Posted on Leave a comment

“Altitude sickness”

Vanoggend toe ek stort, toe dink ek steeds aan die siekte wat mense wat bergklim kry. Ja, ek het vir 2 dae met dit in my kop rondgeloop.

Nou ja, die antwoord het na my toe gekom. Dis “altitude sickness”. Ek het natuurlik in my geheue se vermoë getwyfel, want dit het so ordinêr en plat geklink. Nie so “fêncy” soos wat ek dit in my kop gehad het nie.

Toe gaan google ek maar net om seker te maak, en so waar as wragties, is my geheue toe nou nog wat hy was, en moes ek omverskoning vra dat ek haar betwyfel het. Ek het maar besluit my geheue is ook ‘n vroulike iets omdat ek ‘n vrou is. Net so van die os op die jas “useless” kommentaar.

Goed so toe ek nou daai een opgeklaar het, weet ek dat ek gister geen inskrywing gemaak het oor my vordering van my Mount Everest nie.

Jy sien, my werk ervaar ek nou baie soortgelyk aan bergklim (ek is nou nie ‘n “expert” nie en het nog nooit berg geklim nie) en weet ek sommer dis net een moerawiese “awesome” openbaring van die Here af, want EK kan nie so iets uit my eie self uit meebring nie.
Nou ja, laat ek nou nie weer van die spoor af dwaal nie.

So jy sien, na Maandag se oorlogkreet teen my werk aka Mount Everest, het ek hom toe nou nie geklim tot waar ek wou wees Dinsdag nie.

Net soos wanneer mens bergklim, gebeur daar goed wat buite jou beheer is, soos sneeu storms, winde wat waai, reën en so meer. Die storm van die Pandemie waarin ons onsself bevind het ook glad nie vir enige vordering gehelp nie….en moet ons almal dit ook trotseer en deur sien…..

Maandag het die spreekwoordelike wind so erg begin waai dat ek letterlik nie een tree vorentoe kon gee nie en dus glad nie vordering gemaak het nie.

My ervaring van Maandag was dat ek nog by “base camp” was. Ek wou berg klim en toe kom die tegnologie soos ‘n wind wat waai en waai en waai (die wat die koue fronte in waai) en kon ek eintlik nie die vordering maak soos wat ek beplan het nie.

Gister (dis nou Dinsdag) kon ek redelike vordering maak maar weens die vorige dag se vertragings, was die vordering nie na wense nie en het die tyd my gevang. Ek moes noodgedwonge kamp opslaan om te rus vir die nag.

My vordering gister was weereens gehinder deur nog ‘n onbeplande en onvoorsiene weerstoestand (alweer tegnologie) en die keer was almal wat saam met my die berg klim geaffekteer op een of ander manier en dit was bloot omdat ons “router” by die kantoor wat die internet voorsien, nie behoorlik gewerk het nie….

Vanoggend het ek kamp opgepak om verder te klim, en na ons (letterlik) ‘n heerlike onbyt geniet het by die Wimpy, besluit ons toe nou om die tog verder aan te pak.

Die storm van gister was nog nie heeltemal verby nie en het nog 2 ure geduur, langer as wat die weervoorspelling gelyk het.

Maar teen 12 uur vandag het die wind bedaar en het die son weer begin skyn. Ek kon aangaan met my werk. Die ergste van die storm was verby.

Terug agter die tuig het ek nog ‘n laaste paar rukwinde gehad wat my momentum probeer stop het, maar ek het voortgebeur. Die “printers” (die Afrikaans is mos “drukker” maar NIEMAND praat van ‘n “drukker” nie), het nie gewerk nie, moes rekenaars weer af sit en aansit. Die “router” by die tuiskantoor wou ook nie werk nie en díe moes ook af en aangesit word.

Dan is die skootrekenaar (“laptop” soos ons almal maar eintlik praat) stadig en traag om te reageer.

Soos wat al hierdie winde getrotseer word, besef ek eintlik wie en wat verantwoordelik is vir hierdie storms. Ek besef wie probeer ons klim keer.

Net daar en dan bestraf ek ou knopkop (die duiwel as jy gewonder het) en bind sy werke in die Naam van Jesus.
So vinnig as wat die storm gekom het, so vinnig bedaar hy ook en werk alles soos wat dit moet en niemand WEET eens daar was ‘n storm of ‘n wind wat gewaai het nie.

Nou soos wat ek die inskrywing maak, dwaal my gedagtes (alweer en soos altyd) na vanoggend se gedagtes en wat ek alles gedink het ek wou neerskryf.

Ek word toe herinner (alweer my “life line” die Heilige Gees wat my altyd help) aan iets wat ek wou tik oor die “altitude sickness”.

Ek verstaan nou en besef nou, soos wat ek terug kyk oor die afgelope paar jare en veral meer onlangs seker die afgelope 5 tot 10 jaar, dat ek gereeld “altitude sickness” ervaar met my werk.

Jy sien ek klim my berg, het hoë verwagtinge en haal nie my daaglikse mylpale nie want ek probeer te gou te vinnig klim.

Dan voel ek die effek van dit, my “altitude sickness” en vat dinge rustiger. Werk en klim my ou bergie wat daar vir my gestel is.

Dan net soos wat ek regtig lekker en sterk voel (want ek het so een goeie nag rus in dalk 7 dae as ek so gelukkig is) dan ooreis ek weer myself en klim weer te vinnig te gou.

So kap ek al aan vir jare. Ek het, al lankal eintlik, ook besef, ek dra onnodige bagasie saam met my en doen te veel wat eintlik geen vordering wys nie.

Kom ek verduidelik – die bagasie wat ek dra is goed wat my terug hou soos om take te verrig wat eintlik glad nie my vordering bevorder en komplementeer nie.

Dis om goed aan te hou doen vir mense wie jy nie in die hande kan kry op enige manier van kommunikasie nie (van telefoonoproepe tot e-posse tot Whatsapp en sms boodskappe) maar ‘n valse verpligting en verantwoordelikheid voel teenoor díe mense.

Die ander ding wat mens terug hou is om aan te hou werk vir mense wat jou nie help om die werk te doen wat hulle vereis nie. Dis nou ‘n tweeledige stelling hier – help in die sin van jou rekening betaal om jou uitgawes te dek en help in die sin van inligting verskaf om die werk klaar te kan maak teen die sperdatums wat gestel is.

Nog iets wat mens terug hou is al die wetgewing. As jy alles self probeer doen en analiseer en verstaan dan gaan jy dit vir seker nie maak nie.

So gaan die lysie aan en so moet ek evalueer met elke ding wat ek het en aanpak en doen en gebruik of dit WEL die REGTE ding is. Gaan ek vordering kan maak of gaan dit my terug hou? Wat is dooie gewig en wat is nodig?

Wat gaan my vir ‘n vlietende oomblik help maar weer net so laat “crash” soos ‘n Bar-One mens laat “crash” en moeg maak?

Ek het geleer dat daar tye is wat jy goed self doen, mense en kliënte is vir wie jy ordentlik en beskaafd “nee” voor sê, personneel aanstel om te help met die werk en iemand betaal om die wetlike aspekte vir jou te verduidelik in opleiding en die “manuals” wat jy nodig het koop en voltooi sodat dit vir jou besigheid werk.

Wanneer ek so terug kyk na my spreekwoordelike werk-berg wat ek begin klim het vandat ek 17 jaar oud was (ja ek het gematrikuleer toe ek 17 was en het eers die April 18 geword na ek ‘n paar maande reeds gewerk het) weet ek daar was goeie tye en slegte tye.

Die slegte tye voel soos die storms wat mens ervaar en die goed wat dooie gewig is wat maak dat jy geforseer word om kamp op te slaan en die ding deur te sien en nie vordering te maak soos beplan nie.

Is die slegte tye waar jy nie vordering maak nie lekker? GLAD NIE!!!

Maar ek weet dat dit nodig is. In hierdie tye word karakter gevorm en lesse geleer. Soms duur lesse. As jy skerp genoeg is, sal jy uit jou foute leer sodat jy nie heeltyd op dieselfde plek vasgevang word en nie vordering maak nie. As jy nie uit jou foute leer en doelbewuste beter besluite neem nie, sal jy stagneer. As jy aanhou om daar te bly gaan die storms van die lewe jou tent, waar jy kamp opgeslaan het, toe waai met sneeu en gaan jy verkluim en nie verder KAN beweeg nie, al probeer jy.

Ons almal het ons berg wat ons moet klim. Dis die lewe. HOE jy dit doen is jou keuse. Met watter hulp jy dit doen is ook jou keuse.

As jy alles uit eie mag probeer doen gaan jy nie noodwendig die vordering maak soos jy moet en beplan nie.

Eers wanneer jy jou berg oorwin het en jou “summit” bereik het, het jy jou doel op aarde bereik. Al die pad boontoe leer jy lesse, help jy mense, word jy gevorm.

Ek kies om die Heilige Gees as my hulp te aanvaar. Soms probeer ek goed self doen maar dan is daar Goddellike ingrypings wat help dat die pad boontoe weer meer vlot verloop en daar vordering gewys word.

Hier is op my berg wat ek elke dag klim. Mag ek altyd Goddellike wysheid hê en ingestel wees om die Heilige Gees ALTYD te HOOR en die REGTE ding te doen.

Dankie Here dat die storms van tegnologie en ander uitdagings my nie sal hinder en terug hou nie. Dankie dat ek elke keer my tent sal opslaan en verder klim en vordering maak. Dankie dat ek alles altyd sal doen tot eer van U naam.

Doen alles asof vir God en nie vir mense nie.

Kolossense 3:23 tot 24.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.