Posted on Leave a comment

Reënboë en reënboog baba’s

Reënboog. Reënboog baba’s. Ek het nog altyd my verwonder aan die wonderskoon mooi van ‘n reënboog veral na ‘n donderstorm laatmiddag.

Toe ek jonger was wou ek die wetenskap agter dit verstaan want dit het net nie SIN gemaak nie….?

Ek weet daar is 7 kleure in ‘n reënboog maar ek ken nie hul volgorde of name nie. Ek moet dit elke keer gaan google…..

Einde 2019 het iemand na aan my ‘n miskraam gehad. Sy praat van haar reënboog baba waarvoor sy bid.

Ek dag toe sy het dieselfde “fascination” as ek met ‘n reënboog en dat dit net mooi is vir haar….min het ek geweet dat hulle (wie ookal hulle is) baba’s wat na ‘n miskraam gebore word “Reënboog baba’s” noem.

Ek het dit eers in 2020 gesien toevallig op Facebook…..toe snap ek dit….
Ja ek weet, ALWEER die “late bloomer”…..maar dis ok. Ten minste het ek dit geweet voor ek 40 geword het….?

So na ek die nuutgevonde wysheid ontdek het, begin ek meer oplet na my dogtertjie se prentjies. So baie van haar prentjies het reënboë in. Ek kan nou nie vir jou ‘n persentasie daaraan koppel nie, maar BAIE van hulle het reënboë in.

So begin die Here met my werk oor dit….jitte ek is omtrent ‘n “work-in-progress” as ek so kyk na alles wat daar met my gewerk word ? maar is ons nie maar almal nie….?

Elkgeval ek dink en herkou toe aan hierdie reënboë wat my dogtertjie teken en ek besef die Here het al so lank vir my iets probeer sê deur dit, ek het dit net nie lekker gesnap nie….

Sy is ook ‘n reënboog baba.

Na een buisswangerskap en een “normale” miskraam het ons haar verwag na daar vir ons geprofeteer was van ‘n dogtertjie.

Die ouderdomsgaping tussen ons 2 is 5 jaar. Nie my plan gewees nie, MAAR ek weet die Here het beter geweet! Ek sou wragties nie kon “cope” met ‘n 2 of 2 en half jaar gaping tussen kids nie.

Ek kan net getuig dat die Here in my storm van miskrame DAAR was en my beskerm het. Ek het nie ‘n buis verloor met die buisswangerskap nie en ek het ook nie nog een gehad nie (na ek weer gelees het dat “hulle” wie dit ookal mag wees, gesê het dat die kans op nog ‘n buisswangerskap groter is as jy al een gehad het).

Ek het met die volgende een swanger geword en toe dit blyk dat dit nie ‘n lewensvatbare swangerskap is nie en dit ontaard in ‘n miskraam, het ek in ons badkamer gehuil en vir die Here gevra HY moet dit dan wegvat. Geen prosedures, geen dokters, geen NIKS. Hy moet sorg dat my baarmoeder skoon is.

Met ‘n volgende besoek aan die ginekeloog kort na die miskraam bevind hy dat dit nie nodig is vir ‘n skraap nie. My baarmoeder is silwerskoon (metafories gesproke natuurlik).

En toe word ek swanger met ons tweede wonderwerkie. As ek die ander swangerskappe gehad het sou sy dalk nie vandag hier wees nie….

Ek weet ook dat die miskrame gebeur het soos dit moet, want in die tyd dat ek met die derde kind hoogswanger sou wees, het ons uitgevind my ma het kanker. Ek weet nie hoe daai een by my sou afgaan met ‘n 3 jarige, nog ‘n peutertjie en ‘n hoogswanger lyf nie….

Nie te min, ek besluit om weer die stuk in die bybel te lees waar die Here die belofte aan Noag gemaak het.
Dit val my by dat die Here die reënboog gegee het om HOM te herinner aan Sy belofte. Nie die mense nie, God. Wow. Was dit nog altyd so in die bybel? Hoe het ons daai een gemis.

Wat my verder byval is dat die Here 2 x herhaal wat Hy sê in die stuk en verwys na die boog en Sy verbond.

Wow, nog ‘n keer wonder ek hoe ek dit gemis het??

Dan voel ek die fluistering in my gees….die storm van die miskrame is vervul met ‘n belofte van ‘n reënboog. Ek het my reënboog baba.

Om MY te herinner aan God se belofte….dis hoe ek dit sien….ek moet herinner word aan Sy belofte…..

So baie mense is bang om te erken hulle het miskrame gehad……

Vir elke vrou wat ‘n miskraam gehad het, onthou net God se belofte.

“God is always terribly on time.”

Gaan SOEK Sy belofte in jou situasie, ek belowe jou jy sal dit vind, jy moet net Hom vra om dit te openbaar…..

GÉNESIS 9:11‭-‬17 AFR53
En Ek rig my verbond met julle op, dat alle vlees nie meer deur die waters van die vloed uitgeroei sal word nie, en dat daar geen vloed meer sal wees om die aarde te verwoes nie. En God het gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek sluit tussen My en julle en al die lewende wesens wat by julle is, vir ewige geslagte: my boog gee Ek in die wolke; dit sal ‘n teken wees van die verbond tussen My en die aarde. As Ek dan wolke oor die aarde bring en hierdie boog verskyn in die wolke, dan sal Ek dink aan my verbond wat daar bestaan tussen My en julle en al die lewende wesens, in alle vlees. En die waters sal nie meer ‘n vloed word om alle vlees te verdelg nie. As die boog dan in die wolke staan, sal Ek dit aansien om gedagtig te wees aan die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens in alle vlees wat op die aarde is. En God het vir Noag gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek opgerig het tussen My en alle vlees wat op die aarde is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.