Posted on Leave a comment

Reflekteer – Hoofstuk 1

Die tyd van die jaar is dit altyd asof daar een of ander vorm van heimwee in my hart probeer nes maak en sy plekkie vind. Dit maak dat ek eintlik glad nie van die tyd van die jaar hou nie. Die tyd wanneer ons eintlik een van die grootste gebeurtenisse vir die mensdom moet vier. Christus se geboorte. Ek weet ook dat daar baie debatte is oor wanneer Hy werklik gebore was maar dit daar gelaat…

Ek het al baie gewonder HOEKOM dit so is. Hoekom voel ek so? Hoekom is die tyd van die jaar so swaar vir sommige mense? Soos wat al die vrae deur my kop maal, is dit asof die Heilige Gees Sy hand in die gekolk en gemaal van gedagtes steek om dit stil te maak.

Ek raak stil en probeer weer hoor en LUISTER wat die Here vir my probeer sê. Die woord wat bo alles uitstaan is REFLEKTEER. Reflekteer? vra ek. Ja Reflekteer kom die antwoord terug.

Reflekteer. Ek kou aan die woord soos wat my seun sy kougom kou heeldag lank. Reflekteer. Ek besluit om die betekenis van die woord in die H.A.T. te gaan opsoek. Nie omdat ek nie weet wat dit beteken nie. Nee, net om bietjie iets anders in my blog te doen vir ‘n verandering en om maar tog seker te maak ek verstaan die konsep waarin die Here die woord vir my gee.

Ek haal die wynrooi woordeboek van die boekrak af, blaas die stof van min gebruik af. Dit blyk ‘n werkwoord te wees. Ander verduidelikings is terugkaats, weerspieël. Dit laat my dink….as ek reflekteer op die jaar wat verby is, dan kyk ek na als wat terugkaats na my toe. Al die gebeurtenisse.

Een verskil is, ek kyk nie net na 2021 nie, maar na 2020 en 2021 so saam-saam. Jy sien, laas jaar en die huidige jaar voel ineen verstrengel vir my. Ek is seker dis hoe dit vir almal voel, nie net vir my nie.

Word vervolg….

Reflect – Chapter 1
Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.