Posted on Leave a comment

God se prinses

Gisteraand lees my 7 jarige dogtertjie (ja kan jy glo my baba lees al!) die titel van die boek (foto aangeheg by hierdie inskrywing).

Sy klank hom uit en vra vir hulp met sommige van die woorde. Sy vra toe wat sy gelees het. Ek lees die titel “Bybelstories vir God se klein prinses” weer vir haar.

Sy kyk my met ongeloof aan, sê-vra vir my “Is EK God se klein prinses?”

“Ja!” Antwoord ek haar. “Jy is Sy prinses!”

Sy bly ‘n oomblik stil. Toe raak sy baie opgewonde en sê baie trots “EK is SY prinses!” Sy giggel en spring van geluk.
Ek kyk haar so en dink by myself, DIS hoe opgewonde ONS moet wees om SY kinders genoem te kan word.


Dit het my verbaas, die opgewondenheid en onskuld van ‘n kind. Hoe opgewonde sy kan raak oor ietsie soos dit.

Maar ek dink weer. Hierdie is nie ‘n “ietsie” nie. Dis GROOT.

Dit verdien om die opgewondenheid en gejubel te kry, net soos wat sy oomblikke tevore gemaak het met haar opgewonde dansie….

Ongelukkig, met tyd, word die groot ding in ons lewe, om SY kind genoem te word afgemaak as ‘n ietsie “nice”. “A nice to have” amper wil ek sê.

Ons leef in ‘n wêreld wat nie ewigheidswaarde verstaan of ken nie.

‘n Wêreld waar mense jou getuienis afmaak as iets wat fout is met jou en die boodskap mis. Wat nie saam opgewonde raak as iemand hul hart vir die Here gee nie.

‘n Wêreld wat nie verstaan hoe groot dit is om SY kind genoem te word nie.

‘n Wêreld wat nie verstaan hoe bevoorreg ons is om Hom te ken nie. Om Hom vrylik te kan dien nie. Om wonderwerke te kan beleef al is dit in die geringste dingetjies van ons alledaagse roetines of groot besluite in ons lewens….

Ek sit weer hier met ‘n dankbare hart. Dankbaar dat die Here my kinders vir my geleen het vir my tyd hier op aarde. Dankbaar dat Hy vir my ‘n seun gegee het wat “random facts” opnoem en ken soos wat jy 1+1 ken.

Dankbaar dat hy vir my ‘n huppel reënboog dogtertjie gestuur het.

Beide om my aan Sy goedheid en grootheid te herinner op verskillende maniere.

Dankie Here dat ek U kind genoem kan word! Ek sien al hoe my geesmens huppel en lag van plesier, hoe sy dans met Hom wat haar gemaak het terwyl die reënboog en sonskyn die agtergrond versier en afrond.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.