Posted on Leave a comment

Verandering

“A change is as good as a holiday.” Iets wat my ma baie gesê het.

Hoe ouer ek word hoe meer begin ek dit begryp en verstaan. Hoe ouer ek word hoe beter begin ek MYSELF verstaan.

Jy sien ek het altyd, na ‘n besige tyd of groot projek, eers tyd gemaak om my lewe te orden. My tafel reg te pak (want liewe aarde dit lyk altyd of daar ‘n papier tornado oor hom gewaai het so deurmekaar is hy)….e-posse te lees, liaseer werk op te vang en te doen….ENIGE iets wat nie te veel breinkrag vereis nie maar noodsaaklik is vir die werk wat ek doen.

Soms sluit my “orde skep” tyd ‘n verskuiwing van meubels ook in. Tot my man se frustrasie meeste van die keer…..
Die volgende sin moet met ‘n Kaapse aksent gelees word – “Djy skrop, skrop, skrop soos ‘n ‘oender.” Dis nou ek daai. Skrop, skrop, skrop….

Maar ek besef, toe ek weereens vandag my tafel en skerm skuif en orden, (want my skuif van laas week, werk nog nie heeltemal vir my nie), dat dit MY manier is om ORDE te skep en BEHEER te neem van IETS waaroor ek beheer KAN neem.

Ons leef nou, nog meer as tevore, in tye waar ons net nog MINDER beheer oor goed het. Veral met die Pandemie saam.

Wanneer ek begin skrop, is dit asof die Here my rustiger maak. Die geskroppery HELP net om te “cope” met alles wat ek nie kan beheer nie.

Dan begin ek weer herinner word aan skrif. Een wat vir my uitstaan is Eksodus 14:14…. wees stil, die Here veg die geveg vir jou….

So tussen die geskroppery deur raak my gemoed stil en WEET ek net dat al probeer ek beheer neem oor my papiere en werk, ek NIKS anders KAN beheer nie, al probeer ek HOE hard. Dan hoor ek die fluistering in my gees – die Here veg die geveg.

“A change is as good as a holiday.” hoor ek weer haar stem in my gedagtes….

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.