Posted on Leave a comment

Jy is… deel 4

Navy hofskoene, silver grey sykouse. As jy my moet vra wat onthou ek van my skooldrag dan is dit seker maar dit. Ek stap deur die ontvangs, seker maar die eerste keer in 24 jaar weer in daglig, op ‘n weeksdag by die skool waar ek gematrikuleer het in. Hoërskool Goudrif. Ek merk die skoolwapen met die leuse Roepingsbewus op teen die muur en wonder of hy altyd daar was, en reken maar dat ek net te min op skool dáár waar die wapen hang, gekom het om te onthou.

Elsabé Lartz ontmoet my net soos ek uit die kleedkamer uitkom – die personneel badkamer wat verbode grond vir kinders is en nou deel van my grondgebied is waar ek mag beweeg. Dis vreemd, ek was oortuig die kleedkamer was groter as wat hy nou voorkom. Ons stap saam na my kar toe om die goedjies uit te haal wat ek saam gebring het. Sy vra uit na my, watter jaar ek gematrikuleer het, wat my nooiensvan was, het ek kinders. Juffrou Lartz is hierdie jaar 20 jaar by díe skool, ons het mekaar spreekwoordelik met 4 jaar gemis in die gange.

Sy sê vir my dat ek seker nog onthou waar die saal is en laat my voor stap. Die oomblik toe ek by die saal instap, is dit asof 24 jaar verdwyn. Die skaam, onseker matrikulant, is vir ‘n oomblik terug. Ek herroep die aand toe ons in Graad 11 as Prefekte aangewys was, hoe ons geoefen het vir ure en ure vir Revue in die einste saal.

Die verhoog pronk breëbors met die trappe en loopvlakke, reg vir Revue om op hom uit te speel. Die saal ruik nog dieselfde. Is dit nie amazing hoe reuke jou terug kan vat in tyd nie? In my geestesoog sien ek hoe ons nog parallel met die verhoog by ons enkel tafeltjies gesit en Rekord eksamen en later ook eindeksamen geskryf het. Eintlik seker maar al die eksamens in ons matriek jaar? Ek kan wragties nie onthou nie.

Sy vra my hoe dit voel om terug te wees by die skool. My antwoord was een woord Weird. Vreemd. Ek staan en soek die hoofdogters se naambord. Neem ‘n foto vir my sussie wat in 1994 hoofdogter was. ‘n Rukkie later kom die klankspan om ‘n mikrofoon vir my op te stel (wat ek toe later besluit om nie te gebruik nie). Een van die seuns vra of ek musiek het wat ek wou speel. Ek kyk verdwaas na hulle – dis wragties NIE iets waaraan ek gedink het NIE. Musiek en ‘n slideshow. “Miskien volgende keer.” Antwoord ek hulle.

Die klok lui vir pouse, die kinders stap die saal binne. Meer as wat ek verwag, Juffrou Lartz het gesê sy het vir haar graad 12’s gesê om ander maats ook te bring al is hulle nie Verbruikerstudie leerders nie.

Die keer knaag die senuwees so bietjie meer as normaal. Dit voel of ek geoordeel gaan word deur jong hoopvolle kinders oor waar hul nou is en waar hul eendag gaan wees, gemeet aan wat ek vir hulle sê en hoe ek voorkom. Ek weet dis nie waar nie en druk deur die geknaag en gaan voort met my boodskap.

Ek sing selfs vir hulle die liedjie wat ek in die kinderkerk onthou. “Weet jy nie, weet jy nie, jy’s ‘n tempel? Vol van lof, vol van krag, vol van vreugde” handgebare en al. ‘n Paar kyk my aan asof ek nou van die lootjie getik is, ander giggel lekker want hulle weet presies waarvan ek praat.

By verre was hulle my mees interaktiefste gehoor ooit (nie dat ek die al 100 keer gedoen het nie – hierdie is die vierde skool wat ek besoek). Toe ek die Vraag vra – “Wie van julle het geweet Flaminke word nie pienk gebore nie?” vlieg daar heelwat hande op en in die lug.

Saad was gesaai, dit weet ek. Een meisie het selfs, wat vir my gelyk het of sy in trane was, my kom bedank vir die mooi boodskap. Absoluut ‘n Heilige Gees geinspireerde oomblik en alle eer aan God, nie aan my nie. ‘n Ander een se gees was net so oop en ontvanklik, ek het haar ‘n myl ver gesien en dit vir haar gesê ook.

Die wat gekies het om saam met my in die Facebook en Instagram foto te wees het meer as in hul noppies gelyk met hul voorskote. As ek kyk na die foto kan ek die opgewondenheid, gelag en giggel SIEN! Ek kan amper tasbaar die energie van die kinders voel. Ek kan nog onthou hoe dit was om 17 of 18 jaar oud te wees. In ‘n mate mis ek dit, maar aan die ander kant is ek dankbaar dat ek is waar ek is in my lewe.

The more things change the more they stay the same. Dit het ek daardie dag weer gesien. Ek wonder hoeveel asems is al deur daardie skoolgange en klasse? Hoeveel het al daar gematrikuleer? Dit voel vir my ontelbaar baie en ‘n moeilike som om te maak. 24 jaar vlieg verby in ‘n oogwink.

Ek besef net weer dat Onderwysers seker een van díe moeilikste werke onder die son moet hê. Om kinders uit verskillende huislike omstandighede, agtergronde, kulture, gewoontes en wie weet wat nog alles te moet leer sodat hulle VERSTÁÁN en kan eksamen skryf en slaag, is nie almal se cup of tea nie. Nie almal is gemaak vir dit nie, ek is vir seker een van hulle!

My gebed is dat elke leerder, nie net Verbruikers leerders nie, die dag ‘n stukkie saam met hulle kon vat. Dat die Here dit gaan natlei op die regte tyd, sodat die bome sal opkom wat Sy vrugte dra en Pienk Vere vir die Here reflekteer.

Ek dink weer aan die skool se leuse. Roepingsbewus. Ek herkou so bietjie aan dit. Wat beteken dit regtig? Ek reken, direk uit dit uit, om BEWUS te wees van jou ROEPING en waarvoor God jou geroep het.

Hoe interessant is dit nie net nie? Die leuse en die boodskap wat oorgedra is, kom op dieselfde neer. Sit in wat nodig is sodat jy jou werk waarvoor God jou geskape het, kan doen – wees bewus van jou roeping. Die Here is voorwaar AMAZING!!! Mag elkeen wat deur hierdie skool se gange stap, die leuse uitleef in hierdie wêreld waarin ons onsself bevind – nie net in hul beroepe nie maar ook dit waarvoor die Here hulle geskape het en op aarde voor gesit het.

In my gedagtes neurie ek die deuntjie van die skoollied soos ek hom ken en onthou. Die woorde is seker verkeerd wat ek in my kop sing, maar ek sing hom vir myself en weet Roepingsbewus sal ek bly. Sonder dat ek dit besef het, het ek doelbewus my roeping, dit waarvoor God my geroep het, uitgeleef in my lewe na skool, voel dit vir my…

You are… part 4
Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.