Posted on Leave a comment

Immigrasie

Immigrasie. Die harde realiteit van Immigrasie het my vandag soos ‘n vuishou tussen die oë getref.

Jy sien ek staan al vir jare in die ring met hom saam. Elke keer koes ek as die houe val en hy mis.

Eers is dit my niggie wat saam met haar ouers immigreer. Sy is nog op skool so sy moet saam. Ek weet nie of sy sou wou bly as sy ‘n keuse gehad het nie.

Dan later jare is dit vriende, kennisse en net name wat jy hoor wat immigreer. Immigrasie staan soos Rocky Balboa voor jou en intimideer jou en probeer jou uitklop-hou na uitklop-hou gee.

Elke keer mis hy want dis nie SO naby nie. Dis elke keer hartseer maar dis nie hartsmense nie.

Maar díe keer is dit anders. Dis familie. Iemand saam met wie ek seker vir 13 jaar of so saam in die huis mee groot geword het. Iemand oor wie ek gehuil het, snot en trane, (by gebrek aan ‘n beter beskrywing van HOE hartseer ek was) toe sy P.E. toe getrek het toe sy die “Army gejoin” het.

Sy was die een wat ons versorg het toe my ma voldag moes begin werk. Wat vir ons slap tjips en witsous vir middagete gemaak het.

Die een by wie ek veilig voel as ek ‘n mediese krisis het. Die een wat ek bel as my kind 10 uur die aand haar kop oopval om te hoor wat om te doen want ek slaan ‘n “blank” oor wat om te doen.

My hart is in 10 miljoen stukke vanaand na ek besef het dit gaan wragties gebeur. Nie net ‘n duisend stukke nie. Nee 10 miljoen. Ge”shatter” soos hoe my ou foon gelyk het na hy geval het. Dit voel of ek steeds kan hoor hoe my hart kraak, soos wat my foon gedoen het, daai tyd toe ek hom optel na hy geval het.

Na ek vanmiddag op whatsapp op die familie groep ‘n boodskap kry dat een of ander aansoek om oor grense te gaan binne 24 uur goed gekeur is besef ek….dit gaan gebeur.

Hulle moet net vir nog een of ander iets toets dan kan hulle hul vliegkaartjies bespreek.

My hart is seer. Ek het nie eens ‘n foto saam met haar en haar gesin op my 40ste nie. Hulle kon nie bywoon nie want hul was in iemand se teenwoordigheid wat positief getoets het vir die virus. Wat toe op die ou einde ‘n vals positief was.

Sy is die naaste wat ek het aan my ma. Sy trek na my ma se kant van die familie. Sy versorg mens so mooi, al drink jy net koffie saam met haar voel dit net anders.

Sy was die een by wie ek naweke gaan bly het, gaan studeer het en eksamen by geskryf het. Haar man was my inspirasie om ‘n CA te word.

Ja ons het ons verskille gehad met tye, maar wie het nie verskille nie? Dis hoe God ons gemaak het.

Terwyl ek my gesig was vanaand, oorrompel al die emosies wat ek hier neergepen het my. Ek huil. Sluit die deur en huil saggies want ek wil nie my kinders ontstel nie.

Ek probeer sterk staan maar kan nie help om kort kort trane in my oë te kry nie.

Die realiteit is dat ek haar en haar gesin heelwaarskynlik nooit weer gaan sien nie. Nooit weer nie. Ek dink dis erger as om iemand aan die dood af te staan.

Ek probeer sin maak van alles, van hul besluit maar weet ek kan nie. Ek staan nie in hul skoene nie. Ek weet nie deur watter hel is hulle op hierdie aarde al nie. Want dit moes loutere hel gewees het om so ‘n groot besluit te neem.

Ek verwonder my aan hul “guts” om so iets aan te pak op 50 en amper 50. Om na ‘n plek te gaan waar jy nog nooit was nie. Waar selfs die ketels en proppe anders lyk. Waar almal met aksente praat. Waar goed net ANDERS is jy weet?

Om na ‘n plek te gaan waar jy sal doodgaan eendag en minderheid van jou lewe (heelwaarskynlik) gaan leef siende dat hulle teoreties reeds meer as 50% van hul lewe op aarde was.

Laas week loer ek in, soos wat ek altyd maak as ek in Pretoria is. Maar ek was lank laas in Pretoria vir iets.
Ek vermy die onderwerp want ek is nog in volstruis-“mode”. Kop in die sand en al. Hoop ek hoor verkeerd en dat hulle verkeerd gehoor het.

Ons gesels terwyl sy stryk. Dan begin sy ‘n kas uitsorteer. Dis lekker vir my. Voel soos altyd en lank terug en hoe dit altyd was tussen ons.

Sy beduie vir my van als wat sy wou maak en nooit by uitkom nie. Probeer verduidelik wat om te maak met die kunsblomme en gips. Ek het seker my gesig snaaks getrek en weer net gesê “nee dankie” en toe bars ons uit van die lag.

Dit was lekker en het my goed gedoen. Ek mis dit. Mis net die saam wees sonder enige komplikasies en “rubbish” van die lewe.

Hoe sê mens KOEBAAI vir iemand wat jou sussie is? Jou eie bloed? Hoe groet jy sonder om heeltyd te tjank?

Ek dink naas my ma se dood is DIE seker DIE moeilikste ding om te doen. Nie eens my CA eksamens was so moeilik nie. Want vir dit kon ek voorberei.

Vir die kan ek nie voorberei nie. Sal ek nooit reg wees om KOEBAAI te sê vir altyd nie.

Ek gaan die “fleshy hugs” mis. Ja daar is Skype en Zoom en whatsapp video calls. Maar dis net nie dieselfde nie.

Ek gaan jou mis sussie. Al het ek nie jou drumpel deurgetrap nie, het ek altyd geweet jy is net ‘n uur se ry in dieselfde tydzone as ek ver…..en nou gaan dit ook verander.

Posted on Leave a comment

Cryptonite & Superman

Cryptonite. Superman se swakheid is Cryptonite. Nie Crypto-currency nie ?

Jy sien, ons almal is ‘n superman of superwoman op een of ander stadium in jou lewe vir iemand.

Jy bestuur jou besigheid voltyds, werk terwyl jy kraampyne het en weier om voor die dag wat die keiser geskeduleer is in te gaan hospitaal toe. Jy probeer ‘n baba borsvoed tydens jou besigste tyd van die jaar (Februarie). Jy help bou aan entrepreneursdag speletjies, verf goed om te verkoop, werk die winsmarges uit op ‘n klein R5 verkoopswaarde begroting wat daar gestel is (dis mos ENTREPRENEURSDAG nie verkoop-duur-items-vir-R5-dag nie en jy wil jou kinders LEER van kleins af wat dit beteken om ‘n entrepreneur te wees).

Jy gaan “crazy” en maak te veel goed. Lyk soos DAAI ma wat net ALLES oordoen by sulke dae. Jy oes Clivia sade dat dit by jou ore uitkom. Koop potting soil en plant dit uit en laat hulle uitloop tot daar lekker groen plantjies is om uit te plant.

Jy ry jouself simpel agter gimnastiek aan. Sit en werk op jou laptop terwyl jou kinders se “core” sterk ge-gimnastiek word. Jy word bekend as die ma wat altyd op haar laptop werk en goed by SARS indien.

Jy gaan doen gereeld jou hare, naels, poog om te oefen, staan 4 uur op om ALLES te doen vir die dag net sodat jy voel of jy iets bereik het.

Jy sien – ek WAS daai ma. Die een wat alles oordoen het. Ek was soos superwoman vir my gesin, kliënte, vriende. Almal het altyd gesê hulle weet nie HOE ek dit alles doen nie.

Toemaar, ek het ook nie geweet nie ? ek het net gedoen.

Maar net soos Superman het ek ook iets wat my kruppel laat, inmekaar getrek en nie in staat om op te staan nie. Nie eens te noem van huiswerk take doen nie.

Ek het ook “Cryptonite”. Net soos Lex Luther dit uitgewerk het en teen Superman gebruik het, kom die duiwel en gooi, nee, oorrompel my met “Cryptonite”.

Soveel so dat ek niks meer kan doen nie. Ek doen NET die nodigste. Werk, kry my kinders reg vir skool, vat hul vir gimnastiek en lees klas, maak kos en dis dit.

Naweke slaap ek om. Ek sien nie kans vir entrepreneursdae nie en vat dieselfde ou blikkie met 3 jaar terug se “over eager” hand gemaakte goed en gaan verkoop dit weer. Hoop dat die 30 kinders in die hele skool nie agter kom dis net laas jaar se “slow moving stock” wat ek STEEDS probeer verkoop nie.

Ek meen ek voel soos superwoman as ek my kinders teen 7 uur uit die huis uit het. Ek lyk nog soos Ant Stienie, maar dis ok, hulle is aangetrek en lyk nie soos weeskinders nie en DIS AL WAT NOU TEL! ????
Dis soos “high five”, “fist pump” en bultende spiere oomblikke daai die dae wat dit vermag was. Wat “few and far between was” want AL die ander oggende is ons LAAT soos ALTYD.


Dan kom mens op ‘n punt dat jy net opgee. Word huiswerk gedoen? Ek weet nie, ek het nie krag om te redeneer met ‘n graad 6 leerling oor hoekom iets moet gedoen word nie of om te fokus nie.

Ek doen noodgedwonge graad 1 huiswerk en verduur die leesboekies se inhoud wat ek net nou die dag gehoor het toe my oudste in graad 1 was.

Ek verloor spoed. Ek voel soos die slak in “Turbo” wat oefen vir sy resies voor hy sy “turbo boost” gekry het.

Ek is op…gedaan….moeg. Net plein oor alles. Oormoeg, oorstimuleer en oor als.

Net aan die begin van die jaar gaan staan en proklameer ek “2021 the year we get things done” en ons spring weg met ‘n “bang”. Stoep word geteël, kombuis se muur word herstel en geteël, en so kap ons aan.

En dan skielik verloor jy spoed. Net soos in heeltemal. Jy voel alleen, of jy die enigste een is wat die vervlakste horlosie nog probeer wen.

Die Cryptonite is oral. Die grootste een is die Pandemie. Dit het almal se spoed gebreek. Dan is die volgende een die werk wat jy probeer inhaal omdat jy Juffrou Potgieter was van April tot Junie 2020. Wie sou kon dink dat 10 weke se fokus verloor met jou werk ‘n 12 tot 18 maande, indien nie langer nie, impak op jou werk het?

Maar nie te min. 2020 is seker DIE GROOTSTE stuk Crypronite vir 99,9% van mense op aarde. Ok dalk hier 100% want eintlik IS almal geraak deur die ding al dink hulle nie so nie.

Net vanaand dink ek weer. Dis 19 Augustus 2021. Eerder as om te sê “2021 the year we get things done” gaan ek dalk myself die vraag afvra – “what was done in 2021?”

As daardie vraag oor my pad kom wil ek trots kan staan om te sê Superwoman is terug, sy is reg en het die jaar aangepak en goed gedoen wat sy lankal moes doen.

Jy sien, skielik, en met God se genade, begin die Cryptonite weggaan. Skielik is dit asof daar hierdie “shield” of “force” om my is wat die geveg namens my veg.

Skielik is ek nie die enigste een wat teen die horlosie baklei nie. Skielik begin goed in plek val.

Skielik, vanaand, begin ek kans sien vir goed. Vir kunsprojekte, vir verf, vir die kombuis klaar maak, vir entrepreneursdag, vir huiswerk, vir meer as net die nodige doen om net deur elke dag te kom.

Skielik besef ek, dat ek net superwoman kan wees as ek iets groter en sterker het om my teen Lex Luther en sy Cryptonite te beskerm.

Daardie iets is God, sy woord propvol beloftes en geloof, hoop en liefde.

Dan kry jy weer jou “army” (jou gesin) bymekaar en begin weer beheer neem oor die ewige stryd teen tyd. As elke ou sy posisie inneem en skiet as hy moet skiet, DAN kan mens vorentoe beweeg en vordering maak.

Want – ek is tot alles in staat deur HOM wat my krag gee…..

Posted on Leave a comment

Verandering

“A change is as good as a holiday.” Iets wat my ma baie gesê het.

Hoe ouer ek word hoe meer begin ek dit begryp en verstaan. Hoe ouer ek word hoe beter begin ek MYSELF verstaan.

Jy sien ek het altyd, na ‘n besige tyd of groot projek, eers tyd gemaak om my lewe te orden. My tafel reg te pak (want liewe aarde dit lyk altyd of daar ‘n papier tornado oor hom gewaai het so deurmekaar is hy)….e-posse te lees, liaseer werk op te vang en te doen….ENIGE iets wat nie te veel breinkrag vereis nie maar noodsaaklik is vir die werk wat ek doen.

Soms sluit my “orde skep” tyd ‘n verskuiwing van meubels ook in. Tot my man se frustrasie meeste van die keer…..
Die volgende sin moet met ‘n Kaapse aksent gelees word – “Djy skrop, skrop, skrop soos ‘n ‘oender.” Dis nou ek daai. Skrop, skrop, skrop….

Maar ek besef, toe ek weereens vandag my tafel en skerm skuif en orden, (want my skuif van laas week, werk nog nie heeltemal vir my nie), dat dit MY manier is om ORDE te skep en BEHEER te neem van IETS waaroor ek beheer KAN neem.

Ons leef nou, nog meer as tevore, in tye waar ons net nog MINDER beheer oor goed het. Veral met die Pandemie saam.

Wanneer ek begin skrop, is dit asof die Here my rustiger maak. Die geskroppery HELP net om te “cope” met alles wat ek nie kan beheer nie.

Dan begin ek weer herinner word aan skrif. Een wat vir my uitstaan is Eksodus 14:14…. wees stil, die Here veg die geveg vir jou….

So tussen die geskroppery deur raak my gemoed stil en WEET ek net dat al probeer ek beheer neem oor my papiere en werk, ek NIKS anders KAN beheer nie, al probeer ek HOE hard. Dan hoor ek die fluistering in my gees – die Here veg die geveg.

“A change is as good as a holiday.” hoor ek weer haar stem in my gedagtes….

Posted on Leave a comment

Normaal

“Normal. Define normal.” Iets soortgelyk soos dit het ek gehoor op die voorskou van ‘n fliek “The Accountant” nogal. Hoe van toepassing.

Nog nooit self die fliek gekyk nie, hom op DTSV laat opneem maar net NOOIT daarby uitgekom nie…..en toe maar weer afgehaal want hy het ‘n “V” by vir die ouderdomsbeperkinge en ai, ek was nog nooit iemand vir “V” in ‘n movie nie.

Ek kyk movies met “violence” in met ‘n kussing voor my gesig en mis helfde van dit wat gebeur…..jy wonder seker hoekom ek dan so na goed kyk?

Wel, ek kry nagmerries. Droom EK is die een wat almal moet red uit een of ander ou se kloue en skiet of skop en slaan almal in die proses en baie keer kry ek dit nie reg in my droom nie, en dan word ek MOEG wakker….want ek het heelaand baklei en gehardloop.

Dis nogal ‘n jammerte ek word nie maerder of fikser wakker nie. Nee net plein MOEG.

Nou ja, dit daar gelaat en terug na “normaal” toe.

Ek het nou die dag met ‘n vriendin ‘n gesprek op whatsapp en sy sê hoe die “nuwe normaal” met maskers en die Pandemie, net nie lekker is nie.

Ek grinnik toe en vra haar “Definieër normaal”. Ek gaan “google” toe ook maar die definisie.

Ek besef al hoe meer dat “normaal” nie bestaan nie. Ons vergelyk onsself met dit wat ons ken, gewoond is aan, ander mense wat dalk eintlik GLAD NIE normaal is nie….

Wat vir my normaal is, is nie vir die volgende ou normaal nie. Hoekom kan daar nie ‘n woord wees waar elke ou, ding of fase van die lewe waarin jy jouself bevind, beskryf word nie?

Hoekom kan alles en almal nie net aanvaar word nie? God het tog alles geskape het Hy nie? Appels is “normaalweg” rond en piesangs nie…..

Hoekom vergelyk ons omstandighede en mense met dit wat ons ken en verstaan?

Die wêreldse liedjie, kan nou wragties nie die naam onthou nie, met die lirieke in “The more things change the more they stay the same” maak soms sin vir my…..

Die enigste ding wat mens EINTLIK kan verwag in die lewe is verandering. Verandering van wat ookal. ‘n Wêreld om ons met maskers – dis nou ‘n realiteit.

Mense wat ANDERS funksioneer. Dis ‘n realiteit.

Sisteme wat net nie WERK vir almal nie. Dis ‘n realiteit…..
So hoekom hou ons aan vergelyk met mense en met dit wat die wêreld verwag? Hoekom “embrace” ons nie net dinge wat nie “normaal” is nie?

Die maskers is wragties nie lekker nie, maar, die positiewe? Nou kan niemand sien ek het nie lipstiffie aan nie ? of sien as ek my gesig eintlik op ‘n vreemde manier trek vir iets vreemds nie….

Miskien moet ons normaal met bybelse beginsels vergelyk.

Wat doen mense regtig wat Jesus aanhang en volg?
Luister ons REGTIG wat die Here vir ons sê en is ons gehoorsaam as Hy ons in ‘n ander rigting DRUK as wat ons as NORMAAL sien?


Jy sien, die bybel kan nie woord vir woord elke liewe ding wat ons in die lewe ervaar in ‘n bybelvers sit nie.

Moses 3:1 sê in die geval van ‘n Pandemie moet jy die volgende doen…..

OF Moses 3:2 sê as jy nie met jou werksdruk kan “cope” nie, stel ‘n Excel skedule op.

Nee, glad nie! Maar daar is wel “guidance” in God se woord wat WEL op elke situasie van toepassing is.

Dis wat die woord so “awesome” en “lewendig” maak! Elke keer as jy dit lees kry jy nog iets meer uit dieselfde teksvers uit al het jou omstandighede baie verander!

Definieër normaal….”embrace the things that are not always normal”, kry kennis daaroor as dit moontlik is en leer om te “cope” met dit….

Posted on Leave a comment

“Serenity prayer”

“Lord, grant me the serenity to accept the things I cannot change, the courage to change the things I can, and the wisdom to know the difference.”

Dis die “serenity prayer” wat jy altyd hoor mense in die flieks bid, soos wat die kamera draai in ‘n sirkel, om almal wat sit by die AA vergadering en hande vas hou, afneem en vir die kyker terug speel.

Ek word so half vier wakker, dalk vroeër, met die woorde “Accept the things I cannot change” in my gedagtes.

Net dit.

Dit vat my so rukkie om tot verhaal te kom want nou weet ek God het met my gepraat. Dis Sy tyd die. En as ek nie NOU wakker word en neerskryf wat Hy op my hart lê nie, weet ek dat die dag wat ek vir werk beplan het net glad nie gaan uitwerk nie en ek nog meer goed wat “buite my beheer is” (wat eintlik in my beheer was) moet aanvaar en aanbeweeg.

Ek kyk op my horlosie. 03:32 met vandag se datum onder dit en die blommetjie wat links van die tyd beweeg waarna die liggie weer afgaan.

“Accept the things I cannot change” dink ek weer. Ek staan op, loop my draaitjie, en klim terug in die bed. Ek is moeg. Ek wil nog slaap. Ek werk uit dat my wekker 04h45 afgaan so tegnies het ek nog ‘n uur en kwart om te slaap. Ek weet sommer ek sal beter voel as nou.

Maar die Heilige Gees druk woorde op my hart. Woorde wat ek moet neerskryf anders gaan ek vergeet.

Iemand het nodig om die te lees en as ek nou gaan omdraai en verder slaap is die geleentheid daarmee heen.

Goed wat ek nie kan verander nie. O liewe aarde daar is baie. Die lys voel oneindig en vir praktiese doeleindes sal ek nie alles hier uitlap nie.

Maar om ‘n paar goed te noem sal ek tog ‘n lysie insluit. Net om jou ‘n idee te gee hoe my kop werk…

Van die warm en koud verstelling wat omgeruil is op ons redelike onlangse (5 jaar terug se onlangs) nuut oorgedoende badkamer, tot die mosaiek teëltjies wat die teler skeef geplak het in die stort, tot die gechipte teëls wat nou begin kop uitsteek (wat vir al die tyd wat hulle op is onder grout weg gesteek was), tot ons ongelooflike deurmekaar huis, ons onpraktiese huis en die pappegaai wat sy koerante skeur frustreer my, om net ‘n paar te noem.

Oor min goed het ek beheer in die kort lysie bo. Jy sien al die “issues” in ons badkamer is goedjies wat ek nie beheer oor gehad het nie. Ek kan seker als wat my pla gaan oordoen en reg maak, maar ek WIL nie. Is nie LUS vir die gekappery en stof nie. Nie eens te praat van die geld nie en ook nie van die frustrasies wat kom saam met ‘n badkamer oordoen nie.

So ek los dit. Ek kies om nie elke keer kop onderstebo onder die kraan te staan en kyk vir die blou strepie op die kraan wat warm water uitgooi nie.

Ek stort meerderheid van die tyd met my rug na die skewe mosaiek teëls toe en kyk, maar sien nie, as ek instap in die badkamer nie.

Die getjipte teëls is nie so opsigtelik nie so ek gaan soek hulle nie die heeltyd op nie.

Die deurmekaar van die huis voel ek net of ek moed op mee gee op die stadium. Dit help wragties nie ek is die enigste een wat goed op hul plekke terug bêre en goed weggooi wat nie nodig het om rond te lê nie. Veral nie as ek twee klein tornado’tjies (die kinders as jy gewonder het) ook nog het wat bydra tot die chaos nie.

Hulle is nie meer so klein nie, maar ai, die pennie van goed bêre as jy klaar is daarmee, wil maar net nie val nie, jy weet? Ek troos maar myself aan dit wat almal my vertel as ek omverskoning vra vir die deurmekaar huis….”toemaar, ons verstaan, die kinders is nog klein. Dit raak beter.”

Die onpraktiese huis bid ek reg sodat EK dit sal aanvaar en embrace, want ek kan nie mure skuif en te kere gaan soos wanneer ‘n lego huisie gebou en reggemaak word nie. Nee dit val in dieselfde kategorie as die badkamer se issues en die vet alleen weet ek het nie nou nog tyd, geduld, lus of geld vir daardie renovation nie.

So kan ek deur elke item in my lysie hardloop en evalueer waaroor ek beheer het en wat ek net moet aanvaar.

Jy sien 95% van die tyd PLA die goed op my lysie nie altyd nie.

Maar daar is hierdie 5% wat dit my so mal maak dat ek voel ek teen die mure wil uitklim. Of skree tot ek beter voel.

Daar is ‘n rede hoekom dit nie 99% van die keer is nie maar 95%. Ek het nou glad nie ‘n wille woeste indrukwekkende Excel formule geskryf wat die persentasie bereken het nie.

Ek weet net die tyd wat dit my pla is nie so hoog soos 99% nie. Kom ons wees nou maar eerlik oor die goedjies.

Nou ek het al geleer dat as ek so voel, is die deurbraak naby. Alhoewel gister, laas week of laas maand meer perfekte tyd sou wees, “thank you very much”. Maar dit is nie.

Dis iewers in die toekoms op God se tyd.

Ek raak moedeloos as ek dink ek moet die huis oppak om te “renovate” want hier is soveel goed wat ons net van die begin af moes weggooi wat rond lê.

Elke dag se bietjie elke liewe dag.

Woorde wat een van my gunsteling onderwyseresse op skool altyd gesê het. Wat ek as 17 jarige matrikulant net glad nie begryp het nie.

Ek weet ook dit help nou glad nie om die leuen van die vyand te glo oor hoeveel beter af ek nou sou gewees het as ek maar net alles gedoen het soos ek dit moes doen…..”hind sight” is ‘n wonderlike ding. Sy doen mos ALLES reg….

Al wat ek kan doen is bid dat die Here my sal LUS maak om die uitsorteer werk te doen en my te help om te aanvaar dit wat ek nie kan verander nie. Ek het dan vir jare gebid dat Hy my van oefen sal laat HOU. En hier is ek nou. Ek HOU van oefening. So gebed werk.

Ek weet ek gaan my “satisfying” oomblik beleef die dag wat my seun se speelkamer uitgesorteer is, en ek en hy die dag vat en deur alles gaan en herinneringe oproep van die speelding en daardie boek. Wanneer ons gaan evalueer wat moet bly en wat moet ry.

“Accept the things I cannot change.” Here ek bid vandag en elke dag net vir kennis, wysheid en onderskeiding vir myself en elkeen wat die inskrywing lees. Onderskeiding om te weet wat MOET ons aanvaar en wat kan ons verander.

Dan bid ek ook vir die energie om die goed wat ek wel kan verander te kan aanpak en doen. Ek weet die beloning is groot. Ek moet dit net DOEN.

Posted on Leave a comment

Is jou tenkie vol of leeg?

Soos ek vanmiddag laat geduldig wag dat my kar vol diesel gegooi word, kyk ek om my rond. By elke pomp is daar karre en sommige wag in ‘n ry om gehelp te word.

Die motorhawe (ek wou net “fêncy” klink om die woord te gebruik) is besig. Besiger as waaraan ek gewoond is.

‘n Vreemde gesig vir my, want sien, ek woon op die platteland. In die dorp groot geword maar al so aangepas op die platteland omdat ek nou al 17 jaar (wow is dit so lank?) hier woon. Ek het al VERGEET hoe “hectic” dit kan raak by ‘n vulstasie.

Dit lyk vir my amper soos ‘n drukgang waar die een voertuig na die ander voertuig stop, volmaak en weer ry.

Ek bly darem nie in ‘n “one horse town” nie, maar wanneer ek gewoonlik diesel ingooi is dit ek en DALK nog ‘n kar wat wil geholpe raak.

Ek glo jy kry nou die prentjie wat ek probeer skets.

Ek persoonlik is NIE iemand wat volmaak die aand voor die petrol en diesel prys opgaan nie. Maar vanaand was ek so iemand, want sien, my kar was leeg en ek kort diesel.

Ek ken mense wat net ander dag se gister ingegooi het en nog nie ‘n kwart tenk uitgery het nie, wat weer volmaak omdat die prys opgaan.

Ek rol gewoonlik my oë want ek redeneer dat daai paar liter wat jy ingooi nou nie noodwendig ‘n beduidende verskil op die sak gaan maak nie. In elkgeval nie vir my nie want ek ry nie so baie nie en gebruik nie so baie diesel nie.

Nou ja, terug by my storie….alle karre kort ‘n “refuel” een of ander tyd. Of jy nou elke dag werk toe en terug ry en of jy net elke ander dag 2 keer per week ry. Brandstof kort jy.

Soos wat ek stil-stil observeer (was alleen in die kar sonder kinders wat my met vrae of woorde peper) is dit asof die Heilige Gees op my hart kom druk dat ons Gees mens ook moet kom opvul.

Enige tyd. Of jy jou op “E” vir “empty” is en of jy minder as ‘n kwart tenk uitgery het. Jy moet jou tenkie vol hou anders gaan jy nêrens kom nie…

Die “E” op die tenk staan toe nou nie vir “Enough” nie maar wel vir “Empty”.

Waar staan jou geestelike tenk se naald? Hou jy hom gereeld vol? Maak jy tyd vir God? Spandeer jy tyd in die woord?

Dis alles vrae wat ek my eie geesmens afvra. Doen EK genoeg?? Ek voel so dit druk op my hart dat ons tyd hier op aarde min is.

Maak AL hierdie “stuff” wat ons van “pillar to post” rondjaag in die lewe REGTIG saak? Wat maak saak??

Wanneer laas het jy ‘n tydstaat van jou dag geneem? Vlieg die dae nie dalk SO vinnig omdat ons onsself met snert besig hou nie?

Ek weet nie altyd wat die antwoord is nie. Waar om die goue midde weg te vind nie.

I just don’t know…..maar die Here weet. Dit weet ek. Hy weet altyd die beste…..

Dis nou die tyd om my tenkie te gaan volmaak by my vulstasie wat my nie in ‘n ry laat wag nie….want sien daar is nie ‘n prysverhoging wat almal vrees in jaag nie…..

Jesus staan ALTYD heeldag en aldag met Sy arms oop. Reg om ons op Sy skoot te verwelkom.

Die keuse lê by elke individu op aarde of jy op sy skoot gaan sit en net “wees”.

“He is in the waiting…..take courage my heart, stand steadfast my soul, He’s in the waiting….” hoor ek ‘n liedjie van Kristine DiMarco deur my kop kruip…..