Posted on Leave a comment

Werke in die wolke…

Hierdie maand se skrif vers kom uit Spreuke uit. Dis vir my so interessant, dog nie verbasend nie, dat die skrifverse vir elke maand op die desk pad kalender, so van toepassing is (of is dit nou was?) tot dusver.

Laat jou werke aan die Here oor, dan sal jou planne uitgevoer word. Ek het al baie gedink hieroor en wat dit nou eintlik beteken. Dankie tog ek het ‘n bybel toepassing (fêncy woord vir application) op my foon wat verskillende vertalings kan vergelyk. Ek gaan lees hom in die Amplified weergawe.

Daar gaan ‘n beter en helderder liggie vir my aan toe ek dit in hierdie weergawe lees. Die interpretasies in hakkies langs elke deel in die skrif vers verduidelik dit so bietjie beter voel ek. Jy sien, dit sê nie jy moet agteroor sit en niks doen nie. Jy moet nie sit en wag vir jou spreekwoordelike skip om in te kom nie (om later agter te kom jy was die heeltyd by die lughawe of treinstasie terwyl jy eintlik by die hawe moes wees nie). Of wag vir die tyd om reg te wees nie.

Nee, glad nie. Jy moet jou werke, dit wat jy doen, voor die Here se voete plaas en dit aan Hom toevertrou. Jou planne en werke sal deurgevoer word wanneer jy aan Sy wil onderdanig is en na Sy leiding in jou lewe luister.

Ek het Mei maand baie gewonder oor iets (wat ek gevoel het die Here op my hart geplaas het om te doen) en moet ek of moet ek nie. 30 Mei 2022 ontvang ek ‘n video van iemand via Whatsapp. Ek kyk hom nie dadelik nie, want dit het in werkstyd gearriveer en ek moet mos nou werk in daardie tyd, nie Whatsapp video’s sit en kyk nie. So gaan die dag verby en ek vergeet skoon om die video te kyk.

Daardie aand, seker so 7 uur, ontvang ek presies dieselfde video van ‘n vriendin af wat nie die ander persoon wat dit die oggend vir my gestuur het ken nie. Daar was geen manier dat my vriendin enigsins kon weet dat ek dieselfde video ontvang het vroeër die dag nie. Maar die Here het wel dit geweet. Jy sien, ek het gebid en gevra vir ‘n teken vir dit wat ek voel Hy op my hart geplaas het om te doen.

Toe ontvang ek dit op ‘n heeltemal ander manier as wat ek verwag het. Ons is soms so narrow minded en wil soos Gideon ons presiese antwoord en teken van God te ontvang soos ONS dit wil hê en dink dit moet wees. Die inhoud van die video? ‘n Prokureer wat getuig hoe hy op ‘n klein vliegtuig gevlieg het saam met ‘n vliënier wat bewusteloos geraak het toe hulle in die wolke in gevlieg het.

Lang storie kort, hy en die ander passasier in die vliegtuig kry toe ‘n beheertoring in die hande deur die radio en daardie persoon het hulle gelei in die wolke, hulle gewaarsku teen ‘n berg waarin hulle sou vasvlieg as hulle nie van koers verander het nie. Dit was vir my so profound gewees om dit te hoor. Want dis presies hoe ek voel in my lewe.

Dit voel of ek in digte wolke vlieg, onseker waarheen ek oppad is met Beroepsvrou. Ek weet wel dat ek na my instinkte moet luister want my instinkte kom van die Here af. Hy is besig om my te lei. Toe ek twee dae later die skrif vir Junie lees op my desk pad, staan ek net in verwondering. Oor God en hoe groot Hy is. Hoe sou ek enigsins laas jaar geweet het, toe ek die desk pad se skrif verse randomly toegeken het aan elke maand, dat die een vir Junie perfek sou wees vir wat in my lewe gebeur?

Sommige dae voel die wolke digter as ander. Ek weet net ek moet na my Beheertoring se stem luister. Hy kan alles sien. Ek kan skaars drie treë voor my sien. Al maak dit wat ek moet doen nie noodwendig sin op daardie oomblik nie, weet ek net dat as ek dit nie doen nie, ek in ‘n berg sal vas vlieg.

Ek kan nie die Persoon in die beheertoring sien nie. Maar ek kan na Sy stem luister, Sy instruksies volg, ongeag wat besig is om te gebeur om my. Ongeag of dit voel of daar nog meer digte wolke besig is om in te beweeg. Dit sluit vir my so mooi aan by die maand se skrif. En laat my net weereens besef HOE GROOT God is!

Laat jou werke aan die Here oor, dan sal jou planne uitgevoer word. Vertrou Hom. Luister na Hom. Al maak goed nie sin nie. Al gooi die lewe curve balls na jou toe wat jy nie verwag nie. Die Here is reeds in môre en volgende week en volgende jaar. Hy weet wat gaan gebeur. Soms laat Hy goedjies in plek val sonder dat jy besef wat besig is om te gebeur.

Tot my grootste frustrasies by tye gebeur dinge wat ek nie altyd verstaan nie. Maar dis in hierdie situasies wat ek die Here moet vertrou en na Sy stem moet luister, Sy instruksies volg, hoe vreemd dit ook al mag klink en lyk vir my en die om my. Soos wat die wolke in rol, klink dit of my frekwensie by tye krapperig raak en ek nie die Beheertoring lekker duidelik kan hoor nie.

Ek verstel dit deur die Bybel te lees en God se hand in goedjies en daaglikse bybel verse te soek. God is in the detail. Ek gaan sit en blog want dan is dit asof my frekwensie weer reg gestel word en ek beter kan hoor. Soos wat ek afsluit, weet ek net binne in my gees, dat die besluit wat ek tog wel geneem het na die video wat ek ontvang het, die regte een was.

Die wolke kom steeds in en die duiwel probeer die Stem stil maak met distractions maar ek weet wat ek moet doen. Dit is wat dit is, dis my bestemming, my bestuuring. Die plek waarheen my (en ons as gesin) se lewens oppad is. Ek bid maar net vir min turbulensie en dat ons nie naar sal raak soos wat ons deur alles gaan nie en dat ons wel sterker aan die ander kant sal uitkom (soos wat ons maar altyd doen wanneer ons deur dingetjies gaan in ons lewens). Ek maak seker dat my radio se frekwensie reg is, voordat ek die volgende deel van die vlug, in wat soos digte wolke voel, aanpak.

Working in the Clouds…
Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.