Posted on Leave a comment

Jy is…

“Jy is wat jy eet.” Hoeveel keer het ek nie al daai lyn gehoor nie? Dis amper soos die advertensie van die laat 80’s – Farmer Brown se hoenders. “Hul lyk so goed want hul eet so goed.” Kan ek nou nog die oom se stem hoor. Ek verbeel my dit was so ‘n rasperige stem, maar ek kan verkeerd wees.

Nie te min, rasper stem of de not, daardie lyn het my altyd by gebly. Ek het selfs in latere jare gespot oor my lyf deur te sê “Ek lyk so goed want ek eet so goed!” Want kom ons wees eerlik. Enige iets verfynd en soet en ongesond is mos maar die lekkerste!

Maar so gebeur dit ‘n paar jaar gelede, dat die Here nog iets vir my wys toe ons een aand deur die kanale spring (soos wanneer popcorn wat gemaak word en spring) en vir ‘n vlietende oomblik op een of ander absurde realiteitsprogram afkom. Liewe aarde, ek wil net gou myself onderbreek, maar daardie was ‘n lang sin met min leestekens! Ek is skoon uitasem gelees….

Soos wat ons vir hierdie mense kyk, almal wat soekende is na iets maar nie weet wat nie, laat val die Here in my gees You are because I am. Dit was in Engels. Ek sit so oomblik en dink….dis waar! Die Here verwys mos in Moses se tyd na Ek is wat Moses gestuur het na Farao toe.

Spring vorentoe na 2020 en 2021 toe (ek weet eintlik nie meer wanneer het wat gebeur nie want als is ‘n blur). Iewers daar het ek op my eie Facebook blad iets soortgelyk gesit soos die stuk wat ek nou skryf, en dat ons is omdat God is. Maar later van tyd het die Here dit nog so bietjie uitgebrei vir my.

Jy is wat jy eet, wat jy dink en wat jy praat. En net so val alles in plek in my kop (ek kan ook nie eintlik verduidelik HOE dit gebeur nie, dit doen net). Liggaam, siel en gees. Jy is wat in jou hart omgaan (daar is mos so ‘n skrif iewers in Psalms as ek dit nie mis het nie?). Jy is wat jy in jou gedagtes dink (en dan praat). Jy is wat jy fisies eet.

Die mag van lewe en dood lê in die tong – so sêg die Bybel ook…so ons moet waak teen wat ons spreek, want dit manifesteer gewoonlik in die vlees ook….en eintlik begin dit wat ons praat met dit wat in ons harte omgaan doen dit nie? Maak dit sin wat ek sê?

En ek reken uit hierdie Goddelike gedagtes (nie ek nie maar God vir seker!) is waar Beroepsvrou ontstaan het. Ek het vir JAAAARE gedink EK wat Elsie is, is die enigste een wat nie elke oggend met ‘n lied in my hart en voëltjies wat buite NET vir my fluit wakker word nie. Jy weet soos Sneeuwitjie wat fluit en dan kom die voëltjies en doen wat ookal vir haar. Ek het gedink dis hoe dit moes wees….

Ja ek weet, dis ‘n fairy tale wat propvol leuens is, maar gee my darem krediet. Ek het al voorheen gesê ek voel soos ‘n late bloomer wat sulke goed aanbetref (ek het darem nie nou eers tot hierdie besef gekom nie, seker maar vroeë 30’s as ek nou regtig ‘n tydlyn vir jou moet trek en nee ek het nooit gedink die voëltjies sou my werk vir my doen nie). Nou om terug te kom Beroepsvrou toe….dit wat jy is pas vir my eintlik so mooi in by die hele Beroepsvrou tema, die Pienk Vere Reeks en waarvoor ek staan.

Pienk Vere vir die Here. Jou gees (en seker maar siel) mens word gevoed met dit wat in jou hart en gedagtes omgaan. Vandaar die Pienk Vere vir die Here…maar wat die Here vir my gewys het is dat die voorskoot eintlik die voorloper was vir die hele Pienk Vere reeks.

Wanneer jy ‘n voorskoot aantrek, is jy besig om ander mense te bedien met kos. So dubbele betekenis met die voorskoot. Maar jy is ook besig om iets voor te berei wat jou liggaam moet voed (jy moet jou tempel wat die Here vir jou gegee het mos oppas – DIT staan ook in die Bybel!)

Dit voel vir my of ek deurmekaar praat hier maar ek glo die Here gaan al die toutjies bymekaar trek sodat diegene wat dit lees sal verstaan. Ons moet ook konstant ons gedagtes vernuwe en vul met God se woord sodat ons harte nie swart word nie, ons monde nie vloeke spreek nie en ons gebeentes nie uitdroog van dit wat ons spreek nie.

Van die os op die jas en weer by die voorskote – onlangs het ek die absolute voorreg gehad om ‘n plaaslike skool se Verbruikerstudie kinders te seën met voorskote (absoluut in opdrag van die Here) en ek het verder die absolute voorreg gehad om hulle vir 5 minute (ok dalk 10 minute ek is nie seker nie) te bedien en meer te vertel van Beroepsvrou en die Pienk Vere….

Ek kan nie regtig onthou wat ek gesê het nie en dit het gevoel of ek deurmekaar gepraat het, maar ek glo dat daar saad iewers gesaai was en dat dit sal opkom wanneer die tyd reg is…ek weet ook dat ek besig is om te groei en te leer en dat die Here absoluut die woorde in my mond sal sit wanneer ek die volgende skool gaan bedien en seën met voorskote.

Die gevolgtrekking wat ek wil maak van die stuk is, jy is wat jy eet, jy is wat jy dink en jy is wat jy praat. Dit wat in ons lewens manifesteer is absoluut in ONS hande. Dit is eintlik AL waaroor ons beheer het. Wow, wat ‘n wonderlike revelation (by gebrek aan ‘n beter Afrikaanse woord wat nie so treffend is soos die Engelse woord nie). Ek weet dit al lankal, dat dit is waaroor ons beheer het in hierdie wêreld, maar die Here het alles vir my so mooi bymekaar kom sit en afgerond met die blog en die Pienk Vere reeks…

Alle eer aan God altyd! Mag die blog altyd dit wat die Here in my hart plant deurgee en mag dit NOOIT oor myself gaan nie!! Hy inspireer my, gee my die kennis en wysheid en die talente en visies om te doen wat besig is om te gebeur…

You are…
Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.