Posted on Leave a comment

Want Ek weet…

Met ‘n ongelooflike dankbare hart, skeur ek Arpil (jip jy lees reg met ‘n spelfout) se bladsy af en gooi die GROOTSTE FOUT in die asblik. Waarvan praat ek? My desk pad kalender, deel van die Pienk Vere reeks wat ek ontwerp en verkoop het.

April se bladsy het woes gelyk. Omgekrul aan die een kant en vuil gesmeer soos dit maar aan die einde van elke maand lyk by my. My nota’s blok was die maand vol geskribbel.

Interessant hoe ek vir jare sonder een gewerk het en nou amper nie sonder dit kan funksioneer nie. Elkgeval. Terug by Mei maand se skrif en inskrywing.

Dit is seker een van my gunsteling verse. Die een vir Mei. Waar die Here sommer so direk met elke mens praat. Nie net sekere mense nie. Almal. Sy volk. Hy weet watter planne Hy vir ons koester.

Dit maak my kinderlik opgewonde, al voel ek soms gefrustreerd met goed en hoe die lewe werk. Ek weet wel dat die Here se planne vir my VOORSPOED is en nie teëspoed nie. Al voel dit soms meer soos teëspoed as voorspoed.

Ek wonder baie oor die bybelvers en wat die Here eintlik met dit bedoel. Voorspoed op aarde of voorspoed vir die res van ons lewens, na die dood ingesluit?

Ek dink dis van beide. Terwyl ons ‘n oogwink op aarde is en dan ook die oneindige ewigheid na ons tyd op aarde. Jy sien, ons dink dalk dat ons nou suffer omdat ons nie alles het wat ons wil hê nie en omdat dinge gebeur soos dit doen.

Maar ek besef opnuut, dat ons eintlik moet uitsien om te sterf ook. Die tyd ná ons tyd op aarde kan nie anders as om voorspoedig te wees nie. Ons gaan dan Hemel toe. Na Hom toe. Ek sê nou nie almal moet soos Depressie Hessie rondloop en mor en mompel oor alles hier en eintlik maar net wag om dood te gaan nie (soos my ouma-grootjie my altyd geantwoord het as ek haar gegroet het nie – dis ‘n storie vir ‘n ander dag).

Nee! Leef voluit! Spreek aan dit wat aangespreek moet word in die Gees en eis dit wat geëis moet word. In die proses moet jy vir mense wys wat dit is om ‘n ware Christen te wees. Hulle help om uit te sien na die voorspoedige planne van God af. Soms is ons as Christene so dik-bek (by gebrek aan ‘n mooier meer ordentlike woord) dat mense wat nie Christene is nie, net een kyk vir ons gee en dan by hulself besluit “Nee dankie! As dit is hoe ‘n Christen lyk wil EK nie een wees nie!”

Ek het eers iets anders hier getik, heeltemal van die onderwerp af en besluit toe om dit uit te wis (hoe is dit vir pragtige Afrikaans?) en eintlik net meer te fokus op dit wat die Here in my hart vir my sit oor die vers. Interessant hoe maklik en vinnig mens eintlik distracted kan raak met dit wat die Here vir jou wys en dan begin jy die leuen glo…

Die Here WEET ALTYD BETER. Lees dit weer. Al voel dit hoe en wat en waar in jou lewe, glad nie soos JY beplan het dit moet wees nie. Wees gerus. Die Here weet beter. Ons as mense is ALTYD net daar waar ons moet wees. Die Heilige Gees het ook gefluister vir my, soos wat ek loop en dink oor die inskrywing, dat ons as mense, ons hoop, geluk en toekomsplanne eerder op mense plaas as Hom.

Ons geluk, tevredenheid met die lewe, en soveel ander dinge, word bepaal deur mense – so dink ons en gaan ons deur die lewe. Die mense is soms onsself en soms ander mense. Maar eintlik is dit so ‘n wan-persepsie – dat ons eers gelukkig sal wees as dit en dat en die volgende gebeur….

Soms vertoef ons langer in situasies, want ons slaag nie die toets nie. Ons val hook, line and sinker weer vir wat ookal ons uitdagings is. Ons moet leer om te luister, Hom te vertrou en dat Hy vir ons sal gee dit wat ons nodig het en wanneer ons dit nodig het.

Ons verstaan nie altyd hoekom goed nie uitwerk soos dit moet nie. Maar as ek terug kyk, kies ek om God se hand te sien in alles. Dankbaar te wees vir my eie persoonlike groei in die proses. En dan aan te hou vorentoe kyk en te wag vir Sy perfekte tydsberekening. God is always terribly on time.

Die fluistering in my gees hou aan… Ek weet…. (klem op die Ek in die sin – dis nou die Here wat hier praat as jy dalk nie volg nie) nie Sannie weet of enige ander naam wat jy aan kan dink nie. Nee, die Here spreek hier, in die eerste persoon is dit? Want dis HY wat weet. Soos met April se skrif vers dink ek nie hier gaan hoofstukke en hoofstukke wees oor die skrif nie.

Nee, dis so eenvoudig soos dit. Vertrou Hom want Hy weet watter planne Hy vir my en jou koester. Planne van voorspoed en nie van teëspoed nie. Planne om my en jou ‘n hoopvolle toekoms te gee. Hoopvol. Hou aan met glo, droom en hoop hoor ek die Heilige Gees se fluistering in my binneste…

For I know…
Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.