Posted on Leave a comment

Die lied… Hoofstuk 2

Ek wonder soms oor Maria. Hoe het sy gevoel nadat sy uitgevind het sy verwag die Messias? Jy sien, die Bybel vertel ons nie van haar emosies nie. Nie alles nie. Ons weet sy het ‘n lied gesing en was opgewonde oor dit waarvoor die Here haar gekies het.

Maar…was sy geskok voor die lied? Het sy verwerp gevoel deur die mense? Wat het hulle van haar gesê en gedink? Het hulle haar bespreek soos ons mense alte graag doen? Het sy ook wakker gelê in die nag? Geslaap vir net 3 ure en dan is sy wakker vir die res van die tyd terwyl almal om haar heerlik lê en snork?

Ek dink nie dit was maklik vir haar nie. Soortgelyk aan situasies waarin ons, onsself soms bevind. Jy sien, jy het dalk hierdie lied in jou hart oor dit wat die Here vir jou beplan en oor jou lewe gespreek het. Maar in ander opsigte en aspekte van jou lewe is daar nie noodwendig ‘n lied nie.

Ek dink soms wil die Here hê ons moet impulsief vir Hom wees. Goed doen net sonder om dit te overthink soos wat ek alte graag doen. Hom net vertrou. Al druk die lewe op alle ander vlakke dat ek voel ek kry nie asem nie en kan nie slaap snags nie. Al probeer die duiwel gereeld my lied steel…ek moet impulsief bly vir Hom.

Die lied wat die Here weer vir ‘n ruk al in my hart gesit het is Rooftops deur Kim Walker-Smith. Ek voel ek wil op die dakke staan en Sy naam uitroep, proklameer oor my lewe. Ongeag die werksvereistes en werksdruk. Ongeag die feit dat die duiwel die lied probeer smoor met alledaagse dinge in die lewe.

I shout out Your Name, from the rooftops I proclaim, I am Yours! Eggo die woorde deur my gedagtes. Ek sing dit sommer harder om die leuens wat die duiwel vir my in my kop vertel te probeer uitdoof. Ek het nou nie my eie persoonlike lied geskryf soos Maria nie, maar die een is vir my nagenoeg aan iets vir MY. Wat is JOU lied wat die Here in jou hart gesit het? Sing jy hom of laat jy toe dat die lewe se moeilik (kom ons wees eerlik, niks is meer maklik deesdae nie) jou liedjie onderdruk en versmoor?

Wat kies jy vandag? Ek kies om steeds te sing en te glo dat die Here Beroepsvrou en alles wat met dit saam gaan aan my toevertrou het. Dis wat HY vir my lewe beplan het. Hy het nie beplan vir my om nagte om wakker te lê en te bekommer hoe ek alles werksgewys gaan doen nie. Of dat ek lê en bekommer oor ons uitstaande debiteure en ons uitstaande skuld nie.

Daar gaan altyd seker maar iemand wees wat jou geld skuld en jy gaan seker altyd iemand anders geld skuld. Jy gaan seker nooit genoeg geld hê vir alles nie. Of genoeg tyd vir als nie. Die werk in ons bedryf gaan seker nooit makliker word nie en die deadlines gaan vir seker (nie net seker nie) daar bly. Gaan mens ooit genoeg geduld hê met jou kinders? Gaan jy ooit nie dae hê wat jy moedeloos voel as jy nie weet HOE jy jou kind gaan help deur Graad 7 nie?

Op die ou einde van die dag IS en BLY God in BEHEER van ALLES. Ons het nie beheer oor enige iets behalwe ons eie optrede en uitkyk oor die lewe nie. Hoekom dan nou nie dit maar met ‘n lied in die hart doen nie? From the rooftops I proclaim, I am YOURS!!!!! Sing ek sommer amplified en op sy hardste in my gedagtes, net om seker te maak die duiwel HOOR my.

The song… Chapter 2
Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.