Posted on Leave a comment

Besluite en keuses

Besluite en keuses. Waar ek is vandag is die direkte resultaat van elke keuse en besluit wat ek in my lewe geneem het.

Help nie ek raak mismoedig omdat ek voel ek rys uit soos deeg nie. Want ek het vanoggend GEKIES om beskuit saam met my koffie te neem. Want dis naweek.

Maar help dit regtig my einddoel waarheen ek werk? Glad nie, want my slegte besluit beteken ek moet eerskomende week harder werk by Cross Fit.

Laat mens dink….dan dink ek aan al die ander keuses en besluite in my lewe.

Ek kan nie ongelukkig wees omdat ek nie altyd van my werk hou nie. Ek het dan GEKIES om CA te studeer. CA het nie my gekies nie….of het dit?

En so sal die duiwel my heeldag en aldag besig hou met elke liewe slegte besluit en keuse wat ek gemaak het vandat ek kan onthou.

Kan ek iets doen aan my grimering op my matriekafskeid wat meh gelyk het? Glad nie!

Kan ek iets doen aan die feit dat ek eers gaan werk het na skool voor ek begin studeer het? Nee natuurlik nie!!!
Kan ek iets doen omdat ek nie hoofmeisie of hoofleier was op skool nie?

Kan ek iets doen aan die feit dat ek nie daaraan gedink het om my matriek eindeksamen Rek te laat hermerk en dalk met net 1 onderskeiding op my rapport te kon opeindig nie? Kan ek iets doen omdat ek nie dalk ‘n ander beroep gekies het nie?

Kan ek iets doen omdat ek later in my lewe eers getrou het? Later kinders gekry het? 2 miskrame se emosionele pyn moes ervaar? Kan ek iets doen aan besluite wat geneem was wat dalk nie die beste was vir besigheid nie? Kan ek iets daaraan doen dat ek toegelaat het dat ek gemanipuleer word deur ander?

Die antwoord op al die vrae is NEE!!! Net so met hoofletters want goeie genade as ek dit nie vir myself GIL nie sal ek seker nooit luister en aanbeweeg nie.

Dan voel ek die kalmte deur my spoel van die Heilige Gees. Hy wat my gerusstel dat elke keuse wat ek gemaak het so moes wees. Elke ding het gebeur soos dit moes. Alles binne God se plan. Hoe sleg dit ookal vir my voel of lyk, Hy was DAAR met elke ding.

Dan val dit in my gees dat ek eintlik besig is om so baie tyd in die hede te mors. Dis hoekom mens se lewe verby flits. Jy leef so in die verlede en dink aan die “what, ifs and buts” soos die Engelse sê van die lewe.

Jy probeer so iets doen en oor tob wat eintlik glad nie verander kan word nie.

“Maar hoekom doen ons dit Here?” vra ek. “Hoekom??”
Ek kry nie dadelik my antwoord nie. Ek herkou daardie vraag nog so bietjie.

Hoekom? Hoekom? Hoekom mis ons uit op die hier en nou? Hoekom maak ons nie beter keuses nie en leer net uit ons foute nie?

Hoekom o hoekom?

Dan voel ek die antwoord kom….dis omdat die duiwel by my wil steel. Hy weet wat my potensiaal is. As hy my heeltyd besig hou met dit wat kon wees, mis ek uit op dit wat nog kom en gaan wees.

Hy steel so by mens omdat jy soms buite karakter optree oor swak keuses wat gemaak was en saam met die swak gedrag kom die “condemnation”. Dit klink net beter in Engels.

Dan vlieg die beskuldigings soos pyle op my af:
“Daai optrede van jou. Regtig. Is DIT hoe ‘n Christen optree? Dit gaan jou vir seker uit die hemel hou. Liewe aarde hoe verwag jy moet jy in die hemel kom met so houding en optrede? En die woorde wat jy gespreek het? Jy mag glad nie gevoelens uiter of dink nie want dan beoefen jy nie naasteliefde nie.”

So gaan dit aan en aan en aan.

Ek hoor dit nie meer nie want ek het my wapenrusting aan.

Ek weet ek is net mens MAAR met God aan my sy en met Sy wapenrusting kan ek al die aanslae van die duiwel weerstaan.

Ek hou my skild van geloof voor my sodat die pyle teen dit val.

My kop is beskerm met die helm van verlossing. Hy het my gekies nog voor ek Hom gekies het. Ek is verlos van alles! Hoe awesome is dit nie net nie?

Ek dra met trots die borsharnas van geregtigheid, want “righteous” dit sal ek altyd streef na. Ek weet ek kry dit nie altyd reg nie maar ek weet ek probeer my beste altyd. Al sien almal dit nie so nie. Al word ek veroordeel deur mense oor my keuses en besluite.

Dan beveg ek die leuens met die swaard van die Gees van God, die Bybel. Al die antwoorde is hierin vervat en dit bevat net waarhede geen leuens nie.

Ek omgord my met die gordel van die waarheid. Om altyd die waarheid te praat maak nie saak wat nie. Maak nie saak hoe moeilik dit is nie..maak nie saak voor watter moeilike keuse ek te staan kom nie, die waarheid maak mens altyd vry.

Laastens trek ek my skoene aan om die evangelie van Jesus Christus te verkondig. Oral waar ek gaan moet ek vir mense wys ek is Sy volgeling. Jesus liefde, respek. Ek hoef nie altyd saam almal te kuier as ek nie noodwendig met hulle oor die weg kom nie..maar ek kan hulle met liefde en respek groet en hanteer wanneer ek hulle wel sien.

As ek dit elke dag aan het kan die duiwel niks aan my doen nie.

Dit beteken nie hy gaan my uitlos en nie probeer nie. Dit beteken net EK moet onthou WIE het ek aan my sy. Wie beskerm my. Wie help my.

As ek volkome op Hom vertrou weet ek dat alles in plek val in alle aspekte. Hy vergewe my as ek ‘n emosionele oomblik beleef want Hy verstaan maar wil nie hê dat ons oor iets moet aanhou tob nie.

Ons moet leer, aanbeweeg en nie weer dieselfde foute maak nie.

Hy wil hê ons moet die regte besluite in die hede neem, sodat ons eendag terug kyk, dit sonder enige “hoekom” vrae sal wees en eerder met tevrede stellings gevolg sal word.

Ek weet ook dat elke besluit wat in my oë verkeerd is wel bydra tot wie ek is vandag. Dit help om my te vorm om te wees wie God wil hê ek moet wees.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.