Posted on Leave a comment

Die stoomtrein

Soos wat ek hier agter my rekenaar inskuif, met die laat middag son wat deur die venster oor my sleutelbord (hoe is dit nou vir ‘n mooi Afrikaanse woord eerder as keyboard soos ons maar geneig is om die Engels in te gooi tussen die Afrikaans wanneer ons praat?) kom daar ‘n gedagte by my op.

Ek sien ‘n treintjie wat teen ‘n bult uit ry, hy stoom hard en aanhoudend en ek hoor die geluid wat hy maak Ek-weet-ek-kan-ek-kan-dit-doen-ek-weet-ek-kan-ek-kan-dit-doen eerder as die tjoekoe-tjoekoe-tjoekoe geluid wat ‘n stoomtrein gewoonlik maak. Ek weet nou nie of dit dalk per ongeluk ‘n prentjie uit my kinderdae is wat ek dalk iewers gelees het of ‘n storie gekyk het nie maar ek weet wel dat die Here dit vir my gewys het vir ‘n doel.

Nie te min, die sonnetjie is HEERLIK hier en ek besef net weer HOE bevoorreeg ek is om nou op hierdie oomblik hier te wees. Die maand se skrif is weer een van my gunstelinge uit Filippense uit. Ek is tot ALLES in staat deur Christus wat my krag gee.

Jy sien, soos die treintjie, voel dit soms vir my, en ek is seker vir ander ook, of ek hierdie moewiese bult van die lewe moet uitklim om bo uit te kom. Langs die pad is daar uitdagings, nêrens in die Bybel word ons gevrywaar van ‘n lewe sonder uitdagings nie. Maar, ons word wel gewaarborg dat God aan ons sy is, en ons goed kan doen met Hom wat ons krag gee.

Ons moet kies hoe ons die uitdagings sien. Die spoorlose pad wat ons soms voel ons moet volg, onseker oor waarheen ons moet gaan en of ons wel op die regte pad is. Of die slaggate wat maak dat ons net so effe stadiger moet ry en nie vinnig genoeg na ons sin aan die bo kant van die bult uit kom nie.

Weereens is hierdie skrif vir my op hierdie tydstip net so akkuraat, ek kan nie anders as om die Here ‘n fist pump te wil gee vir die een nie. Jy sien, soos my vorige inskrywing gelui het, weet julle seker nou dat die dinamika in die firma verander het en goed weer terug land op my tafel. Soms wonder ek of ek dit regtig alles sal kan behartig en ander kere dan weet ek net dat ons sal ok wees.

Die Here is besig om vir ons die pad te wys en die steenkool in ons enjins te sit en aan die brand te steek, sodat ons die bult wel kan uitklim en bo uit kom. Wanneer ek mismoedig raak oor alles en nog wat, wat ek moet doen en hanteer, veranderinge van owerhede, sisteme wat sommer net nie lekker is nie, in my opinie (as ek nou my opinie kan en mag gee), dan kyk ek na die skrif vers en sien ek die trein.

God se trein. Ek is Sy trein wat, soos wat ek die bult uitbeweeg, rook by my enjin laat uitkom wat ‘n teken is dat ek Syne is en dat Sy vuur in my brand (nou nie lugbesoedeling tipe rook nie – ek is seker julle verstaan wat ek bedoel). Rook wolke wat ‘n sein vir ander treintjies stuur om hul steenkool gelaai te kry, opgevul met God se woord en aan die brand te kry, deur die Heilige Gees, sodat hulle ook hulle bulte kan uitklim.

Waar staan jou treintjie? Voel jy of jy nie meer kan nie? Het jy genoeg steenkool om te brand? Miskien moet ons daar begin! Jy kan nie op fumes hardloop en die bult uitkom nie. Jy moet sorg dat jou enjin met God se woord opgevul is, sodat die Heilige Gees die vuurhoutjie kan brand wat die steenkool laat verander in energie. Dis slegs dan wat Filippense 4:13 geaktiveer kan word in jou lewe en jy in staat is om alles te doen deur Christus wat jou krag gee.

Ek-weet-ek-kan-ek-kan-dit-doen-ek-weet-ek-kan-ek-kan-dit-doen hoor ek my enjin kreun teen die stywe bult wat ek voel voor my lê. Miskien is hy nie so styf en styl nie? Miskien is ek net nog nie naby genoeg om te weet dat dit eintlik net ‘n klein hoogtetjie is nie. Maar tot dan gaan ek die skrif vers herhaal. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.

The steam train
Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.