Posted on Leave a comment

“2021 – The Year we get things done”

Nou ja, soos die opskrif lui en dit bevestig, was dit toe so gewees in ‘n mate vir my en ons gesin. Soos wat ons die laaste dag van 2021 vir ewig vaarwel roep en 2022 welkom heet, kan mens nie anders as om terug te dink aan die jaar wat verby is nie.

Ja ek weet, ek klink soos ‘n ou tannie en ‘n plaat wat vashaak op dieselfde tyd as ek sê “Díe jaar het VINNIG gevlieg.” Maar a-la-mapstieks, hy hét VINNIG gevlieg het hy nie?

Dit voel soos gister dat ek my skouer in ‘n spasma ingeskuur het aan ons kombuiskassies (wat nou nog nie klaar is nie want die oorweldigende lus vir verf en home reno het my nog nie weer oorval nie). Maar, dit was laas Desember……Desember 2020….

Ek kan nie sê ek gaan 2021 groet “tot wedersiens” nie. Nee. Dis vaarwel. Cheers. Koebaai. Overs-ke-dovers. Oor en uit. Ek is seker jy vang wat ek bedoel. 2021 is VIR EWIG VERBY. What a scary thought. Maar dit is wat dit is.

2021 the year we get things done soos ek dit proklameer het. Inderdaad was dit so en ook nie so nie. Nuwe goed het oor my pad gekom, soos hierdie webjoernaal (nee blog klink net beter hier). Die Beroepsvrou besigheid wat uit niks uit en onbeplan ontstaan het.

Ja, die kombuis is nou nog nie klaar geverf nie, al die kaste in die huis wag angstig vir my hande om deur hulle te krap en reg te pak en weg te gooi, en so kan ek aangaan van als wat nie gebeur het in 2021 nie.

Hoekom nie? Want alles wat wel gebeur het, het die tyd opgeneem! En die ander tyd wat ek gehad het, het ek probeer (ek lê klem op dit vir ‘n rede) rus en tyd met my gesin spandeer.

Terug by my ander sin wat ek gereeld uiter oor HOE vinnig die tyd gaan. Ek dink al hieraan vir JARE en ek dink ek het dit. Wanneer jy jonk is, gaan die tyd relatief tot matig stadig. Jy het nie kinders nie met min of geen verantwoordelikhede.

Maar dan pieps jy op die stokkie wat vir jou 2 strepies gee en die nuus breek. Skielik is dit amper asof ‘n plaat krap en bande skree soos wat jou kar waarin jy rustig oppad was na nêrens ‘n U-draai (nee U-turn klink net beter) maak teen 180 myl per uur.

Dan is dit asof iemand die horlosie hard en aanhoudend klap en skud sodat die tyd net NOG vinniger gaan…skielik is dit 13 jaar sedert jy met jou oudste swanger was en nie net ‘n paar maande nie. Skielik kom jy agter hoe gou die baba mylpale behaal en verander (al voel dit vir ewig om hulle tot op so 4 of 5 te kry wat hulle bietjie meer onafhanklik funksioneer).

Skielik gebeur daar net goed en as jou gordel nie vas is nie, gooi tyd jou uit soos wat ‘n Crash Test Dummy sonder ‘n veiligheidsgordel aan, uit ‘n voertuig geslinger word op impak.

In die proses word mens (hopelik) slimmer. Ouer en wyser. Wysheid met die grysheid. Letterlik. My man kyk ander dag verbaas na homself in die spieël. “Kyk hoe grys het ek geword!” Sê hy seker meer vir homself as vir my. Dit gebeur toe nou met almal, nie net met ou mense nie. Want iemand moet weer ou mense word….en dis nou ons beurt….

So op die ou jaar probeer ek die laaste ure se belasting opleidingsure inhaal en gedoen kry EN 2022 se skryfbehoeftes merk want, my dogtertjie wil NOU haar tas pak. Dis moeilik, die motivering is min. Die vakansie skree en roep te hard vir my om doelgerig te sit en dit net oor en verby te kry.

Ek het darem so op die amper ou jaar die kinders se goed vir 2022 uitgesorteer. Dit voel al klaar of 2022 besig is om homself in te wurm in 2021 in en 2021 uit die pad te stamp soos ‘n buffel.

Soos wat ek net alles observeer en probeer verwerk, weet ek net dat alles, tyd ook, in God se hande is. Hy wil net die beste vir ons hê. Planne van voorspoed en nie teëspoed nie.

Hier is op 2022! Mag die jaar net so tritsel stadiger verby beweeg en ons tyd gee om tot verhaal te kom na die Pandemie. Ek staan net gister en dink – ons almal wat nou nog op aarde is, kan sê ons het ‘n wêreld-wye Pandemie oorleef. Wow.

Mag 2022 net goedheid en guns inhou vir almal. Mag dit die jaar wees wat die Pandemie net skielik stop. So skielik as wat hy begin het. Mag God ons (en tyd) styf vashou in Sy hand. Mag ons net nader aan Hom beweeg en ons verhouding met Hom versterk.

Vaarwel 2021 en Hallo 2022! Ek sien uit om jou met ope arms te ontvang en welkom te laat voel in my lewe……

2021 – The Year we get things done
Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.