Posted on Leave a comment

Die lied… Hoofstuk 1

So het Februarie 2022 gekom en gegaan. Nog ‘n sperdatum was oorleef. By tye het dit regtig gevoel of die ball & chain wat ek by die Accountant’s Inn gedra het swaarder was as wat hy veronderstel was om te wees. Sommige dae was moeiliker as ander. Ek het myself teen ‘n, wat vir my soos ‘n slakke pas voel, laat werk in Februarie, net om deur als te kom. Nie lang ure op een dag noodwendig nie, maar eerder meer dae in die week.

Skielik op 28 Februarie 2022,was dit asof ek kon voel hoe die sleutel in die slot gedraai word en hy vroeër as beplan losgemaak gaan word. Teen 12 uur die middag click ek submit op my laaste IRP 6 opgawe. Ek sit terug en dink by myself – HOE HET DIT GEBEUR? Dit het NOG NOOIT gebeur nie? Elke ander jaar tevore sit en werk ons dat die spoeg spat en tik dat dit al klank is wat jy in jou ore hoor eggo, saam met die muis se click geluide (ek wonder hoeveel keer click ‘n mens se muis daagliks?), soos wat ons spartel om alles betyds in te dien.

Ander jare dien ek gewoonlik hier teen 9 of 10 uur die aand die laaste opgawes in, soms nog later en net voor middernag. Ek onthou nog hoe my dogtertjie (nou 8) haar kussing en kombers gebring het en op die vloer by my geslaap het terwyl ek sit en werk. Maar skielik is daardie las net ligter. Ons almal kom teen ‘n redelike tyd in die bed.

Dit voel amper verkeerd, so asof ons iets of iemand vergeet het. Ons gaan weer deur die lysie – nee, niemand vergeet nie, almal ingedien. Ek besef opnuut dat ons die sperdatum gehaal het omdat ons ‘n stel hande het wat WERK en wat WEET wat sy doen. Iemand wat ons kan vertrou om werk en berekeninge akkuraat te doen. Haar kant te bring ongeag haar omstandighede.

So staan ek 1 Maart 2022 op, ek wil amper sê met ‘n lied in my hart. Die lied is nog nie daar vir my werk nie (alhoewel ek besef dat as ek nie werk nie, hierdie blog nie sal kan bestaan nie en natuurlik weet ek dat my werk in ons behoeftes voorsien), maar die lied is wel daar vir dit wat die Here vir my beplan en wat Hy vir my so stuk-stuk begin wys.

Dit alles terwyl ek Beroepsvrou se platform meer bemark en nuwe ontwerpe doen, en tussen werk deur. Ek sien ‘n kliënt die betrokke dag (1ste Maart) en sit nie eintlik by my tafel om te werk nie, dis maar net wat daardie dag gebeur het. Ek recover so bietjie van die amper 9 dae se werk aaneen (al is dit nie 7 of 10 ure elke dag nie, dis steeds werk elke dag) en vind net my voete in die volgende taak wat vir my lê en loer….en (on)geduldig wag tot ek dit afhandel.

Ek wonder die heeldag WAT die maand se skrif vers is, en kan dit wragties nie onthou nie. Uiteindelik skeur ek Februarie se vuil bladsy af. So asof die bladsy weerspieël HOE hard ek gewerk het deur ekstra vuil te wees. Waterkolle, ink wat smeer, jy noem dit, dit is hoe Februarie se kalender aan my kant gelyk het. So gaan sit ek UITEINDELIK weer en lees die vers, ek dink hoeka dit was eers 2 Maart.

Ek lees en vir ‘n oomblik maak dit nie sin nie. Ek wonder by myself HOEKOM op dees aarde het ek nou DAARDIE skrif gekies? Dit maak nie sin nie, die sin begin so stomp en in die middel van iets. Ek trek dadelik my foon nader en lees op die Bybel toepassing (hoe is daai vir ‘n fêncy Afrikaanse woord vir application?). Ek lees, maar steeds maak dit nie sin nie. Ek besluit om so paar verse vroeër te begin lees.

Uiteindelik het ek dit! Ek snap dit!! Ek kon nie ALLES inpas op die kalender nie, PLUS die skrif vers is op ‘n sleutelhouer wat ek een keer gekoop het. Dit was vir my so mooi hoe dit op die sleutelhouer was en daarom dat ek hom gekies het. As jy dalk wonder hoe ek nou nie die skrif wat EK gekies het kan onthou nie – ek het Oktober / November 2021 laas aan die ontwerpe gewerk.

Ses jaar se tyd, voel dit vir my, het sedertdien in die kort rukkie van ongeveer 6 maande verloop. My brein kan net nie elke liewe detail onthou nie. Goed, so terug by die skrif vers. Ek begin lees van vers 45 af. My oog vang die opskrif net onder vers 45 – Die loflied van Maria. Sjoe, dis nou vir jou interessant. Ek voel of ek ‘n lied in my hart het, en hier is die skrif ook ‘n lied wat deur Jesus se Moeder gesing was. WOW dis nou vir my toevallig, of is dit? Maar ek weet dadelik met God is NIKS ooit toevallig nie.

Lukas 1: 45-49 Gelukkig is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar gesê het!” En Maria het gesê: “Ek besing die grootheid van die Here, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het. Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem, omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het. Heilig is sy Naam! Afrikaans 1983 vertaling.

Hier is soveel meer aan hierdie skrif as wat ek kan dink of besef….ek voel amper ek moet dit versie vir versie opbreek en analiseer. Daar is soveel krag hierin. Soveel beloftes vir my en vir elkeen wat glo en staan op dit wat die Here openbaar aan my en hulle oor dit waarvoor ons geroep is.

Word vervolg…

The song… Chapter 1
Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.