Posted on Leave a comment

Die einde van ‘n seisoen

Ons almal weet daar is verskillende seisoene en dat hulle tot ‘n einde kom en oorgaan in ‘n volgende een. Nie net fisiese seisoene soos somer, winter, herfs en lente nie. Nee. Emosionele en geestelike seisoene ook.

Soos wat dit in Prediker 3 uiteengesit is, dink ek Salomo het DIEP gedink oor goed en dit neergepen vir ons om dekades en generasies later te kan lees. Toe ek jonger was, het baie goed wat hy geskryf het glad nie sin gemaak nie.

Maar noudat ek ouer word, dalk wyser ook en ek glo soos wat ek nader aan God beweeg, begin soveel meer goed vir my sin maak. Jy sien, as jy jonk is, glo jy ‘n paar onwaarhede. Soos dat 40 ongelooflik ver is. Mense wat 24 jaar terug in matriek was stokoud is. En dat die lewe dieselfde gaan bly vir ewig.

Nou ja. Op 41 weet ek dat 40 baie nader is as wat ek ooit kon dink en dat 50 ‘n katspoegie ver is, voel dit vir my. Ek IS nou deel van die mense wat 24 jaar gelede gematrikuleer het, ek voel nie stokoud nie, so daardie stelling kan ook nie waar wees nie.

Die grootste onwaarheid wat daar bestaan, is dat die lewe dieselfde gaan bly vir ewig. Dis eintlik twee onwaarhede vervat in een. Eerstens bly die lewe nie dieselfde nie en tweedens niemand leef vir ewig nie.

Wat probeer ek nou eintlik sê met al my filosofiese oordenkinge? Wel, vandag is ‘n curve ball my kant toe geboul en nou moet ek die hou speel. Ek hoop ek slaan hom vir ‘n 6, maar ek sal eers later weet, nie nou al en so vinnig soos in ‘n 20/20 krieketwedstryd nie.

Jy sien, die dinamika in ons firma gaan verander. My klein sussie, sister from another mister, die klerk (wat lankal nie meer ‘n klerk is nie) se vlerke moet gesprei word. Sy is reg om die nes te verlaat. Haar ligspore te saai in die wêreld in.

Ek hoop sy het genoeg gelaai by ons, nie dat ons die hoofbron van energie en lig is nie. Maar ek glo ons was (en is) soos een van die stasies waar jy jou kar kan herlaai (die elektroniese soort) om jou verder te vat na die volgende deel van jou reis.

Ek glo dat ons wel ingeprop is by die Hoofbron, God en dat ons wel Sy boodskap en wil kon oordra soos wat ons gewerk het. Ons het baie gelag, minder gehuil en baie uit frustrasie met omstandighede buite ons beheer net vir mekaar gekyk en aan beweeg met dit wat ons moes doen.

Ek meen, watter werkgewer vra op haar kombuistee vir ‘n vriendin van die bruid of sy saam met haar werk (terwyl sy saam met my gewerk het)? Ons lag nou nog oor my dowwe oomblik wat ek gehad het. Maar dis hoe ek haar gesien het – eerder as ‘n kleinsussie of vriendin as ‘n werknemer.

Ek bid dat ons haar toegerus het met die wêreldse kennis wat sy kon opdoen i.t.v. haar opleiding en kwalifikasie. Dat sy meer as net ‘n aanwins kan wees vir enige werkgewer. Was dit nie Richard Branson wat hierdie awesome quote gehad het nie?

Train people well enough so they can leave. Treat them well enough so that they do not want to. Ek hoop regtig dat ons die eerste deel van die quote wel aan voldoen het en dat die rede vir die weggaan nie is weens ons mishandeling nie.

Maréchelle, jy gaan gemis word. Ek het jou sien grootword voor my oë. Van ‘n skaam onseker 21 jarige dogtertjie voel dit vir my tot ‘n volwaardige vrou en mamma met selfvertroue, kennis en wysheid. Bly die persoon wie jy is. Trap diep spore in ander se harte soos jy in ons harte getrap het. Belangrikste van alles – laat jou lig skyn, so helder as wat hy kan skyn.

Met heimweë kyk ons nou hoe die babavoëltjie reg is om haar vlerke te sprei. Ons het ons groete gegroet en huile gehuil vandag. Lynette Berger van Probeta en EI Activator het gesê dat iemand vir haar gesê het Jump but build your wings on the way down. Daar is nooit ‘n regte tyd in mens se lewe nie. Jy moet net die Here vertrou vir besluite wat jy geneem het. Maréchelle, mag jou vlerke gebou word soos wat jy die sprong neem! We are rooting for you from the sidelines!

The end of a season
Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.