalk nie, maar sy en haar gesin het ‘n jaar terug besluit om hul wortels op te trek en in ‘n ander land te gaan vestig.

Eers het ek nie verstaan hoekom ek die verskriklike verlange, juis nou het nie. Maar toe ek op Facebook sien hoe sy haar hart deel van een jaar daar en hoe traumaties dit eintlik was met die Pandemie saam, huil my hart. Toe verstaan ek, want iewers het my brein die tyd van die jaar onthou en gekoppel aan iemand wat lewendig dood gegaan het vir my, as dit nou enigsins sin maak. Met dit bedoel ek, hulle lewe nog, maar is buite bereik vir fleshy hugs en fisiese aanraking.

Ek blaai dan vinnig verby die Facebook inskrywings, want ek is bang ek begin huil soos ek gehuil het toe ek hulle, wat voel soos 100 keer, gaan groet het in Pretoria 1 jaar gelede. Ons het nie mekaar se drumpels deurgetrap nie. Toe ek jonger was, ja, en voor kinders, vir seker. Toe het ons baie meer gekuier. Maar toe raak die lewe te besig en die Pandemie het ons almal nog meer ingeperk met reise oor provinsies.

Ek noem haar die versorger, want sy is die nurse in ons familie. Sy hou nie baie daarvan as jy haar ‘n nurse noem nie, want sy is eintlik ‘n Sister. En ja daar is ‘n verskil. Seker maar soos my beroep en mense wat my ‘n boekhouer noem wanneer ek eintlik nie dit is nie.

Sy het hierdie vermoë om mens rustig te hou. Veral in mediese krisis situasies. Met ons kar ongeluk 16 jaar terug het ek haar meer vertrou as die dokters en ander nurses by die hospitaal. Toe my kind haar kop oopgeval het (met my ma wat in ‘n koma was) was sy die een wat ek gebel het (ja, ek het gepanic en ‘n blank geslaan oor wat om te doen met die kopwond). As ‘n kliënt ‘n diagnose van ‘n aard gekry het, was sy die een vir wie ek gevra het wat hulle nou eintlik bedoel met die kennis wat ons nou bygekry het.

Toe my ma in die koma was en in moes gaan vir die MRI, was sy die een wat kalm en rustig langs haar gestaan het en haar hand vas gehou het. Nie een keer het paniek haar oorval nie. Ek onthou nog ek het haar so staan en kyk en by myself gedink Hoe doen jy dit?????

Ek dink ook aan haar man Jaco. Hoe hy my geinspireer het om ‘n CA te word. Crash courses net voor eksamens gegee het oor hoe om ‘n finansiële sakrekenaar te gebruik (wat ek lankal weer vergeet het hoe dit werk en om die dood toe nie vandag kan reg gebruik nie).

Nou ja sussie en heavy (‘n direkte vertaling vir swaar wanneer ons swaer bedoel) ek hoop regtig jul wortels vestig gou in die grond in. Ek hoor dit is hard en moeilik om te emigreer. Mixed emotions wanneer jy so iets besluit. Ek weet nie of ek vir jou gesê het nie, maar die Here het vir my op die kamp laas jaar, bevestiging gegee dat dit so is, ek moet julle laat gaan.

Oor en oor het Hy gesê dit moet so wees. Hy het selfs vir my ‘n kaart van Nieu Seeland (ag jitte ek weet nou nie of ek dit reg spel nie) gegee. So asof Hy net wou hê ek moet HOOR en SIEN dat dit deel van Sy plan is en dat ek net die proses moet vertrou al maak dit nie sin vir my nie.

Lief jou sussie. Ons versorger. Ons ousus. Die een wat slap chips vars gebraai het vir middagete met witsous van scratch af gemaak. Dit het seker nie baie gebeur nie maar dit staan vir my uit van ons grootword jare.

Ek het my oë uit my kop uit gehuil toe jy P.E. toe gegaan het om te swot (en nee ek weet nogsteeds nie hoe om P.E. se nuwe naam uit te spreek of te spel nie, so Port Elizabeth sal dit bly vir my). Want dit het so ver gevoel. So buite bereik. Min het ek geweet dat jy nou nog ‘n verder bestemming sou kies. Mis jou. Al is ons net ‘n Whatsapp oproep ver neuk die tydsones so bietjie…

Ek probeer hard om die varing wat ek by jou gekry het aan die lewe te hou. Hy het amper nie die winter gemaak nie. Maar hy staan nou op sy plekkie waar sy blare lowergroen vertoon en waar nuwe blare uitkom – ek gaan hom vir seker nie weer skuif nie. Hy staan hier reg langs my rekenaar en as ek die varing sien dan dink ek aan jou. Die varing wat trots pronk in die foto van my blad, langs my op die lessenaar.

Tot ons mekaar weer sien. En fleshy hugs kan uitdeel en gee vir mekaar. Tot dan sluk ek maar die trane af en weg. Maak ek maar of dit net ‘n droom is. Druk my kop in die grond en kies maar om nie te veel daaraan te dink nie. Want dit maak die seer en verlange net so effens makliker om te hanteer.

The caregiver
Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.