Posted on Leave a comment

Spring vorentoe

Spring vorentoe – Saterdag 8 Julie 2017. Ons (probeer) beurte maak om te kuier by my ma in die hospitaal sodat sy nie alleen sal wees nie maar dit werk nie so lekker nie want ek bly ver en moet reistyd in ag neem en ‘n drie jarige wat “clingy” raak by tye en ‘n kliënt wat in die middel van groot transaksie is wat druk plaas om goed klaar te maak….

Dit was nog nooit vir my ‘n vreemde verskynsel om op ‘n naweek te werk nie, ook nie as my ma siek was nie. Ek het gedoen wat ek kon en moes, i.t.v. werk, en dan weer probeer tyd maak om by haar te wees en aandag aan kinders te gee en net almal gelukkig te hou.

Daardie naweek was nie anders as vorige ander kere nie…..
Ek maak klaar met wat ek moes doen en ry deur hospitaal toe. Genadiglik is Little Company of Mary (of Life Groenkloof soos ons hom nou ken en roep) se onkologie afdeling nie streng met besoektye nie.


Ek kom daar aan vroegmiddag se kant, dink net na middagete. Sy slaap. Ek kyk na haar en dink in my hart dat sy dalk eerder slaap as besoekers nodig het op die stadium.

Sy lyk so oud. Weerloos. Ek voel magteloos want ek kan niks doen as om te sit nie. Ek probeer stil wees om haar nie te pla nie. Kyk maar deur Facebook op my foon (mens kan net soveel FB in my opinie).

Ek weet nie hoe lank ek gesit het nie….sy word wakker. Lyk verbaas om my te sien. Beduie vir my van ‘n Telkom rekening wat sy moet betaal en of ek dit kan doen vir haar.

Ek weet nie wat om te gesels nie. Vra maar hoe dit gaan en hoe sy voel. Praat oor die kinders en allerhande ditjies en datjies. Kan nie regtig die gesprek onthou nie. Ek weet ek het omverskoning gevra dat ek nie vroeër daar was nie. Trek my skouers op -werk- is my antwoord.

Sy knik en sê sy verstaan. Volgende oomblik, uit nêrens uit, sê sy dat sy nie weet hoe ons dit reg kry nie.

“Wat reg kry ma?” Vra ek. Heeltemal deurmekaar want dit pas nie in by waaroor ons gesels het nie.

“Om die druk te hanteer” is haar antwoord. Ek frons. “Druk?” Vra ek.

“Ja druk” bevestig sy. “Jy weet toe ek jonger was, het ons stelselmatig gewoond geraak daaraan. Die druk. Die veranderinge. Maar julle” en sy wys na my “julle moet dit net doen. Net hanteer die druk.”

Ek kyk na haar HEELTEMAL uit die veld geslaan. Waarvan praat ons nou? Wonder ek. Maar ek beaam wat sy sê en die gesprek gaan weer in ‘n ander rigting.

Ek vertel haar dat ek nie Sondag kan kom nie. Die kliënt druk vir die state om klaar te kom, verduidelik ek. Sy knik en sê sy verstaan.

Sondag kom en gaan en ek werk en wees ma en vrou en wat ookal van my verwag word hier by die huis daardie dag.
Maandag is ek in ‘n vergadering. Net na die vergadering sien ek my suster het gebel of bel my ek kan nie meer onthou nie.

“Die kanker is terug” hoor ek haar sê. “Oral in haar hele lyf”. Ek frons weer (iets wat ek baie doen as jy vir my gesig kyk met al die lyne tussen my oë).

Ek sê “Dis reg ek sal deurgaan maar eers vanmiddag want ek moet nog ‘n vergadering bywoon. Een wat ek nie kan herskeduleer nie.”

Dis weer die een aan wie se goed ek gewerk het die naweek. Jy sien almal druk. Almal eis hul pond vleis. Ek is in die vergadering en dit kan nie gou genoeg klaar kom nie. Ek knip geselsies kort na die tyd en maak verskoning.

“My ma, kanker versprei en terug” is die rede.

Ek jaag huis toe, tel die kinders op (want ek het niemand om hul by te los nie). Koop my seuntjie (toe ? om met ‘n Lego by Makro sodat hy net in die kar klim en onnodige tyd nie verloor nie.

Jaag by Makro in, soek wat ons soek, koop wat ons moet koop. Maar in die tussen tyd het dit spitsverkeer geword. Ek ry om my pa op te tel by my sussie se huis sodat ons saam kan deurgaan na my ma toe.

Die kinders kla hulle is honger toe ons by my ma is. Hulle sien haar sappies in die yskas en broodjies wat sy nie geëet het nie. Vra vir dit. Ek raas ongeduldig want sy het die kos en sap meer nodig as hulle. Sy is siek.

Sy sit op die bed en lyk weerloos. Sy eet haar sop. Mors op haar ken en kom dit nie agter nie. Vertel my hoe vreemd dit is dat sy nie kan loop nie. “Skielik vanoggend” vertel sy my.

Die kinders is besig. Raas. Maak dit onmoontlik om te fokus op ons gesprek. Ek bly net 45 min en sê ons gaan maar ry want die kinders is oral en hulle ontwrig die hospitaal en ek is bang ek word uitgegooi en verban omdat my kinders besig is.

Min het ek geweet dat dit die laaste wedersydse gesprek sou wees. Die laaste keer dat ek haar wakker en helder sou sien.

“Little did we know…..”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.