Posted on Leave a comment

Jy is… deel 2

Maandag 14 Maart 2022 merk die tweede dag wat ek die voorreg gehad het om voorskote uit te deel en studente meer te vertel van die Pienk Vere en wat dit simboliseer. Daardie oggend was ek al 3 uur wakker. Dit was seker opgewondenheid of senuwees (of beide) vir dit wat voorgelê het vir die dag.

Ek het ‘n afspraak by ‘n plaaslike skool, Hoërskool Bekker, gehad om ‘n 15 minute gesprek te hê met die Huishoudkunde (ek weet nou dit word deesdae Verbruikerstudies genoem) studente, almal in graad 12. Ek het elke klas individueel gesien, wat my seker gehelp het om gewoond te raak aan public speaking want ek het dit lank laas gedoen.

Ek dink die laaste keer wat ek moes praat voor mense was by ons troue en voor dit toe ek in Graad 12 was. Ek tel nou glad nie die afspraak wat ek in Januarie, by ‘n ander plaaslike skool, HaMaKom Privaatskool gehad het nie. Ek was so op my senuwees daar, ek kon glad nie onthou WAT ek gesê het daardie dag nie, maar ek het min of meer dieselfde storie vertel wat ek by Bekker vertel het.

Elkgeval, terug by my oorspronklike storie. Die eerste toespraak het goed gegaan. Dit het gelyk of ek almal se aandag gehad het en alles onthou het wat die Here op my hart gelê het. Soos wat die dag aangegaan het, het die volgorde van die toespraak effe verander, maar die kern van die boodskap het dieselfde gebly.

Die Verbruikerstudie juffrou, Marié Booyse, het bygevoeg tot dit wat ek gesê het, deur te sê dat die voorskote vir jou ook beskerming gee. Nie net fisiese (kos en olie kolle op jou klere) beskerming nie, maar ook geestelike beskerming. Dit was so waar en nog ‘n openbaring oor die betekenis van die voorskoot.

Soos wat die week aangegaan het, het ek aanhou dink oor wat Maandag gesê was. Dit is asof die Here dit in my gees laat val het dat die beskerming soortgelyk is aan die Borsharnas van Geregtigheid waaroor Paulus skryf in Efesiërs 6.

Dit was baie treffend vir my, want dit is waarvoor ek staan. Om te probeer regverdig (hier klink righteous net beter maar toemaar) en eties te wees, altyd, selfs wanneer niemand kyk nie. Ek het verder ook ‘n gesprek met my sister from another mister Dora (my huishulp as jy gewonder het). Sy het die goedjies gesien wat ek besig is om voor te berei vir die Paasmark wat ek gaan bywoon as ‘n Verkoper (begin April), waar ek my items gaan verkoop en myself beskikbaar gaan stel om te gesels en met mense te praat oor dit wat die Here op my hart lê om te sê.

Ok, so terug na die gesprek met Dora. Op die drukstukke wat ten toon gestel gaan word op my tafel by die mark, het ek ‘n paar vinnige feite van my seun se feiteboek oorgetik vir hierdie doel. Een van hulle was (en dis die vraag wat ek die studente gevra het Maandag) Het jy geweet dat Flaminke pienk is as gevolg van dit wat hulle eet?

Sy het my vertel dat dit haar nog meer laat dink het oor die hele Pienk Vere reeks en dat die Heilige Gees met haar werk die heeltyd oor dit. Gedagtes wat ek by die studente gelos het Maandag was – wat doen ons om onsself pienk te laat vertoon vir die wêreld? Ek en Dora het toe verder ‘n gesprek gehad oor waarmee ons onsself opvul deur te kyk, lees, luister en eet (ook iets wat ek die studente vertel het Maandag).

Die gesprek het toe gedraai na wat ek van hou om te verwys as, leë kalorieë (liewe aarde – ek ken nie my spelreëls so goed om te weet of hierdie woord een of twee e‘s in het nie…so verskoon maar die wat taalkundig is en weet…). In my gesprekke by Bekker, het ek verwys na wanneer mens te veel suiker eet en dan die heeltyd crash (die woord verduidelik net die impak van suiker vir my beter). Al my vriendinne weet ek hou daarvan om na skyfies, koekies en sjokolades te verwys as leë kalorieë. Goed wat propvol kalorieë is (wat ons vet maak net so tussen ons) maar wat voedingswaarde ontbreek om ons liggame te voed en op te bou na wat dit moet wees, soos God dit bestem het.

Weer was hierdie ‘n openbaring dat ons moet seker maak dat ons ons gees en gedagtes vul met goed wat nie leë kalorieë is nie. Waarna kyk, lees en luister jy? As jy binge (wat sou die Afrikaanse woord vir dit wees?) kyk, lees en luister na iets wat leeg is, gaan jy leeg bly en sal jy nie Pienk Vere kan produseer om die wêreld te wys dat jy ‘n kind van God is nie. Dieselfde is waar vir eet net so tussen ons, maar dit weet ons almal….

Na my gesprekke en oorhandigings aan die studente, was dit tyd vir foto’s. Die kinders het baie in hul noppies voorgekom oor hul geskenke en ek vertrou regtig dat, elke keer wanneer hulle die voorskote dra, nie net in graad 12 nie, maar ook wanneer hul klaar is met skool, dat hulle sal onthou waarvoor dit staan en simboliseer.

Al die eer aan God altyd!! Hy het die inspirasie gegee vir die voorskote, die visie aan my toevertrou asook die mense om die elektroniese logo te kan produseer en die voorskote. Sonder Hom sou niks van hierdie moontlik gewees het nie. Ek weet net diep binne in my hart, dat daar soveel meer aan die voorskote is as net ‘n voorskoot….soos ons reeds ontdek het en steeds gaan ontdek.

Net soos wat ek die inskrywing afsluit, besluit ek om die skrifvers wat deel vorm van my logo weer te gaan lees. Spreuke 10:21 Die lippe van die regverdige help baie mense reg; maar die dwase sterf deur gebrek aan verstand. Die engels stel dit so mooi en ek sit dit ook in, want toe ek die inskrywing begin het, het ek díe keer eerste in Engels getik en nie Afrikaans soos ek normaal weg doen nie. Dit was in Engels wat ek die openbaring gekry het. The lips of the righteous feed many: But fools die for want of wisdom. (KJV). Wow is al wat ek kan sê….hierdie sluit so aan by die nuutste openbaring oor die voorskote, wat jy jou liggaam, siel en gees voed en waarvoor Beroepsvrou staan. Al die eer aan God altyd!

You are… part 2
Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.