Posted on Leave a comment

Reflekteer – Hoofstuk 2

Dis asof die Piet-my-vrou se geroep my ook wil laat Reflekteer oor dit wat was. Ek hoor hom die afgelope week amper die heeldag. Van vroegdag af. In die boom vlak duskant ons agterdeur.

Dis asof hy roep net vir my. Ek hoor hom. Dan dwaal my gedagtes terug na 11 April 2021 toe. Dit voel soos gister, tog was dit 8 maande gelede. Ek werk uit op my vingers hoe lank terug dit is….ek kon ook 12 minus 4 gebruik het maar besluit op ‘n fisiese manier om hierdie som te maak.

Ja ek weet, CA’s is NIE veronderstel om somme op hul vingers te maak NIE. Maar tog doen ek dit want dis iets wat vir my werk. Hoekom weet ek nie. Terug by die Piet-my-vrou en 11 April 2021. Daardie dag het ons my geboorte dag gevier.

‘n Volle 40 jaar oud. Ek kan nou nie sê een handjie vol of twee hande vol nie want ons het net 10 vingers…..maar dit merk die dag wat ek 40 geword het. Die Piet-my-vrou het daardie dag ook van vroeg af al geroep. So asof hy net ‘n klank memory wil los in my brein….elke keer as ek hom nou hoor dink ek aan daardie dag.

My ma het my nie sien 40 word nie. Dit was vir my baie erg maar ek weet dis ook ok. Ek sal oorleef. Baie mense se ouers sien hulle nie 5 of 10 of 18 jaar oud word nie…..

Die vorige jaar, toe ek 39 geword het (of geraak het soos my dogtertjie steeds soms die verkeerde woord gebruik) was ons in Hard lockdown. Nie Grendeltyd nie. Dit klink te ordentlik vir hoe dit werklik was daardie tyd. Daardie dag het ek besef en geweet hoekom die Here my in 1981 aarde toe gestuur het en nie 1980 soos ek altyd voor gewens het op skool nie. Stupid ek weet, hierdie wens van my toe ek jonger was….

Wanneer ek terug kyk na 2020 en 2021, is dit verstrengel vir my soos ek voorheen genoem het. Dis moeilik om te onderskei wat was die jaar en wat was laas jaar. Goed wat in 2020 gebeur het voel soos gister en goed wat in 2021 gebeur het voel soos eeue gelede. En andersom ook. Dis vreemd. Weird.

Ek praat baie met die Here hieroor en vra Hom HOEKOM dit so voel vir ons as mens? Een ding wat ek wel weet van die Pandemie is dat mense nie meer so gretig is om agter hul maskers en mure weg te kruip nie.

Vir die eerste keer DEEL mense hul emosies, hoe hulle voel, hoe hulle dinge ervaar met mekaar. Voorheen sou ons en ander net die gewone Goed dankie self? antwoord gegee het as iemand jou vra hoe dit gaan. Maar van 2020 af was dit ANDERS.

Word vervolg…..

Reflect – Chapter 2
Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.