Posted on Leave a comment

Skuldgevoel

Skuldgevoel. As ek nou hierdie emosie in ‘n mens met persoonlikheid en karakter moet sit sien ek hierdie kort Korporaal in sy “army” klere.

Hy laat jou gereeld aantree vir “Uittrap parade”. Kom gil in jou oor sodat die hele wêreld en nie net jy nie, kan HOOR wat jy nou alweer alles fout gedoen het.

“HOEKOM WAS JULLE ALWEER LAAT VIR SKOOL?? HOEKOM IS JULLE ALTYD LAAT??”

Sodra ek probeer verduidelik word ek onderbreek met ‘n ongeskikte gil.

“DIT WAS NIE ‘N VRAAG WAAROP EK ‘N ANTWOORD VERWAG HET NIE!” skree hy terug.

“HOEKOM KRY JY NIE ‘N HELE MAAND SE WERK IN ‘N 6 URE DAG GEDOEN NIE???? HOEKOM WERK JY SOMMIGE DAE NET 5 OF 6 URE WANNEER ALMAL ANDERSINS 12 URE INSIT?”

“Ek het kinders….wil tyd saam met hulle spandeer. Hulle nog geniet terwyl hulle my nodig het en klein is.” antwoord ek amper te bang om enige iets te sê.
“DIS NIE ‘N VERSKONING NIE!” bulder hy.


“HOEKOM IS JY ONGEDULDIG EN KORT AF MET JOU KINDERS? HULLE IS KLEIN EN WEET NIE VAN BETER NIE! DIS ONAANVAARBAAR DAT ‘N OUER EN VERAL ‘N MA HAAR KOEL VERLOOR. DIT GEBEUR ELKE DAG MAN! WAT DINK DIE HERE HIERVAN? EN DIE VROU IN CHECKERS WAT JOU SIEN JOU STEM VERHEF HET? EN DIE MENSE IN DISCHEM WAT DINK JOU KINDERS IS BESIG EN LUISTER NIE VIR HUL MA WAT MOOI PRAAT NIE?” hy staan amper met sy voorkop teen myne en gil. Ek ruik sy stink asem so naby is hy. Ek durf nie oogkontak maak nie want dan gaan ek weer met een of ander emosionele ding gestraf word.

Ek probeer nie eens antwoord nie, ek weet dis ‘n leuen, ek is wragties nie ELKE DAG ongeduldig nie. Of is ek? Oooo die twyfel…..wat DINK die Here van my? Hy het dan my kinders vir MY gekies. Nie EK nie. Hy het geweet ek sal ‘n goeie mamma wees. Of sal ek? Is ek? Kry ek dit reg? Wat as ek nou die oorsaak is dat daar NOG 2 stukkende mense in hierdie wêreld van stukkende mense grootmaak en EK is eiehands die oorsaak hiervan.

“HOEKOM KAN JULLE NIE ELKE AAND AL 6 UUR EET NIE? HOEKOM HET JY NOOIT DIE REGTE BESTANDDELE IN DIE HUIS NIE? HOEKOM IS DAAR NIE VARS GROENTE EN VRUGTE ELKE DAG NIE? HOEKOM SPANDEER JY SO BAIE GELD OP KOS VAN ALLE DINGE? HOEKOM OEFEN JY NIE GENOEG NIE? HOEKOM IS JY NIE FIKS NIE? HOEKOM IS JY NIE MAER NIE? HOEKOM VAL JOU HARE UIT? HOEKOM DOEN JY SOMS PERSOONLIKE GOED IN WERKSTYD? HOEKOM WERK JY NIE NOG MEER OORTYD NIE? HOEKOM HET JY GEEN ENERGIE NIE? HOEKOM IS JY NIE ALTYD LUS OM TAKE EN GOED VIR SKOOL TE MAAK NIE????”

So rammel hy al die HOEKOM vrae af.

Hoekom? Dan begin ek met my Hoekoms. Hoekom moet ons deur als op aarde gaan? Hoekom is ons hier? Hoekom moet ek werk? Hoekom kan ek nie meer oefen nie? Hoekom hou ek van lekker kos en lekkernye? Hoekom, hoekom, HOEKOM?

Ek het nie al die antwoorde nie…..soos wat ek die vrae vra voel ek die Heilige Gees vou my toe in ‘n sagte snoesige warm kombers van vrede. Vrede wat alle verstand te bowe gaan.

Hy herinner my ook aan verskeie liedjies – die manier wat die Here nou met my praat.

Jy doen jou bes. Ek weet jy is moeg, probeer net meer geduld hê want dis net 6 jaar dan is jou seun klaar met skool. Dan trek hy heelwaarskynlik uit die huis uit.

Ek skrik vir die gedagte en besef dat ek moet net rustiger raak. Dinge om my stadiger maak op ‘n manier. Nie so gejaagd deur die lewe gaan nie. Die gejaag spoel oor na die kinders toe en maak hulle onnodig nat en koud. Hulle hoef nog nie die gejaag te VOEL nie.

Ek voel of ek die “game” van die lewe net stadiger moet maak. Minder jaag en minder voet foute maak. Rustig raak en die bal vashou en mooi kyk waarheen ek dit moet gooi sodat die opponent nie die bal kry nie. Die einddoel in die oog hou….die doel is om die punte aan te teken wat die juwele in die Hemel bymekaar maak.
Dit gaan glad nie oor wat ek hier op aarde het of bereik nie. Hoekom probeer ek heeltyd byhou met ander? Hoekom?


Elke keer wat ek lelik is met veral my kinders, kry ek net nie die Hemelse pêrels of goud of diamante wat op my hopie gesit word vir my om te geniet wanneer ek oor die aarde se eindstreep stap nie.

Dit sê nie verniet in die Bybel die wat laaste is sal eerste wees nie. Miskien is dit wat die Here bedoel met daai vers? Vat dinge net rustiger, jy SAL in die hemel kom en jou skatte daar geniet. Maar vir jou om dit te doen moet jy rustiger raak, die fokus hou op dit wat die Here verwag van jou.

“Ek weet Here” fluister my gees mens. “Help my net asb. Here…”smeek ek….”alleen kan ek dit nie doen nie.”
Filipense 4:13 sê Ek is tot ALLES in staat deur HOM wat my krag gee.

Dankie Here vir my krag vir vandag. Nie vir môre, volgende week, maand, kwartaal of jaar nie. NET VIR VANDAG.

Die parade is verby want ek het lankal weg gestap. Die ou met die “attitude” staan nog en gil, vir wie weet ek nie, want ek is nie meer daar om dit te hoor nie…..hy moet maar lekker gil. Ek glo nie ek gaan vandag weer die parade bywoon nie. Of môre nie. Maar vir eers fokus ek op VANDAG. Die HIER en die NOU. Anders flits my lewe verby soos dit reeds het.

Ek wil nou eers geniet om 40 te wees. Ek is dan al ‘n maand lank 40 gewees gister. Dis nie so erg nie. Ek leef nog.

Ek skud alles wat op my geval het van die gil van die uittrap parade af en maak reg vir die dag. Vir VANDAG. Fokus op dit wat ek nou moet doen. Verlig dank ek die Here dat ek HOM ken en die lewe kan aanpak met HOM aan my sy. Hoe mense dit sonder HOM doen weet ek nie…..

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.