Posted on Leave a comment

“Worrier” of “Warrior”… watter een is jy?

Die opskrif is in Engels, bloot by gebrek aan ‘n soortgelyke standpunt in Afrikaans…maar terug by wat ek wou sê – die ander dag het ek ‘n Bybel plan gelees op my foon (in Engels), waar hulle iets gepraat het van ‘n worrier. Dit het my laat dink. Soveel so dat ek HEELTEMAL vergeet het om die artikel klaar te lees!

Terug by om ‘n worrier te wees. Ek het dadelik gesnap wat hulle bedoel en impliseer het. ‘n Worrier is iemand wat konstant bekommerd is, dag in en dag uit. Toe begin ek hierdie gesprek met die Here, soos ek altyd maak.

Ek kan nie onthou wat ek van my kant af gesê het nie, maar toe ek sê Worrier, kry ek, so te sê onmiddellik ‘n teen-aanbod, van die Heilige Gees af. Ek kry toe die woord Warrior. Nou wanneer jy beide hardop sê, klink hulle dieselfde maar hul betekenisse is so wyd versprei van mekaar. Ons noem dit mos homofone in Afrikaans doen ons nie?

Natuurlik was dit alweer ek en tannie Google. Die eerste poging om die prentjies vir die woorde op te soek was ‘n ramp en ek was amper in sak en as oor die stuk wat ek wou skryf, want dit sou nou voel of die inskrywing ‘n lugleemte in het. Gelukkig probeer ek weer en kry toe dit waarna ek soek.

Die prentjies was ‘n uitdaging. Maar, ek het gevind, wat ek voel, die idee wat in my kop was korrek deurgee. Nou dit bring my by die volgende vraag – watter een is jy? ‘n Worrier of ‘n Warrior? Jy sien, ek dink nie God het ons geroep om worriers te wees nie. Hy het ons geroep om warriors te wees.

Vir diegene wat dit nog nie weet nie, ons as mense, is in ‘n geestelike oorlog sedert die begin van tyd. Efésiërs 6 vertel ons meer oor dit en wat ons moet doen om staande te bly. Hoe meer ek dink oor die skrif in die Bybel van die wapenrusting van God (tipies wat ‘n warrior dra as hy oorlog toe gaan om te gaan baklei), hoe meer maak dit sin hoekom Paulus dit so verduidelik het.

Die helm van verlossing – ons moet ons gedagtes beskerm. Wat ookal in ons gedagtes aangaan, gaan ons karakter begin verander… die duiwel is konstant besig om ons gedagtes te probeer oorneem, want dis al wat hy kan doen.

Borsharnas van geregtigheid – hierdie is my gunsteling deel van die wapenrusting (as mens nou ‘n gunsteling kan hê). Dit is waarvoor ek staan en wat God my gewys het die voorskote, wat ek op my aanlyn winkel verkoop, ook beteken. Bewaar jou hart. Wees altyd righteous (dit klink net beter in Engels hier), opreg en nie vals en misleidend nie.

Skild van geloof – wat anders kan die leuens van die duiwel (wat hy daagliks vir ons vertel) afweer? Ons moet vertroue en geloof hê in God en dat Hy sal deur kom vir ons en dat Hy vir ons is. Swaard van die Gees van God (die Bybel) – as ons die waarheid WEET wat in die Bybel vervat is, kan ons enige leuens en aanvalle wat na ons gegooi word vernietig. Onthou – die karakter van die duiwel is dit van ‘n leuenaar. Hy sal jou bombardeer met missiele genaamd LEUENS. In die hoop dat dit jou hart sal tref en jou in ‘n miljuisend, onherstelbare stukke sal breek.

Gordel van die waarheid – o my jitte. Die is GROOT. Hoeveel keer ‘n dag vertel mens halwe waarhede? Halwe waarhede is LEUENS! Moet nie vir die kliënt vertel dat jy reeds met iets begin het as jy nog nie eens die leêr uit die kas gehaal het nie. Van die onderwerp af – ek het eenkeer vir iemand gewerk, in ‘n korporatiewe omgewing. Sy het eenkeer vir my gesê ek is te eerlik. Regtig? Kan iemand TE EERLIK wees? Is dit nie wat God van ons verwag nie? Om altyd die waarheid te praat nie?

Skoene om die bereidwilligheid van die evangelie van Jesus te verkondig. Sjoe, ek raak altyd uitasem as ek dit sê en lees. Nou die is ook een van my gunstelinge! Eintlik die hele wapenrusting, maar die een staan ook vir my uit. Wat doen jy wanneer jy oor hierdie aarde wandel, om die woord van God te versprei? Wys jou dade EN woorde dat jy ‘n kind van God is? Of sê jy een ding en doen jy ‘n ander wat mense laat twyfel oor jou en jou verhouding met God?

Kan mense sien dat jy ‘n kind van God is sonder dat jy veel praat? Vertel jy vir hulle wat Hy vir jou gedoen het? Is jy besig om jou getuienis te gee van hoe Hy jou lewe vir die beter verander het? Of doen jy ‘n skelm deal onder die tafel, kontant, sodat niemand BTW hoef te betaal nie? Of gee jy jou woord vir iemand dat jy iets sal doen en kom dit nie na nie? Of is jou prioriteite verkeerd? Gaan hou jy luukse vakansies terwyl jy die wêreld geld skuld? Of spandeer jy soveel meer tyd met ander mense en skeep jou huisgesin af?

Dit daar gelaat want ek is seker dis ‘n debat vir ‘n ander dag….maar…het jy agter gekom dat jy niks op jou rug sit nie? Het jy al daaroor gewonder hoekom dit so is? Ek het! Dit is omdat God ons van agter beskerm. So watter een is jy? ‘n Worrier of ‘n Warrior? Wat kies jy vandag? Gaan jy toelaat dat die duiwel jou bombardeer met leuens terwyl jy worry en in ‘n hoekie sit? Of gaan jy reg staan vir die oorlog soos ‘n ware warrior?

Worrier or Warrior…. which one are you?
Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.