
So nie almal het die voorreg en geleentheid om te kan blog oor hul spesiale dag nie. Die spesiale dag? Ons huweliksherdenking natuurlik! Laas jaar was die eerste jaar wat ek kon blog oor ons groot dag en ek het nogals gedink, mmmm…ek gaan nie WEER hieroor kan blog nie!
Wel, ek was verkeerd. Jy sien, dis nie ‘n Same old, same old, Happy Anniversary, I will choose you a thousand times over, love you to the moon and back standaard dag nie. Vir my is elke liewe jaar wat ons saam gespaar is, ‘n absolute wonderwerk uit God se hand uit.
Hierdie jaar se herdenking gaan wel anders wees – ons is heeldag op die pad na ‘n vakansie bestemming toe. Dis skoolvakansie en ek kan nie onthou wanneer laas ons in ‘n skoolvakansie gedurende die jaar see toe was nie. Desembers tel nie, want dit was amper die norm vir so baie jare van ons huwelik.
Nou ja, nie te min. Ek wil net so bietjie meer deel met die wêreld oor my man Heinrich. Die een vir wie ek gebid het. Jy sien, ek was nie baie spesifiek met God oor my vereistes nie. Daar was net twee goed wat my gepla het toe ek baie jonk was (en toe ek glad nie geweet het HOE om te bid nie, in my opinie as ek nou terug kyk, maar nie te min).
Die eerste vereiste was – my man moet langer as ek wees. So check die Here het daai een uitgesorteer vir my. Die tweede vereiste was – my man moes ‘n broek grootte dra wat groter is as myne. Nou ja, jy kan maar lag. Maar op ‘n stadium, toe ek nog jonk en maer was, het daar kort en nog maerder outjies in my belang gestel. Niks het my meer afgesit om te dink ek moet met ‘n ou uitgaan of trou wat se broek nommer ‘n 32 is terwyl ek ‘n 34 was op daardie stadium nie.
Simpel, ek weet! Maar dit was letterlik al vereistes. En ek dink dis ook maar goed so dat ek nie nog ‘n langer lys van vereistes vir God gegee het nie. Want ek dink nie ek sou dit so raak gekies het soos wat God my man vir my gekies het nie. Na 16 jaar van getroude lewe, kan ek eerlik sê dat ons nog nader aan mekaar is as wat ons was toe ons getrou het. Dis mos hoe dit moet wees, is dit nie?
Ons verstaan mekaar beter en ek reken ons bring die beste in mekaar uit meeste van die keer. Daar is die odd geleentheid waar ons vassit oor wat voel soos niks, maar, dis ook nodig en deel van die proses. Belangrikste van alles is, ons dien saam vir God! Op ons eie maniere wat vir ons persoonlikhede werk, en ons vertrou absoluut op die Here in alles wat ons doen.
Hy laat my lag, het die snaakste sin vir humor (wat ook op my afgevryf het en seker eintlik maar altyd daar was en gewag het om ontgin te word in die regte omstandighede), hy verstaan my, hanteer my met respek, kalmeer my wanneer dit nodig is, ondersteun my, vertrou my en is lief vir my.
Soos ek gesê het, beter raak kies kon ek nie. Dis absoluut uit die Here se hand dat ons mekaar gevind het, wat voel soos ‘n leeftyd gelede. Ek gaan deur Facebook se foto’s wat ek oor die jare opgelaai het. Dit was nogal lekker om te sien en te onthou van elke foto se neem en situasie waar ons was. Ek het natuurlik als afgelaai en probeer ‘n slideshow maak. Tot my grootste frustrasie sukkel ek so bietjie. So ek hoop maar die slideshow sien die lig! Maar in die tussen tyd moet die day job se werk klaar, want ons gaan met vakansie!
Dit voel so relevant om hoogte punte (en so paar laagte punte) te noem in ons getroude lewe saam. In die 16 jaar van getroud wees het ons slegs ingetrek in die huis waarin ons nou bly (ja, ons het nog nie daai sakke sout opgeëet van huis oppak en trek nie en weet nie of en wanneer dit ooit gaan gebeur nie). Ons het twee kinders, een buisswangerskap, een miskraam, ongelooflik baie worshonde, een pappegaai, nog ‘n hele rits hamsters en ‘n Pekingese saam beleef.
Ons was al saam in ‘n tydskrif – maar dit was voor ons getroud was, so dit tel seker nie? Dit was wel net die Accountancy SA so geen verskriklike sirkulasie en publikasie van ons twee nie! Saam het ons die day job se besigheid begin, ook voor ons getroud was… gedurende ons huwelik het daar ‘n blog ontstaan wat so kykie vir die wêreld gee op ons lewens, ons het ‘n Radio onderhoud beleef met ‘n blaps in hoe ek die lesers groet eerder as luisteraars, en waaroor ons nou gereeld lag (hy het natuurlik in diepte geluister en gehoor hoe ek die fout maak en kon my nie reghelp nie).
Ons het ‘n Pandemie oorleef, maskers dra en saniteer tot in lengte van dae. Daar was swaar tye, lekker lag tye, goeie tye, beter tye en gewone net oor tick tye. Maar in al hierdie tye was die Here daar. Het Hy na ons gekyk, ons versorg, beskerm. Soveel besluite en dom dinge wat ons wou doen en gedink het goed was, was gekeer gewees deur die Here en as ons later terug kyk, kan ons net in verbasing en dankbaarheid die Here loof vir Sy getrouheid!
Heinrich – ek dra hierdie stuk, en elke volgende jaar se stuk wat ek gaan skryf op ons huweliksherdenking op aan jou en ons lewens saam. Ek dank die Here elke liewe dag vir jou, dat Hy jou vir my geleen het vir my tyd hier op aarde. Jy is darem nog langer as ek en ek hoop die broek grootte is nog groter as myne en dat ek nie dikkes geword het oor die jare nie, sodat die ander een van my twee vereistes darem nog op die lys is. (Want, ja, ek is lankal nie meer ‘n 34 broek grootte nie!!!)
Mag die Here jou net nog meer insig, kennis en wysheid gee oor hoe om goed te hanteer. Mag Hy ons net nog nader aan mekaar bring soos wat ons nader aan Hom beweeg. Mag Hy ons nog saam ook gebruik om mense te bereik, op ons eie unieke persoonlikhede se manier! Happy Anniversary, love you to the moon and back, choosing you a thousand times over!









