Posted on Leave a comment

Die Deurlopende Etiese Opleiding duur voort…. Maand 2

Die Engelse opskrif klink vir my meer catchy. Maar toemaar, ek is seker julle verstaan wat ek hier bedoel. Elkgeval, terug by my ervaring van hierdie ding wat ons etiese opleiding noem….ek het eers my oë gerol (ek het dit al voorheen genoem) om opleiding te doen om eties te wees. Vir my is dit ‘n natuurlike ding en my verwagting van ander mense is ook om so te wees.

Duidelik funksioneer ander nie soos ek nie (wat ‘n skok vir die sisteem, dog die waarheid en realiteit). Maar, soos ek deur alles werk, besef ek net daar is iets diepers betrokke hierby. Natuurlik kan niemand geleer word om eties te wees nie! Maar, as jy jou denk patrone verander, sal jy tot die besef kom oor hoe dit jou lewe, aksies, keuses en uitkomste werklik beïnvloed.

Iewers tussen September 2021 en Februarie 2022 het ek behoorlik uitgefreak oor die etiese opleiding. Elke keer wanneer ek ‘n kennisgewing kry dat daar nuwe inhoud beskikbaar is (die begin van die maand gewoonlik) dan begin ek amper hiper-ventileer. Want regtig, WAAR moet ek die tyd kry om alles te DOEN wat daar van my verwag word? Ek het slegs maand 1 se opleiding gedoen teen einde Desember en nou moet ek 11 maande se goed opvang in iets soos 8 maande of minder (ek weet eintlik nie hoeveel nie, ek het dit nie gaan uitwerk nie en my brein is regtig net te moeg om uit te werk hoeveel tyd het ek nog oor van my 12 maande etiese opleiding).

Dan, tussen al die chaos deur wat ek ervaar, kalmeer die Here my gedagtes. Dis ok om agter te raak. Dit gebeur. Weer freak ek uit want ek is nou eers besig met maand 2 se joernaal inskrywings wat daagliks moet plaasvind en HOE GAAN EK DIT DOEN??? Ek het amper in my gedagtes geskree vir God (met respek as daar so iets bestaan). Ek het ‘n tantrum gegooi. Ek sal nou nie die Afrikaanse slagspreuk gebruik nie, maar iewers in dit is ‘n vloer en iets wat rym met vloer. Ek is seker jy weet wat ek hier bedoel.

Dit het my die HELE Januarie gevat om ‘n klomp goed uit te werk, insluitende die opleiding in ‘n baie besige skedule. Dan iewers tussen my geskree en freak out wat ek gehad het, kom die lig aan. Wat die proses jou EINTLIK probeer leer is nie om jou inskrywings te begin met Liewe Dagboek nie. Nee. Wat hulle ons probeer leer om te doen is om ons gedagtes te declutter van goed en gedagtes wat jou so besig hou en jou vreugde en fokus steel.

Sodra jy dit begin neerskryf en uit jou gedagtes uit kry, kan jy meer fokus op die dag wat voorlê. Makliker gesê as gedaan, MAAR dis die uiteinde dink ek. Ons het soveel clutter op soveel vlakke, dis SCARY!! Dit begin intimiderend raak en as jy weer sien is jy oorweldig, angstig en kan jy eintlik nie werk soos jy veronderstel is om te werk nie, alles op dieselfde tyd.

Ek het ‘n doelbewuste besluit geneem om die eerste week in Februarie, net te BEGIN met hierdie opleiding en dit net te doen. En ek het. En dit laat my meer bemagtig voel (is dit die regte woord vir accomplished?). Ek voel beter want ek is besig om baba tree se vordering te maak….en raai wat??? Jy HOEF nie eers maand 2 se joernaal inskrywings klaar te maak voor jy kan aangaan met maand 3 nie.

Nee, jy kan daagliks joernaal inskrywings maak, maand 2 se video’s kyk (en al die inhoud lees net so terloops), die assessering doen en aan beweeg na maand 3 toe. Dit is wat ek gaan doen. Ek kan mos meer as een daaglikse inskrywing doen as ek wil. Daar is geen reëls nie, so dis haalbaar om op te vang en in te haal.

Wat ek ook gaan doen, is om te probeer kombineer met wat ookal in maand 3 gebeur met maand 2 se joernaal inskrywings en so uitbrei. Ek het GEEN idee wat maand 3 vir my inhou nie, maar ek is reg vir dit. Dankie tog ek het ‘n hoër mag (die Here as jy gewonder het) wat oor my waak. Wat ek ook begin doen het is om so 2 tot 3 joernaal inskrywings se vrae te antwoord in een dag. Deur dit te doen, maak ek ook vordering en vang ek ook op!! My plan, is soos elke ander plan in die lewe – onder ontwikkelling en onderhewig aan verandering.

God inspireer my, kalmeer my, gee my planne om my vrese en probleme wat ek daagliks ervaar, te oorwin, sodat ek iets so eenvoudig soos hierdie etiese opleiding kan doen. Dit is regtig nie so moeilik nie en sal my vir seker baat op die lang duur. Jy sien, wat jy, die leser van die artikel nie sien nie, is die angstige gedagtes wat ek daagliks het, oor alles – goed, lewe, kinders, werk.

Dit affekteer my vermoë om te werk en produktief te wees. So vir die buite wêreld lyk ek soos iets, ek weet eintlik nie waarmee om myself te vergelyk nie, maar ek kom voor as iets anders as wat ek werklik is. Ek sit maar ‘n brawe gesig op elke dag, smile and waive, fake it ’till you make it tipe houding. Dit gee ‘n wan-persepsie van wie ek werklik is.

Maar, iewers tussen my skrywery op die platform deur, terwyl ek my bybelstudie doen (terwyl ek blog) en my gedagtes joernaliseer, is ek besig om iets te word, iemand beter as wat ek voorheen was. Hierdie proses help my om te declutter in my gedagtes en nie so angstig te wees soos ek altyd was nie.

Ek kry dit steeds nie reg op ‘n daaglikse basis nie, maar sommige dae is beter as ander. Hierdie is alles ‘n leer-proses vir my, iets wat my as mens ontwikkel. En natuurlik het die Here vir my gewys dat ek een van my Beroepsvrou dagboeke kan gebruik vir hierdie doel! Vir hierdie etiese opleiding en daaglikse bybel verse!

Een ding wat ek wel agter gekom het, is, na ek hierdie artikel begin skryf het begin Februarie, het daar ‘n klomp tyd verloop. Twee weke (of is dit nou drie?) het verby gegaan en ek probeer my uiterste beste om hierdie etiese opleiding se joernaal inskrywings daagliks te doen, op ‘n weeksdag (naweke is so bietjie anders en moeiliker omdat ons ‘n ander roetine het). Elkgeval, terug by wat ek probeer sê. Wanneer jy die joernaal vrae antwoord (dit kry eintlik net jou gedagtes aan die gang) oor hoe jy byvoorbeeld, kan verbeter om take af te handel, is dit asof die duiwel en al sy nasaad (in Engels verwys ek na spawn of the devil) jou aanval op dit wat jy neergeskryf het.

Vir my is dit baie interessant, dog niks nuuts nie. Jy sien, wanneer dit met my gebeur, sit ek met ‘n glimlag op my gesig en neem ek kennis hiervan, want, wanneer ek voel of ek aangeval word, weet ek net dat ek op die regte spoor is! Die duiwel weet ook wat my potensiaal is en hy sal alles probeer om my te keer om te doen wat gedoen moet word.

Moet nie mismoedig voel as jy ‘n twee of drie weke tydperk agter die rug het soos wat ek gehad het nie (na ek met die etiese joernaal inskrywings begin het). Dit beteken net dat jy op die regte spoor is en moet aanhou en deur druk! En net asof die Here wil bevestig vir my wat ek hier sê, kry ek ‘n bybelvers net na ek die artikel begin afsluit. 2 Thessalonicense 3:3. Wat ‘n powerful en profound skrif vers om te kry wanneer jy voel of jy aangeval word!

So, as jy steeds wonder of dit die moeite wêrd sal wees om die kursus te doen of waar jy die tyd sal vind – hou op om dit te oordink. Hou op om te prokrastineer soos wat ek vir maande gedoen het. Begin net en voor jy weet, sal jy soveel meer kennis hê en insig kry as voor jy hierdie hele proses begin het.

Een ding wat ek opgemerk het van hierdie opleiding is dat jy ALLES MOET LEES!! Voor jy die aanlyn assessering probeer, maak seker jy LEES die inhoud….dit gaan jou net versterk in jou kennis en self-worth (en natuurlik gaan jy die assessering slaag as jy alles gelees het want die vrae kom nie net uit die videos uit nie).

Ek kan afsluit en ‘n gevolgtrekking maak dat Ek tot alles in staat is deur Christus wat my krag gee! Fillipense 4:13. Ek kan selfs hierdie opleiding ding doen, werk EN ‘n ma wees!! En dit nogals in Februarie, ons besigste maand! Want regtig, WANNEER is ‘n goeie tyd om te begin? Dis nou of nooit!

Word vervolg…..

The Continious Ethics Training continues…. Month 2
Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.