Posted on Leave a comment

Skinder

Juffrou Het-Jy-Gehoor Skinder….sy is ‘n oujong nooi….sy het geen verantwoordelikhede nie en het niks om te doen en haarself besig te hou nie.

Wat sy wel doen om haar dae om te kry, is om storietjies van ander mense oor te vertel vir enige iemand wat ‘n oomblik het om te luister.

Sy lyk ouer as wat sy is en sy vertel vir jou dat sy glad nie rook nie. Sy is ‘n geleentheidsroker en rook NET wanneer sy ‘n skinderstorie oorvertel….wat die heeltyd is so eintlik is sy ‘n kettingroker maar wil dit nie erken nie.

Soms vang jy haar waar sy oor die draadheining hang en met haar buurvrou gesels, met haar japon aan, ‘n “curler” in haar kuif en sigaret in haar hand.

Ander kere is sy netjies aangetrek, jy kan haar deur ‘n ring trek…hakskoene aan, grimering gedoen en sigaret in die hand…..

Sy begin altyd met “Het jy gehoor…..” en dan volg die res van haar storie, gewoonlik negatief en afbrekend (glad nie opbouend nie).

Wanneer sy ‘n skinderstorie oorvertel, gee sy ‘n dramatiese stilte tussen in, trek haar oë amper op skrefies soos wat sy die sigaret trek en die kooltjie vooraan bloedrooi word soos wat sy die rook inasem. Dan vertel sy die hoogte punt van die storie.

Die rook dampe hang om haar, ook so snaakse reuk en groen kleur….dis nie van die sigaret se rook nie. Nee, die dampe om haar kom uit haar woorde uit wat hang in die lug. Jy sien haar woorde wat sy uiter is meer toksies as die sigaret wat sy rook.

Haar stories is gewoonlik halwe feite, hoor-sê derde-handse inligting wat sy by iemand gehoor het wat iemand ken waaroor die storie gaan.

Jy sien haar stories is gewoonlik halwe waarhede wat eintlik maar net leuens is. Sy verlustig haar in ander se smart, swaarkry en vertel met smaak gewoonlik dit oor….sit so ietsie by net om die storie “op te spice”.

Ek hou haar op ‘n afstand dop.

Ek staan lankal nie meer in haar geselskap nie want die rook wat uit haar woorde kom bedwelm jou en trek jou in haar web van leuens en stories in.

Voor jy jou kan kry praat jy saam, kan jy nie wag om die volgende negatiewe storie oor te vertel nie…

Ek kan haar genadiglik vroegtydig identifiseer en myself betyds keer voor ek saam praat….voor my woorde ook toksies word en reuke en groen rook in die lug agterna laat…..

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.