Posted on Leave a comment

Om agteroor te buig

“Hou jou rug reguit wanneer jy die kettlebell swing doen.” Instruksies wat deur Tonia, ons afrigter by Cross Fit gegee word. “Jy moet jou tegniek reg kry anders gaan jy jou rug seermaak. Moet nie jou rug agteroor buig nie.”

Ek hoor wat sy sê en selfs terwyl ek oefen, is dit asof die Heilige Gees in my gees net laat val dat ek hieroor moet blog. Die tydsberekening is nie wat wonders nie want ek sweet, sukkel om asem te haal en is in die middel van ‘n tegniek wat ek probeer leer met geen hande beskikbaar (of penne) om nota’s te maak nie. MAAR ek het geleer om mental notes te maak.

‘n Paar dae gaan verby en weer die afgelope Maandag (gister om presies te wees) sê sy dieselfde ding. Nou begin ek lag (stil-weg by myself natuurlik want NIEMAND om my gaan die persoonlike grappie wat ek met die Here deel verstaan nie en die oefening wat ons besig is om te doen is vir seker nie ‘n lag wêrd nie) en ek sê vir Hom, OK dis reg so Here, ek sal hieroor blog. So hier is ek nou besig om hieroor te blog.

Wat die Here vir my gewys het oor dit, is dat, wanneer jou fisiese liggaam oefeninge doen en jy doen dit verkeerd, gaan jou spiere in spasma in en gewoonlik dan kan jy nie behoorlik loop nie en ook nie jou take verrig soos jy veronderstel is om dit te doen nie. Jy hoef ook egter glad nie die verkeerde beweging of oefening oor en oor te herhaal vir so iets om te gebeur nie. Nee, slegs so min as een keer se verkeerde beweging kan jou verskriklike pyn laat ervaar….en omdat ons liggame so wonderlik geskape is om jou te waarsku wanneer jy iets verkeerd doen, stop ons gewoonlik waarmee ons besig is en vat dinge rustiger vir ‘n paar dae tot die spasma uitgesorteer en weg is.

Die volgende vraag of ding wat ek in my gees ervaar, is, is dit nie dieselfde met ons emosionele mens en gees mens nie? Seker eerder die emosionele mens (die een waar al ons emosies en gevoelens plaas vind – daar waar ons die moegheid, angs, geluk of ekstase ervaar) sou ek sê.

Jy sien, God het ons liggaam, siel EN gees geskape. Die sielsdimensie is die een wat uitgeput raak, sonder lewenslus dag in en dag uit deur swoeg en sweet, mismoedig raak, enige negatiewe ding, in my opinie gebeur hier (natuurlik die positiewe gevoelens en emosies gebeur ook hier – ek is seker jy verstaan wat ek bedoel).

Wanneer jou emosionele mens agteroor buig (jy kan maar erken, ons almal is op een of ander manier people pleasers) maak jy soms jou “spiere” seer wat jy daar gebruik. Die verskil tussen hierdie persoon en ons fisiese liggaam, is dat ons soms sukkel om te onderskei en identifiseer wanneer die emosionele persoon seergekry het en in pyn is. Ons weet nie wanneer ons daardie persoon moet laat rus en NIE die oefening herhaal wat die pyn aangewakker het in die eerste plek nie.

MAAR, wat doen ons? Ons gaan bloot net aan en aan en aan. Wanneer dit vakansies is of oor naweke, wonder mens soms hoekom jy nie behoorlik kan slaap nie of hoekom jy skuldig voel omdat jy rus of iets doen anders as werk. Ek weet ek is een van hulle!

Vir my persoonlik, was 2020, die Pandemie en die hard lockdown of grendeltyd (dit klink mooier in Afrikaans maar was glad nie ‘n mooi tyd nie), ‘n rugbreker tyd. Dit was die spreekwoordelike strooihalm wat die kameel se rug gebreek het. Dit is hoe ek (en ek is seker die hele wêreld) dit ervaar het. Ek gaan nie eens sê “meeste van ons” nie, soos wat ek al te gereeld lees in artikels of hoor op video’s wat mense maak. Nee, ek maak ‘n standpunt hier dat dit ALMAL geaffekteer het.

Deur dit alles was God goed vir my. Hy is steeds, tot op hede, besig om my stadig maar seker te genees op ‘n emosionele vlak. Van al die agteroor buig oor al die jare, nie net gedurende 2020 nie. Ek meen, in ons lyn van werk gaan ons die ekstra myl (dis hoe ons dit sien en ervaar) en doen baie goed uit geloof uit, net vir dit om terug gegooi te word in ons gesigte propvol kritiek en in sommige gevalle sonder om vergoed te word vir ons tyd. Dit gebeur nie altyd nie en is vir seker in die minderheid (dis so min dit kan seker op een hand getel word reken ek). Maar die kere wat dit wel gebeur, maak dit so seer dat jy voel of jy in ‘n grot moet gaan wegkruip en wag vir die sneeustorm om verby te woed.

Ek het al oor en oor hierdie gesprek met die Here gehad – HOEKOM maak die minderheid so seer? HOEKOM affekteer dit ons so erg op ‘n emosionele vlak? Ek het nie dadelik my antwoord gekry nie, maar terwyl ek die beroemde kettle bell swings gedoen het laas week en gister, het ek wel my antwoord gekry.

Jy sien, dis eintlik baie eenvoudig. Dit vat net een, of 2 of 10 verkeerde bewegings om jou amper lam te lê (nie regtig lam nie maar dit affekteer jou in so ‘n mate dat jy nie soos normaal kan funksioneer nie) en dit is dieselfde beginsel wat van toepassing is op ‘n emosionele vlak. Selfs al is die mense wat mens seermaak in die minderheid, maak dit steeds seer, soveel so dat ons voel of ons nie kan aangaan nie.

Wat ek wel geleer het van hierdie hele ervaring is, dat as ek so voel oor iets, dan moet ek begin luister vir my emosionele spiere en dadelik ophou waarmee ek besig is. Dit gaan my so negatief affekteer dat ek nie konstruktief iets sal KAN doen vir die meerderheid mense wat nie mens seermaak nie.

Dit is wel makliker gesê as gedaan, dit sal ek vir seker erken. Maar, dag-vir-dag is die Here besig om my te genees, my te leer om op te hou doen wat ek nie moet doen nie, wat om te los en waarop om wel te fokus. As Hy dit vir my kan doen, kan Hy dit vir seker vir ENIGE IEMAND doen. Ons moet net LEER om Hom te VERTROU en te luister na die instinkte en boodskappe wat Hy aanwakker in ons Gees. Op die ou einde van die dag is dit tog maar ons Geestelike mens wat ons lei en as ons nie in sync is met die Here nie, dan gaan die resultate nie wees soos Hy dit bedoel het nie.

Bending over backwards
Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.