
Net na my kamp, wat deur Adorned through Christ aangebied was, gesels ek met iemand oor die blog en die logo wat ek met die hand geskep het. Ek vertel haar dat ek nou glad nie vir haar kan sê HOEKOM ek hom geteken het soos ek gedoen het nie, dit het net gebeur.
So loop ek die hele week en dink oor die logo. Tussen werk deur, die ander inskrywing wat ek besig was om te formuleer oor die kamp, en deur persoonlike uitdagings, deur dit alles loop en dink ek heeltyd aan hom en wonder wat het die Here nou eintlik vir my probeer sê toe ek hom geteken het?
Doen ander mense dit ook? Loop en dink aan wat voel soos 10 miljoen goed? Liewe aarde, dankie tog ons kan nie almal se gedagtes sien nie, want dit sou cluttered gewees het!
Nie te min, soos wat ek dink, begin die Here in my hart werk. Die sirkel is Sy liefde. Geen begin of einde nie, dit gaan net aan. As ek dit nie mis het nie, was dit die kern van die boodskap op ons huweliksbevestiging amper 15 jaar gelede (30 September sal ons 15 jaar getroud wees….).
Die blaartjies op die sirkel is ook hartjies. Ek was nog van altyd af MAL oor hartjies, en sedert ek uitgewerk het hoe om ‘n hartjie met ‘n Brush tip pen van Fabercastel te maak, voel dit vir my dis AL wat ek doen! Elke i moet ‘n hartjie vir ‘n kolletjie hê…..hartjies simboliseer vir my liefde. En wat is God? God is liefde!
Die kleure – groen simboliseer lewe. Jy weet wanneer plante nuwe blare kry en so…..die pienk simboliseer vrou wees. Hulle is bo-op die sirkel geteken, want ons is in God en Hy in ons. Jy kan nie sien waar hulle begin of eindig nie…ek hoop dit maak nou sin wat ek hier sê.
Die skrif is net hoe ek nou daarvan hou om te journal in my Bybel. So bietjie mooi fêncy letters en ander meer gewoon. Dit simboliseer dat ons elkeen uniek is en anders geskape is. Elkeen is mooi op sy of haar manier.
Die krulletjie onder die woorde simboliseer die mooi van die lewe. Ek dink amper ek het dit op ‘n bottel room of iets iewers gesien eenkeer en besluit dit lyk vir my mooi….ek hou van florals en soos wat ek ouer word begin ek meer en meer van blommerige goed en patrone hou.
Ek hoop nou nie ek raak ou-tannie-rig omdat ek nou 40 is nie! Lank en kort is, al doen ons iets wat op ons hart gelê word, wat nie vir ons sin maak nie, het dit gewoonlik ‘n baie groter betekenis en die Here sal dit aan ons bekend maak wanneer die tyd reg is.
Die logo gaan getransformeer word in elektroniese formaat en sodra hy elektronies is sal ek hom bekendstel aan die lesers…. Ek het die logo in Maart al geteken en eers in September het die Here vir my die betekenis gewys…God is always terribly on time. Miskien sou ek dit nie lekker verstaan het of kon oordra in Maart nie. Wie weet?
The Logo