Posted on Leave a comment

Die tolbos

Dis Maandag nag. Die hele huis slaap. Fudge die Pekingese, snork te heerlik op die bed by ons. Ek hoor die horlosie in die sitkamer slaan en tel hoeveel slae ek hoor. Eintlik weet ek dit gaan 12 wees. Dis middernag. Die hamster hardloop vir die eerste span daar in die sitkamer. Ek wonder hoeveel watts se krag wek ‘n hamster in ‘n leeftyd op?

Dis nou Dinsdag en nie meer Maandag nie. My brein voel soos ‘n tolbos wat deur die wind aangedreef word in ‘n rigting. Soos iets waaroor ek nie beheer het nie. Die wind en my gedagtes.

Ek dink aan dit wat voorlê. Voorlopigebelasting. Hoe potensieël op soos ou brood ek die volgende dag gaan wees omdat ek my slaap venstertjie gemis het (weens iets wat onbeplan op my tafel geland het, glad nie met werk uit te waai nie). Ek het die geleentheid om te slaap met ek weet nie hoeveel ure nie gemis.

Hoeveel berekeninge ek nog moet doen voor 31 Augustus 2022? Was dit reg om iemand van my lysie af te haal omdat hulle my vir maande geld skuld en ek net nie hulle in die hande kan kry nie? Is my interpretasie van ‘n voorlopigebelastingbetaler reg? Lees en interpreteer ek die wet reg? Wat gaan ek aantrek na die geleentheid waarheen ek genooi is as gasspreker in November?

Wat moet ek vir die mense sê??? Wie wil nou na my luister? Ek wonder hoe die Adorned kamp gaan verloop? Gaan ek iemand ken daar? Gaan ek saam met ‘n vreemdeling ‘n kamer deel? Hoe gaan ek al my belastingopgawes ingedien kry teen 24 Oktober 2022? Hoekom het ek hierdie beroep gekies??? Hierdie beroep wat my elke tweede dag ‘n Spongebob en Patrick oomblik van paniek laat beleef. As jy wonder waaroor ek praat – gaan soek op Whatsapp onder die gifs Spongebob and Patrick panic en dan lag jy maar lekker saam vir dit wat ek probeer oordra hier.

Ek IS nou beide Spongebob EN Patrick. Of kan ek maar Patrick afstaan aan my man? Hy lyk nie of hy ‘n dag se bekommernis het nie. Ek beny hom en my dogtertjie wat net aan die slaap raak wanneer hul in die bed klim. Hoekom tik ek nou hierdie? Wat gaan ek daardeur bereik? O aarde gaan die 2023 dagboeke regtig mooi lyk? Wat probeer ek eintlik sê met hierdie inskrywing?

So tol en draai die gedagtes deur my brein, presies net soos ‘n tolbos wat deur die wind rondgewaai word. Beheerloos en aan die wind se genade oorgelaat. Ek vat ‘n diep teug asem, maak my oë toe en probeer slaap. Helaas, die slaap ontwyk my. Daar is net te veel verkeer in my brein. Dan vanuit nêrens is dit asof die Here my gedagtes kom orden.

Dit wat ek moet sê en vertel by die geleentheid later die jaar begin vorm aan neem. Natuurlik maak ek net mental notes want dis gans en al te koud om nou op te staan vir ‘n notaboek en pen, of selfs my rekenaar aan te skakel om die konsep vas te lê.

Die onsekerheid oor hoe ek alles werksgewys gaan doen word opsy geskuif. Alles gaan ok wees. Ek gaan betyds met alles klaar kry. Ek moet net my kant bring. As mense my nie wil betaal nie, is ek nie verplig om ‘n diens te lewer nie. Pick ‘n Pay deel nie suiker uit vir mense wat nie wil betaal nie, hoekom moet ons bedryf anders wees?

Ek voel hoe die Moegheid my bekruip. Stadig maar seker, op tippy toes, sagkuns sodat ek nie my in ‘n ander bloedgroep in skrik as ek Moegheid gewaar nie. Met ‘n dankbare hart trek ek die gansdons duvet nog hoër op tot oor my neus, draai op my sy en groet Moegheid met ope arms.

Die Dinsdag, toe ek regmaak vir die dag, vind ek myself ‘n liedjie neurie. Psalm 46 (featuring Chelsey Scott) deur Bifrost Artists. Die koor gedeelte staan uit vir my. Be still…. and know…. that I…. am God. Ek besef net weer, dat dit is wat die Here vir my kom sê het in die middernagtelike ure toe die slaap my ontwyk het….

The tumbleweed
Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.