Posted on Leave a comment

Die spelfout

Vir 11 dae van April kyk ek na my tafelkalender (of desk pad soos ons almal dit maar eintlik noem) en ek mis net heeltemal die spelfout. Ek gebruik hom, maak nota’s, trek dae dood soos wat die tyd aanbeweeg en die lewe is ‘n spreekwoordelike lied.

Ek dink die Here het my oë toegehou vir die fout, net sodat ek ‘n lekker verjaarsdag kon hê. Want, die 12de April (die dag na ek verjaar het) vang my oog die spelfout. Dit lees Arpil 2022 en nie April 2022 soos dit veronderstel is om te wees nie. Die wêreld begin om my draai, ek voel hoe ek bleek raak, my mond word selfs droog.

Ek sit met my hande in my hare en dink by myself HOE HET EK DIT GEMIS? Weet jy hoeveel keer het ek dit nagesien? Selfs nog 2 pare oë gekry om te help proeflees. En ons almal het dit gemis!

Die volgende oomblik is dit asof Kritiek my om elke hoek en draai probeer voorkeer soos ‘n shady genadelose joernalis wat ‘n skandaal oopvlek. Die vrae is eindeloos. Hoe kon jy so ‘n groot fout gemis het? Is jy seker jy het dit nagegaan? Wat van die mense wat jou BETAAL het vir die desk pad? Wat gaan jy vir almal sê? Is daar nie dalk nog foute later die jaar nie? Wat van die wat jy mense mee geseën het? Wat gaan HULLE van dit dink?

Ek probeer die vrae wat op my gevuur word soos skote wat in ‘n ernstige oorlog geskiet word, antwoord. Ek koes sodat ek nie in die proses stukkend geskiet word nie. Ek is na aan trane, dit voel of alles wat ek voel uit God se hand na my toe kom, opgaan in vlamme.

Natuurlik kom die duiwel en probeer nog ‘n paar leuens vir my vertel. Soos dat ek eintlik verkeerd gehoor het by die Here oor die hele Pienk Vere reeks. Saam met dit word ek vertel dat ek eintlik maar simpel is om ‘n blog te hê. Wie stel nou eintlik belang in jou lewe en jou ervarings? Hoor ek die vyand se snedige kommentaar.

So draai die leuens in my kop al in die rondte. Ek bly eers stil en sê vir niemand iets nie. Bid stilweg dat NIEMAND anders die fout ontdek nie. Toe kon ek nie meer nie, ek moes net met IEMAND deel en toevallig bel ‘n vriendin (wat ook ‘n kliënt is) my. Ons gesels oor die werk en daar laat val ek die hele sak patats net so. Off topic en uit die bloute uit (soos wat ek maar maak).

Sy lag en bemoedig my, op die manier wat net hierdie rooikop kan doen. ‘n Paar dae later skraap ek moed bymekaar en wys vir nog iemand, vra my bediende om te kyk of sy dit kan sien, wys ‘n niggie aan my man se kant, en so gaan dit aan. Dis vrek snaaks om almal se reaksies dop te hou, want hulle vat dit ernstig.

Hulle oë gaan sommer op skrefies soos wat hulle die fynskrif deursoek en fynkam. Eers kyk hulle en sê hulle sien dit nie. Dan por ek hulle aan, kyk MOOI. Dis nie in die fyn skrif nie. Dan sien hulle dit. Sommige se oë rek groot, ander lag, ander slaan hul hande oor hul monde in verbasing.

Maar almal het dieselfde reaksie – ARPIL! Iewers na ek die fout gesien het, besluit ek om maar die moed bymekaar te skraap en my man te wys. Hy sien dit ook nie dadelik nie. Toe hy dit sien, grinnik hy net en skud sy kop in ongeloof.

Ek was natuurlik nog al die pad op self-punishment se roete, probeer die shady joernalis ontduik. Wat gaan die mense van my dink? Hulle gaan vir almal vertel hoe swak die produkte is en dan gaan ek met kratte vol voorraad sit en niks mee kan doen nie. Dis die gedagtes wat toe nou weer probeer tent opslaan by my. Iewers, na ek die fout met my man gedeel het, kom daar ‘n gedagte by my op.

Ek sê vir my man (of het hy dit vir my gesê? Ek weet nie aldag nie want ons gedagtes en woorde is so ineen verstrengel soms en ons dink so dieselfde), miskien moet ek ‘n kompetisie van dit maak? ‘n Notaboek as prys gee. So in die verbygaan praat ons met mekaar en ek hoor hom sê Dis nie ‘n slegte idee nie. Nou ja, toe laat ek nie gras onder my voete groei nie. Ek spring weg en ontwerp ‘n ding op Canva en besluit om twee kategorieë te skep vir wenners – siende dat ek die spelfout uit die mou gelaat het vir sommige mense en dus hulle nie kon insluit in die kompetisie nie.

Nou ja, die res is geskiedenis, mense het my post geshare en gelike op Facebook en Instagram. ‘n Paar mense het ander getag en so het die proses sy gang gegaan. Ek het doelbewus van sosiale media af gebly, want die eerste dag na ek die kompetisie begin het, het ek myself gekry dat ek elke paar minute gaan kyk het wat aangaan.

Dan raak ek frustreerd as mense nie vinnig genoeg reageer nie en as ek sien my post het nie ‘n reach van genoeg mense soos ek nou dink dit moet wees nie. Ek voel hoe die Heilige Gees sagkuns binne my werk en fluister. Hou op om heeltyd op sosiale media te gaan. Dit steel jou tyd. Fokus jy op jou werk. Ek sal sorg vir die res.

Liewe land, na ek die besluit geneem het, was dit nogals moeilik om nie terug te gaan soos ek ouder gewoonte elke oggend gedoen het nie. Ek het net opgegaan om nog advertensies te post en dan weer afgegaan, glad nie gekyk na die reaksies en kommentaar nie.

Dit was so bevrydend om van sosiale media af te wees, ek kan dit nie beskryf nie. Ek was nie, in my opinie, so aktief op Sosiale Media nie. So het ek gedink… Ek het mos nie elke dag iets gepost nie, net my blog se bladsy het so bietjie meer aandag geniet, want dis maar my metode om te adverteer en God se woord te versprei.

Toe ek begin om na my foon se statistieke te kyk van die tyd wat op watter toepassings (hoe is dit nou vir ‘n ordentlike Afrikaanse woord?) spandeer was, toe skrik ek. WANT….wat ek gedink het was net 5 of 10 minute was toe nou eintlik langer…ek reken ook hierdie is ‘n bespreking vir ‘n ander dag…

Terug by die spelfout…die Here het my genadiglik van ‘n ander blaps gered. Toe ek vroeër die jaar die nuwe notaboeke ontwerp het, het ek ‘n groot OEPS gemaak op die een Engelse een. Dit het voorop gelees Noteboek en nie Notebook nie. Ek het die Vrydag die bestelling by die drukkers geplaas om te begin druk.

Die Saterdagoggend word ek met ‘n beklemming op my hart wakker. Daar is ‘n spelfout op een van die notaboeke! Ek vlieg regop, dit was nog vroeg, half ses die oggend. Ek gryp my foon en kyk na die ontwerpe (wat ek elektronies hier ook tot toegang het). Wragties, die fout is op die een engelse een. Dit was net AMAZING vir my dat die Here my presies gewys het waar die fout was, dit het my nie lang geneem om dit te kry nie.

Nie te min, die Here het my van ‘n baie groter blaps en oeps gered daardie dag, want die buitekant van die notaboek is nou nie iets wat jy net vir ‘n maand gebruik en dan afskeur en weggooi soos die desk pad se bladsye nie.

Met ‘n dankbare hart sluit ek af. Niemand van ons is perfek nie, ons almal maak foute, selfs foute waarvoor ons geld betaal. En dis ok. Die Here het weereens iets slegs gevat en dit omskep in iets goed en mooi! Baie geluk aan die wenners van die notaboeke! Mag die Here elke ding wat daarin neergepen word seën soos wat net Hy kan!

The spelling mistake
Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.