Posted on Leave a comment

Reflekteer – Hoofstuk 3

Vandag dwaal my gedagtes terug na my kinderjare. Hoe dit gevoel het as dit Desember was….as Kersfees nader staan. My ma het gewoonlik gewerk, nooit verlof gehad oor Desember nie. In elkgeval nie wat ek regtig kan onthou nie….miskien dink ek dalk nou net aan een Desember? Wie weet….

Ek dink dit was seker swaar vir haar. Om te werk terwyl ons almal by die huis rondgehang het. By gebrek aan enige iets anders om te doen, het ek begin krieket kyk. Myself geleer hoe werk krieket. Daar is mos gewoonlik 5-dag krieket aan. Dit het my baie inligting gegee want dis mos baie boring en lank (nie die opgewondenheid en aksie van een dag krieket of 20/20 krieket nie).

Ek onthou nog die King Pie advertensie. Die een waar die umpire met sy vinger in die lug staan wanneer ‘n speler uit geboul of uitgevang is. Dan lees die woorde onder One Hot Pie Please. Ek en my man lag nou nog oor dit en spot self soms so as ons lus is vir ‘n pastei…..

Dan dwaal die gedagtes na Ou Kersaand. Dit was altyd by my ma se ouers in Benoni. Hulle het Engels groot geword en eerder Ou Kersaand saam gekuier as Kersdag. Ons het dalk Ou Kersaand so gedoen omdat ons altyd gaan swem en kuier het by my pa se broer in Pretoria op Kersdag, nou dat ek daaraan dink.

So ons het elke jaar best of both worlds gehad. Beide families gesien oor Kerstyd. Nie soos ons dit nou soortvan doen nie. Die jaar is dit haar familie, volgende jaar sy familie. Ons is nie so streng met dit nie, spandeer in elkgeval meeste van die tyd met my skoonfamilie eerder as my familie, want my familie (sussies en hul gesinne – nie my ouers nie en deesdae my pa en sy nuwe vrou nie) spat altyd in rigtings see toe om te kamp oor Kersfees….

Ons het met ‘n Kersboom groot geword. Nie woes baie persente onder die boom nie, maar tog ‘n ietsie. Ek het altyd gevolunteer om die Kersboom op te stel. Toe ek kleiner was het ek nie die konsep verstaan van balans op die boom nie. Die boom het ALTYD vorentoe geval na ek klaar was tot my GROOTSTE frustrasie….

Wanneer ons gery het na my Ouma en Oupa toe, was die boom leeg onder. Geen persente. Wanneer ons terugkom laat die aand was daar persente. Omdat ek die jongste was het my ma vir lank gemaak of Kersvader bestaan. Vandag weet ek NIKS van die manier van hoe ons Kersfees gevier het, die boom, of die hele konsep is nie Bybels nie.

Terug by die Kersboom en persente. Ek kon NOOIT verstaan HOE Kersvader in ons huis kom nie. Daar is nie ‘n kaggel of skoorsteen nie. My ma het altyd vertel dat hy homself klein maak en deur die sleutelgat van die voordeur kom.

Innoverend en kreatief, die stories van my ma! Ek het later jare haar gevra hoe sy dit altyd gedoen het. Die persente onder die boom. Sy laat toe die geheim uit. Sy het altyd as ons almal in die kar reg was om te ry, gou “iets vergeet” en terug gehardloop in die huis in, die persente onder die boom gesit en die item wat vergete was kar toe gebring.

Ek wonder heeltyd hoekom my gedagtes my terug vat na verskeie tye toe in my lewe…..

Word vervolg…

Reflect – Chapter 3
Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.