Posted on Leave a comment

Die koffie, die sentimeters, die oefening en alles tussen in.

Maandagoggend staan ek op. Moeg, soos altyd voel dit, en sleep weer myself om te gaan sit voor die rekenaar. Ek sukkel om aan die gang te kom. Voel oorweldig deur als wat moet gebeur. Veral Maandae voel vir my kort. Ek sukkel gewoonlik na ‘n naweek om weer te werk en soms kort ek ‘n naweek na ‘n naweek om te recover van die besig wees die twee dae voor dit.

Terwyl ek my grimering doen gaan daar, wat voel soos 1 miljoen goed, deur my gedagtes alles op dieselfde tyd. Wanneer gaan my eie hare nou lekker dik en lank wees soos wat dit was voor die Pandemie (en dalk nog voor my ma se dood)? Wanneer gaan ek weer by ‘n winkel kan instap en net ‘n denim koop en weet hy pas? Sonder dat dit lyk of ek van die kas af ingespring het om in die broek te pas? Hoekom skryf ek ‘n Blog? Baat mense by dit? Spandeer ek genoeg tyd saam met God?

Wat is op my beplanning i.t.v. werk vir vandag en die week wat voorlê? Het ek REGTIG gewig en sentimeters verloor? Jok almal nie vir my nie? Ek kry dan steeds nie ‘n denim wat lekker pas nie. The joys of being an A-shaped body type. Wat as al die koffie wat ek so lekker aan weglê in die winter my eintlik vetter maak en teen al die oefening werk? O genade, ek het BAIE beskuit geëet die afgelope ruk!!! Ek gaan soos ‘n stuk deeg begin uit rys…

Spandeer ek genoeg tyd aan my kinders? Leer my kind genoeg vir skool? Moet ons nie nog iets doen om hom te help nie? Jitte, ek moet seker weer een of ander tyd my hare was, my kopvel jeuk. Ek werk uit in my kop oor die hare was (ja regtig dit kort ook beplanning voel dit vir my). Ek oefen vandag en Woensdag so dit help nie om dit vandag of voor Woensdag te was nie. My dag is kort vandag! Wat gaan ek vir my man kry vir sy verjaarsdag? Ek mis my ma. Ek wonder oor my twee susters en of hulle nou lekker bly. Ek dink dit sal lekker wees om te trek. Of sal dit? Urgh, wie gaan al die uitsorteer en wegsmyt werk doen? Ons gaar dan goed op wat eintlik lankal weggegooi moes wees!!

So gaan daar net nog meer en meer gedagtes deur my en okkupeer my terwyl ek klaar maak om die dag aan te pak. Dit frustreer my om elke dag te moet grimering doen, al is dit net die minimum, dit voel of dit tyd mors. Maar ek loop nie graag sonder grimering nie, ek hou nie van vaal voel nie. Ek hou van mooi maak. Dit frustreer my nog meer om so baie tyd te spandeer om hare droog te blaas. Dit mors ook tyd maar ek lyk soos ‘n leeu wat sy vinger in ‘n prop gedruk het as ek nie dit netjies maak nie.

Ek besef daar hang ‘n effense wolk oor my, iets wat redelik min deesdae gebeur in vergelyking met toe ek jonger was. Ek kan nie vir jou sê wat is die wolk se naam nie, maar hy is daar. Ek gaan aan en werk en doen my ding. Trek aan om te gaan oefen, ry Harties toe, verheug om weer ‘n metgesel in die Mom’s class te hê. Iets wat ek 6 weke laas gehad het. Of is dit nou 8 weke? Die tyd vlieg so verby ek hou nie meer tred nie.

Vir 6 (of 8) weke of hoe lank ookal dit mag wees, oefen ek alleen. My mede moms in die Moms’ class het almal net verdwyn. Net so poof in ‘n oogwink, na die April vakansie, toe is dit net ek. Ek wonder of die wegraping gebeur het wat oefen betref? Is ek die enigste een wat nie die cut gemaak het vir die wegraping nie? Daar was so een of twee keer iemand anders, maar sy het maar besluit om op te hou oefen op die tyd wat ons doen, want sy het altyd werksvergaderings wat gewoonlik nie by hul tyd hou nie en dan mis sy klas.

In hierdie 6 tot 8 weke wat ek alleen geoefen het, wou ek al baie keer moed opgee. Ophou oefen. Ek werk in my kop uit dat ek 2 ure per week spandeer om heen en weer te ry om te oefen. Ek is seker ek kan baie meer in daardie tyd by die huis doen, dalk nog langer self oefen. Yeah right antwoord ek myself in die proses ook. Dis nie lekker om alleen te oefen nie. My kinders is nie daar nie (hul klas is toe tot Augustus toe), al my mede moms is weg, dis net ek en die afrigter. Daar is niks fout met haar nie. Ek ken haar net nie. En sy ken my nie. Die eerste oefening wat sy my laat doen het, het ek gedink Seriously, moet ek nou sulke ligte gewigte optel? Ek kan swaarder.

Ek sê maar toe vir haar dat sy welkom is om my te druk om meer en swaarder te oefen – ek sal sê as ek nie kan nie. Ek verstaan sy het nie ‘n idee waar my fiksheidsvlak is en waartoe ek in staat is nie en daarom dat ons so lig begin het. Soos wat die tyd aangaan, het ek begin gewoond raak aan die alleen oefen, dit eintlik begin geniet. Ek het nog nooit personal training beleef in my lewe nie, en dit was heerlik gewees! So ‘n ou blessing uit God se hand, net sodat ek ook eendag op my CV kan skryf – received personal training (nie dat ek nou sulke goed op ‘n CV skryf nie maar ek is seker jy verstaan wat ek bedoel). Ek het nie eens ‘n CV nie. Anyway MOVING ON!

Dit was asof sy die oefeninge customise vir my en al my probleem areas! Sy forseer my om te draf. Die eerste paar keer gee ek haar so bietjie lip want ek hou niks van draf nie. Maar ek doen dit tog. Ek begin dit eintlik geniet, die drawwery nou – steeds nie MAL oor dit nie maar ek weet dit doen iets vir die doel waarheen ek werk. Al kan ek soms nie een tree voor die ander gee na ‘n rondte se oefening nie, is die draf lekker op ‘n unieke manier. Om kop te kan skoonmaak op ‘n manier en net recover na die harde werk in die WOD.

Na die oefening Maandag, word ek gemeet. Ek sweet alweer op vreemde plekke, soos wat ek gedoen het sedert ek personal training onwillekeurig ontvang het. Marisa is so opgewonde toe sy my eerste mate neem – om my middel. Ek het 8 sentimeter verloor! Ek kyk so na haar en dink eers sy maak ‘n grap. Sy knyp en meet verder op weird plekke wie se name ek nie kan uitspreek nie en skryf alles neer. Ek voel hoe die wolkie begin lig wat oor my kop gehang het – was ek die heeltyd, onbewustelik nervous oor my meting en dat ek eintlik niks sou verloor nie?

Ek ontvang vandag, Donderdag 16 Junie 2022 die resultate. ‘n Totaal van 23,5 cm wat verloor is (dis nou bygesê as ek die regte resultate verdubbel het want ek het twee arms en bene en net een van elk was gemeet). Regtig? Kan dit wees? Ek het dan regtig nie doelbewus ‘n gewigsverlies ding aangepak nie. Ek meen, ek oefen omdat ek graag maerder wil word maar omdat ek vir 2 jaar eintlik nie regtig in my opinie sentimeters of gewig verloor het nie, het ek begin dink ek is maar dan een van daai mense wat maar net oefen om nie dikker te word nie. Ek sal maar Dik-a-licious bly soos my man soms grap en die liedjie van Snotkop sing om my op te beur as ek mismoedig voel oor my gewig.

Met ‘n dankbare hart het ek ‘n ietsie ontwerp om die twee resultate teen mekaar af te speel sodat mens nog beter kan sien waar ek wat verloor het. Ek deel dit graag met hierdie inskrywing. Ek het ook gaan tel oor hoeveel weke dit was sedert my eerste meting tot die afgelope week. Dit was 7 en ‘n halwe weke terug dat ek gemeet het en amptelik by Marisa begin oefen het. Net so tussen ons – ek het nog nooit in my lewe gemeet soos wat sy my gemeet het nie – dis alles ‘n nuwe konsep vir my. In die tyd het ek nie altyd 2x per week geoefen nie a.g.v. vakansie dae en ‘n seer keel, varkgriep, bronchitus en wie weet wat nog wat ons terug gehou het sodat ek en Marisa nie kon oefen nie.

Ek is in my hart oortuig, as ek beter geëet het en 2x per week geoefen het in die tyd, dat die resultate nog meer sou wees. Ek is super opgewonde vir die reis wat voorlê. Uiteindelik voel dit vir my of ek op die regte pad is. Ek drink steeds my koffie, ‘n volroom melkkoffie nogal en meer as een per dag. Ek het wel gesny op dit, stysel inname in die week en leë kalorieë in die vorm van sjokolades, sout happies, skyfies, en so meer. Ek moet nou net weer doelbewus werk aan my beskuit inname. Liewe hemel maar ek is lief vir beskuit saam met ‘n heerlike volroom melkkoffie!

Ek dink nie ek is al DAAR wat kos aanbetref nie! Ek weet ek kan beter. Met die Here se hulp en leiding kan ek verseker nog meer verbeter. Maar, ek voel in my hart dat ek klein veranderinge moet doen oor ‘n tydperk, lifestyle changes jy weet? Eerder as massiewe aanpassings op een slag. Ek kan net nie cope met te veel verandering op een slag nie. Elke dag se bietjie elke dag.

Twee maal per week oefen vir langer tye het tog ‘n goeie resultaat! Ek kan nie vyf dae ‘n week oefen soos ek graag sou wou nie. Soos wat ek hier afsluit, besef ek, dat die Here een van my hartsbegeertes laat waar word het, sonder dat ek heeldag en aldag oor dit geneuel het by Hom. Ek het so ‘n paar jaar terug met leep ogies gekyk hoe ‘n vriendin haar gewigsverlies resultate op Facebook geplaas het, die Groot T-hemp teen die grootte wat sy nou dra afgeneem het. In verwondering gestaan, tien teen een terwyl ek weer ‘n stuk beskuit in my mond geprop het en glad nie geoefen het nie.

Ek kyk weer na my opskrif vir hierdie inskrywing. Ek grinnik by myself. Ek reken ek het oor alles tussen in ook gepraat. Ek besef net opnuut dat God in die detail is, soos altyd. Hy weet wat Hy vir ons beplan. Planne van voorspoed en nie teëspoed nie. Al is dit iets onbenullig soos om fikser te word, gewig te verloor, ferm te word. Iets wat ek altyd gesê het ek EENDAG sal doen. Wel, my EENDAG het gearriveer en dit was ook omdat ek iets daadwerkliks omtrent dit begin doen het en nie aanhou sanik het met ‘n sjokolade in die een hand en ‘n Coke in die ander hand nie, dit alles terwyl ek glad geen oefening ingekry het nie.

The coffee, the centimeters, the exercise and everything in between.
Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.