Posted on Leave a comment

Om “Bold” te wees… hoofstuk 1

Toe ek aanvanklik hierdie inskrywing begin doen het, het ek by myself gedink dat dit eintlik oppervlakkig is. Amper soos wat dit vir my voel my inskrywing oor my sentimeters wat ek verloor het as oppervlakkig gesien kan word. Tog het iemand vir my gesê daardie spesifieke inskrywing het haar net weer gemotiveer om deur te druk met iets anders…. so dan kan dit seker nie SO oppervlakkig wees nie… kan dit?

Met die wolke dig toegetrek en reën wat liggies val by Magalies Park vakansie oord (waar ons onsself tans bevind) het ek gereken dis eintlik ‘n goeie plek om die kaggelvuur te laat aansteek, onder ‘n kombers in te kruip en die inskrywing, waaroor ek so baie twyfel maar tog aan te pak en klaar te maak.

Soos wat ek een oggend in die stort staan en dink oor so baie goed, insluitend hierdie inskrywing (en die een oor my onbeplande gewigsverlies) voel ek ‘n roering in my gees en die woord transformasie kom by my op.

Ek besef die Heilige Gees wys my dat dit waaroor ek geskryf het eintlik deel van ‘n transformasie proses is om my, Elsie Potgieter, te verander. Van ‘n doodgewone letter in ‘n dokument wat net saam met ander vloei en nie regtig uitstaan nie, na ‘n hoof vetgedrukte (in Engels noem ons dit Bold en ek weet eerlik nie wat die mooi Afrikaans vir Bold is nie) letter toe wat uitstaan bo die ander en meer opvallend is.

Sjoe, die vorige sin het my skoon uitasem en ek het dit nie hardop geuiter nie! Ek hoop die kommas is almal op die regte plekke sodat die leser dit kan lees EN asemhaal. Nie te min. Die punt wat ek probeer maak is, die Here is besig met ‘n transformasie in en deur my en dit gaan natuurlik in die vlees begin manifesteer (op ‘n goeie manier nie die slegte manifestasies nie, soos ons geneig is om te koppel aan die woord manifesteer).

Jy sien, die wêreld waarin ons leef is deesdae ‘n fast paced, fast moving plek. Amper alles gebeur op sosiale media. Daar is soveel platforms tot ons beskikking, dat mense eintlik oorweldig voel deur als en eintlik nie weet eers waarna om te kyk wat sinvol is nie.

Soos julle dalk mag weet, het ek ‘n Masterclass by Alétte Winckler in April bygewoon, en in hierdie voorlegging het sy ‘n klomp stats gegee oor goed. Hoe lank dit vat om ‘n indruk te skep, dat vrouens eintlik aantrek om ander vrouens te beindruk, eerder as hul mans (want ons bly in hierdie kompeterende spasie).

Mevrou So en So móét maerder wees as die een langs haar, mooier, beter hare, grimering, klere, you name it, dit moet beter wees. En laat ek jou vertel, as Mevrou Dit en Dat nie op standaard voel nie, want sy het haar kinders by die skool gaan afhaal in haar slippers (dit klink net beter as pantoffels) huiwer sy nie om enige iemand anders wat beter as sy geklee is te bespreek en kommentaar oor te lewer nie. Die gesprekke begin bloot omdat sy daardie dag gekies het om nie grimering aan te sit nie en dalk ook skoene ontbreek en nou voel of sy afsteek teen ander.

Terug by my punt wat ÉK wil maak. Die transformasie is besig om te gebeur. Ek het nie op ‘n dag opgestaan en besluit – teen hierdie datum in 2022 wil ek soveel sentimeters verloor nie. En teen daardie datum in 2020 moes ek nou al dit, dat en die volgende gedoen het om te transformeer in die uiterlike nie.

Nee, dis amper vir my soos my een juffrou op skool gesê het – elke dag se bietjie elke liewe dag. Bietjie vir bietjie is die Here besig om my te rek en strek en uit my gemaksone te skuif sodat ek Sy werk kan doen waarvoor ek geroep is deur Hom.

Wie nie waag nie sal nie wen nie. Soms moet ons uit die blokkie wat ons om onsself getrek het tree. Jy weet – uit jou comfort zone uit. Dit begin by iets eenvoudig soos om jou hare te verander wat jou net die bietjie confidence gee (ek kan nie dink aan die Afrikaanse woord nie en die Engelse woord maak net ‘n beter indruk voel dit vir my).

Dit waaroor ek skryf, se doel is om ander te stig en te motiveer. Ons almal is in hierdie rot-resies vasgevang. Die balans voel vir my is net nie daar nie. Tussen werk, kinders, oefen, kos maak en gesond eet en alles tussen in, is daar bitter min tyd om werklik tyd saam met God te spandeer.

Tog is die tyd saam met Hom belangriker as al ons vleeslike behoeftes. Baie wat my inskrywings lees, is werkende mamma’s. Voltyds in ‘n very demanding line of work. Tyd vir oefen is daar nie! Wat nog te praat van gesonder eet EN dan nog tyd saam met die Here? Nie eens al die ander goed wat ons aan moet voldoen en tyd aan spandeer in ag geneem nie!

Ek bid steeds dat dit waaroor ek skryf mense sal bemoedig en laat weet you are not alone. Ons is almal daar. Ons moet die tyd maak! Ek voel as ek dit kan doen, kan enige iemand dit doen! Dit laat my dink aan ‘n liedjie geskryf deur Josh Wilson – That was then, this is now. Ons almal was iewers en het met tyd verander en (hopelik) nader aan God beweeg in die proses.

Word vervolg…

Being Bold… Chapter 1
Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.