Posted on Leave a comment

Jy is… deel 3

Die Jirre lief jou!! Finish & klaar! Lees ek die boodskappie op die bottel volgeprop met bran muffins (kolwyntjies voel soos die verkeerde woord om te gebruik want daar is nie versiersuiker op nie)… ek verkyk my aan die rosies (my gunsteling blom net so tussen ons) wat uit papier gemaak is. Die een uit ‘n ou storieboek se bladsy, wat dit net so ‘n vintage anderste look gee.

Ek probeer ‘n muffin uithaal sonder dat hy heeltemal disintegreer tussen my vingers, dis so vars, dit val omtrent uitmekaar uit! Muffins spesiaal vir my gebak deur ‘n groepie baie spesiale studente. Kinders met ander behoeftes as waaraan ons (of dalk eerder ek) gewoond is. Kinders wat ook hul plekkie onder die son wil claim.

Kinders van ouers wie bekommerd is of hulle dit eendag gaan maak wanneer hulle nie meer hier op aarde is nie. Kinders van ouers wat wonder of hulle ‘n inkomste sal kan genereer wanneer die broodwinner/s nie meer oor die vermoë beskik om te kan sorg vir hulle nie. Ek stap saam met my naamgenoot, Elsie van Staden (saam verwys ek na ons as Elsie tot die mag 2 soos in Wiskundige taal gepraat) deur die gange van Oom Paul Skool in Rustenburg.

Ons stap verby twee kinders, ek hoor die een vra vir die ander een “Is that a new teacher?” en ek neem aan hulle verwys na my. Ek grinnik stilletjies by myself en dink, “Neeeeeee outjie, jy verstaan nie, die tannie na wie jy kyk is nie uitgeknip om ‘n juffrou se werk te doen nie.” Dit vat SUPER spesiale mense om onderwysers te wees in my opinie. En ek voel daagliks of ek my eie kinders faal wanneer ongeduld na vore kom na ‘n lang dag se werk en gesukkel op stadige aanlyn sisteme.

Terug by die skoolgange. Vir die wat dalk nie weet nie, Oom Paul Skool is ‘n Vaardigheidskool vir leerlinge wat vanaf hoofstroom skole verwys word na hulle toe. Goudvissies wat nie kan boomklim soos die kurrikulum verwag van hulle om te doen nie. Dan word hulle in die spreekwoordelike goudvis dammetjie by Oom Paul Skool gesit, gekoester, geleer en opgevoed op hul vlak. Die stroom in die hoofstroom is net TE sterk vir hulle en daar raak hulle verlore in die sisteem.

Maar Oom Paul Skool is verder nóg effens anders, want hulle bied Haarkappery EN Voedselproduksie aan, saam met ander vakke soos ons almal dit ken – NW, SW, tale, daardie tipe vakke. Leerlinge wat in Hoofstroomskole teleurstelling op teleurstelling beleef, word hier met ope arms ontvang. Hulle word skills geleer. Hoe om PRAKTIES met jou hande te werk. Iets wat ek voel deesdae ontbreek. Om in die Ambag opgelei te word.

Almal sit mos deesdae agter ‘n laptop op hul boudjies vir meer as 8 ure per dag (ek in kluis), besig om hul werk te doen en dit terwyl die Ambagte nie noodwendig nog mense oplewer nie (hierdie is nou net my persepsie en ek mag verkeerd wees – ek het glad nie statistieke gaan trek hieroor nie). Mense kan nie meer prakties en fisies die werk doen wat ons wêreld maar eintlik steeds nodig het nie, ten spyte van waar ons is wat tegnologie aanbetref. Ek weet, for the life of me kan ek NIE NAALDWERK doen NIE en nog minder iets fêncy in die kombuis maak.

Maar nie te min. Dinsdag 26 Julie 2022, het die Here vir my die geleentheid gegun om ‘n klein groepie Verbruikerstudie studente te gaan bedien met Sy woord en kennis wat Hy stelselmatig vir my gee en openbaar oor Flaminke. Die hele ding waaroor die Blog en Beroepsvrou draai. Pienk Vere vir die Here.

Ek besef eers later toe ek sit om die inskrywing te maak dat die nerwe wat my gewoonlik so pla voor so ‘n dag (soos ‘n muis wat aan ‘n kabel knaag) glad nie naby was nie. Ek het nie vir een oomblik gewonder en twyfel het oor enige iets nie! Soos wat ek die kinders toespreek en later ook die personneel, haal ek stukke uit die Bybel aan. Nie presiese verse nie, maar skrif wat ek voel die Here vir my koppel aan flaminke, geinterpreteer en in my eie woorde om dit eenvoudig te probeer hou en nie soos ‘n kerkdiens te laat voel nie.

Ek besef toe wel dat ek die heeltyd na Dawid en Psalms verwys as ek praat van die stuk oor bewaar jou hart terwyl dit eintlik Salomo en Spreuke moes wees. An honest mistake en ek glo die Here verstaan en almal het gehoor wat hulle moes hoor.

Net so ietsie ekstra om aan te sluit by die voorskote, en ek het seker al dit voorheen genoem, maar, wanneer die kinders dit aantrek, beoefen hulle ook ‘n geestelike profetiese aksie om hulself te bedek met die borsharnas van geregtigheid. Dit beskerm hul harte soos Salomo gesê het. Moet my ook nie verkeerd verstaan nie – daar is GEEN krag in die voorskote nie. Dis simboliek en hoe die Here vir my gewys het wat die voorskoot eintlik beteken.

Dit neem Flaminke ongeveer 2 jaar om pienk te word en hul bly slegs pienk as hul die regte voedingstowwe inneem….dis dieselfde met ons as Christene. Jy moet konstant die regte goed inneem sodat jy Pienk Vere vir die Here kan hê.

Ek is ook seker dat die skrif uit 1 Thessalonicense 5:21 waar Paulus skryf en sê Beproef alle dinge, behou die goeie – is soos die flaminke wat hul kos filter (omdat hul filtervoerders is) – hulle skei uit dit wat sleg is en neem slegs dit wat goed en reg is in.

Oom Paul Skool is uniek en enig in sy soort. Van Potchefstroom tot Wolmaransstad, tussen Klerksdorp en Brits is daar net een visdam beskikbaar vir al die goudvissies wat net nie kán boom klim nie, en dis Oom Paul Skool. Daar is nog ‘n soortgelyke skool in Krugersdorp en twee in Pretoria. Dis dit sover ek weet en vertel was.

Enig en uniek in hul soort. Lankmoedig en geduldig is hoe ek die Onderwysers by Oom Paul Skool sal beskryf. Dit vat ‘n besonderse mens om ‘n Onderwyser te wees en ‘n Engel om kinders vaardighede te leer soos hier by hierdie plek.

Dit wil tog vir my voorkom of daar wel ‘n stukkie hemel op aarde is, ‘n plekkie waar kinders geplant kan word om te groei om ook hul potensiaal te bereik, om hul plekkie onder die son op te eis. Vir ouers gemoedsrus gee dat hul kindertjies wel ietsie sal kan leer en weet, sodat hulle kan oorleef eendag wanneer ouersorg nie meer moontlik is nie. Daardie plekkie is Oom Paul Skool.

You are… part 3
Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.