
Nie lank na die son haar arms kom strek het oor die horison nie, het die maan besluit om ook te kom “afshow”. So op ‘n statige manier. Soos wanneer jy mooi aantrek vir ‘n “fêncy” funksie. Jy weet, aandrok, blink juwele, hoë hakskoene….
Die maan het haar romantiese sy kom wys, haar lig helder genoeg geskyn deur die boom se blare. Die bietjie wat nog oor is. Want, onthou jy, die winter is besig met sy boksgeveg en die blare val een na die ander, dag na dag.
Die maan het die wolke om haar gedrapeer, amper soos ‘n bruid se sluier. Sy het die wolke net genoeg kans gegee om haar mooi gesig te wys, net soos wanneer die bruid se sluier gelig word en haar bruidegom haar sien vir die eerste keer daardie spesiale dag….
Soos wat ek vir die maan kyk voel ek ‘n fluistering in my binneste….die Heilige Gees wys vir my dat die Here in die donker is ook. Ons word soms oortuig dat die donker net sleg is….
Die Here het die donker en nag gemaak sodat ons kan rus….met ‘n sagte lig om net genoeg te wys sonder om jou helder wakker te maak as jy sou besluit om op te staan deur die nag.
“Don’t despise the darkness” hoor ek Hom sê. “For He who created the world, the stars and you whom he called by your name even before you were born, created the night so that you may rest. For your flesh is weak and needs the rest. Take it with open hands and make the best of each night too.”
Ek dink ‘n rukkie na oor wat ek gehoor het. Ek hoor en ek verstaan.
Soms wil ek nie gaan slaap nie want ek wil net nie. Ek kan nie vir jou ‘n rede gee oor HOEKOM nie. Ek kan net nie.
Ek is verby moeg maar kan nie slaap nie. Ek weet ek moet….
Ander aande voel die nagte lank. Ek word baie wakker en kyk op die horlosie. Soms verlig as ek sien ek het nog 5 tot 6 ure oor om te slaap. Ander kere verbaas dat ek so uitgerus voel na net 3 ure se slaap.
Ek kyk weer na die maan en weet dis die teken dat dit tyd is om te rus….maak nie saak wat alles nog moes gebeur by die kantoor nie. Maak nie saak wat wat môre gaan gebeur nie.
Op hierdie huidige oomblik is dit die belangrikste ding om te doen – rus wanneer jy moet sodat jy die vreugde van die oggend met ope arms kan ervaar.
Die maan knipoog vir my voor sy weer haar wolkesluier oor haar gooi sodat niemand haar gesig kan sien nie…..