Posted on Leave a comment

Teleurstelling en hartseer

Teleurstelling en Hartseer. Daar is nou ‘n tweeling wat amper soos Vinkel en Koljander is….die een is nes die ander.

Mens sukkel om hulle te onderskei want die gevoel is dieselfde maar verskillend op dieselfde tyd.

Ek sien Teleurstelling as hierdie lang persoon met ‘n ondeunde uitdrukking op haar gesig. Ondeund is so ‘n groot woord en ek het eintlik “mischievous” gaan “google” want dis die woord wat ek gevoel het van toepassing is.

Nou ja met ‘n ondeunde uitdrukking sal sy sonder om te skroom, ‘n emmer met yswater vat en oor jou gooi sonder dat jy dit verwag EN terwyl sy jou in die oë kyk.

Met verbasing en verstomming kyk jy na haar en wonder “Wat de ongeluk het nou gebeur??? Het jy my REGTIG nou net met YSKOUE water gegooi?”

Dan kom Hartseer, soos wat sy sien Teleurstelling gooi die yswater oor jou uit en sy kom blaas op jou soos ‘n lugverkoeler. Tot elke liewe sel in jou lyf en wese stokstyf gevries is soos wanneer daar ryp op die plante is.

Sy is so bietjie korter as Teleurstelling en het ‘n venynige kyk op haar gesig soos wat sy jou kouer en kouer blaas. So asof sy lekker kry.

Lekker om te sien hoe jy besig is om te vries. Hoe jou hart seer word en koud en kil word. Hoe jou gemoed verander en jy voel jy wil wraak neem want jy dink dit is wat jou beter gaan laat voel.

Die Heilige Gees kom gryp dan net betyds in. Kom vertroos jou. Gooi jou toe met ‘n warm kombers. Omvou jou met liefde. Fluister in jou oor dat alles wel beter gaan lyk in die oggend.

Hy vertel vir jou dat Hy verstaan hoe jy voel. Dis alles deel van die proses. Jy gaan vlae en tye beleef waar Teleurstelling en Hartseer jou gaan probeer afbreek sodat jou hart swart lyk soos die plant wat buite gestaan het en swart ryp gekry het deur die nag.

Maar anders as die plant wat buite staan met geen beskutting nie het jy beskerming. Die wind wat waai op die gevriesde blare se uitwerking is swart ryp. Daar is geen beskerming of beskutting nie.

Die effek van Teleurstelling en Hartseer VOEL vir jou soos swart ryp. Maar ons het die Here aan ons sy. Hy sal altyd voorsien. Hy sal altyd ons beskerm. Hy sal altyd alles ten goede laat mee werk vir die wat Hom lief het.

Die swart hart wat jy vir ‘n oomblik voel gaan weg en word weer vervang met ‘n pienk warm hart wat Jesus se liefde uitstraal.

In die proses word jy sterker. Meer bestand teen dit. Jy leer uit dit uit om nie weer dieselfde foute te maak nie. Jy word herinner om net jou oog op Jesus gevestig te hou.

Want jy IS goed genoeg.

Jy HET jou beste gedoen.

Hierdie is en bly altyd deel van die proses om te kom waar die Here wil hê jy moet wees. Dis nie lekker nie en niks kan dit makliker maak nie.

Huil is nodig om uitlating te gee aan die emosie en maak jou nie ‘n swakkeling nie. In teendeel maak dit jou net sterker. Leer jou om te “cope” met die harde houe wat die lewe soms uitdeel.

Ek bly net altyd dankbaar dat ek wel die Here ken en dat Hy my altyd sal dra en beskerm. Maak nie saak wat gebeur nie. Ok sal mens aan die ander kant uitkom.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.