Posted on Leave a comment

Afguns en Jaloesie

Meneer Afguns Jaloesie Ek-gun-niemand-iets. As jy hom die eerste keer sien dan vang jou oog iets wat nie reg lyk nie maar jy kan nie jou vinger op dit plaas nie.

Jy kyk weer, nog ‘n derde keer. Daar is dit! Sy vel het so ligte groen ondertoon. Hy lyk amper soos iets uit ‘n “horror movie” se kleur – jy weet dit wat jou laat wonder lewe die ou of is hy dood want sy KLEUR lyk nie soos iets wat by een van die twee opsies hoort nie.

Wanneer hy praat, kom daar groen dampe uit sy mond uit wat saam met sy woorde uit kom en in die lug hang. Dit stink en ruik soos vrot eier.

Hy is nou nie vir jou die tipiese “ray of sunshine” nie. Hy praat afbrekend van enige iemand wat iets het wat hy nie het nie en graag wil hê.

As jy het wat hy wil hê, dan raak hy amper obsessief met dit wat jy het en begin jou “stalk” as jy iets het wat hy nie het nie en graag wil hê. Dit is AL waaroor sy gesprekke gaan.
As jy lank genoeg tyd in sy teenwoordigheid spandeer bedwelm die vrot eier asem reuk van sy woorde jou.


Jy kan self nie meer reguit en logies dink nie. Hy maak jou “hooked” op die volgende materialistiese ding. Saam begin julle te praat en te obsesseer oor hierdie DING wat julle NODIG het (wat glad nie nodig is nie en jy al so lank sonder geleef het so watter verskil gaan dit maak of jy dit vandag kry of nie).

Hy begin in jou oor fluister en sê jy MOET dit VANDAG nog kry anders is jou lewe leeg, doelloos.

Eendag kyk jy in die spieël en jy skrik. Jy sien iets is af maar kan nie jou vinger op dit plaas nie. Jy kyk ‘n tweede en selfs ‘n derde keer weer. Dan SIEN jy dit. Jou vel begin ‘n groen ondertoon wys.

Kyk geen grimering van enige “expert” en “guru” sal hierdie amper doodskleur van groen kan wegsteek nie. Dis oral…jy sluk hard as jy tot die besef kom van wat besig is om te gebeur.

‘n Rukkie later het jy ‘n gesprek met iemand en dan ruik jy dit. Jy wonder eers wat het waar doodgegaan want dit vrot!! Dan besef jy dat dit JY is wat so stink.

“Ag nee siesa man! Dis gagga!! Hoekom wil ek so ruik?” vra jy. Jy begin redeneer oor die ding wat jou lewe wil-wil oorneem. Debateer of dit REGTIG nodig is. Of jy REGTIG die geld het vir dit.

Hoe meer jy daaroor redeneer hoe meer van ‘n hol kol voel jy op jou maag. Jy begin naar voel. Besef dat die DING waaroor jy obsesseer nie nodig is nie.

Dan kom jy agter wat eintlik besig is om te gebeur, want die Heilige Gees het Sy soet geur om jou uitgeblaas. Sodat jy nie die vrot eier reuk meer kan ruik nie.

Dit wat besig is om te gebeur is dat hierdie ou, Meneer Afguns Jaloesie Ek-gun-niemand-iets-nie EINTLIK ‘n baie GROTER probleem het as wat jy besef.

Jy sien hy het ‘n hol kolletjie wat hy probeer vul. Hy is ook naar van die hol kolletjie wat net nie vol wil kom nie. Hy probeer alles en vir etlike oomblikke na hy iets gekry het waaroor hy geobsesseer het of na hy iets leliks gesê het van iemand, is die hol kol weg. Voel hy tevrede.

Maar dis nie lank nie, dan is die hol kol terug en nog erger as voorheen.

Jy sit oorkant die Heilige Gees by ‘n tafel terwyl Hy alles vir jou verduidelik. Jy luister aandagtig. Dit sink in. Dit maak sin.
“Wat kan ek doen?” Is jou vraag aan Hom. “Wat vat hierdie hol kol weg?”


Sy antwoord is eenvoudig. “Jesus. Die lewende water. Wie die lewende water drink sal nooit weer dors kry nie. So staan dit in die Bybel.”

Jy dink ‘n oomblik na en besef Hy is reg. Jy kyk Hom weer in die oë en Hy wys na die glas water voor jou.

“Drink” kom die opdrag “dan sal jou dors geles word, jou hol kol sal weg gaan.”

Jy tel die glas op, merk hoe lekker dit lyk. Jy vat ‘n sluk. Magties dis HEERLIK!! Jy vat nog ‘n sluk en nog ‘n sluk. Wow. Die hol kol begin weg gaan. Dit werk!!

Jy sit die glas neer. Kyk en kyk weer – iets is nie reg nie. Hy is dan nog vol? Na jy drie slukke geneem het? GROOT slukke.
Die Heilige Gees sien die onsekerheid van wat nou gebeur het. “Moet nie bekommer nie”, kom die gerusstelling. “Die glas sal altyd vol bly want dit kom uit die put van Lewende water wat nooit opdroog nie.”

Jy kyk op en knik. Dis waar. Sodra jy leeg voel en voel of die hol kol in jou lewe jou wil “consume” kan jy net weer ‘n slukkie lewende water uit God se woord vat. Iets kry wat jou bemoedig, stig, ophou en vol maak.

Weg is Meneer Afguns Jaloesie Ek-gun-niemand-iets-nie. Sy reuk is lankal vergete en al wat jy ruik is die soet aangename geur van die Heilige Gees en al wat jy proe is die nasmaak van die glas water….

Net na ek Meneer Afguns Jaloesie Ek-Gun-Niemand-Iets-nie se karakter begin beskryf besef ek dat hy eintlik gekompliseerd is. So ineen gestrengel met ander karakters….sodra ek nog ‘n fasset van sy karakter geidentifiseer het sal ek vir seker dit hier sit.Die stamboom en hoe almal mekaar ken kom ook nog….?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.