Posted on Leave a comment

Balans

Balans. Balanseer. Balans. Balanseer….Die woorde maal ALWEER deur my kop. Ek dag ek het hom nou al….die lewe gaan oor balans en jy moet finansiële state balanseer. Net so maklik soos dit.

Maar toe nou nie. Dan wonder ek of het balanseer een “s” of 2. Ek besluit dis irrelevant want AL rympie wat ek van skool onthou is dat interessant een “r” en twee “s’e” het. Een rok en twee skoene.

Sien daar leer ek iemand anders ook nou iets en is alweer van my punt af.

Ek hoor vroeër vandag ‘n juffrou by die leersentrum praat met iemand en sê sy dink sy gaan op die bande loop en balanseer soos die kinders doen.

Ek dink ek het ‘n vreemde uitdrukking op my gesig gehad en dit was bloot omdat ek nou die spreekwoordelike stompie van die gesprek opgetel het en nie ‘n BENUL gehad het waarvan hulle gepraat het nie.

Ek giggel later by myself om te dink ons as volwassenes gaan loop op die bande vir balans. Dit lyk skreeusnaaks in my kop en ek besluit ons los die gedagte maar net daar – ‘n gedagte…..

Dan dwaal my gedagtes weer terug na ‘n gesprek met my nuut opgeleide afgetekende klerk (ok nie meer so nuut afgeteken nie want dis al amper ‘n jaar terug – wat????)

Sy is af siek by die huis en tussen haar en haar man speel hulle “tagg” met die baba en as die baba slaap hoor ek hol hul beide vir hul rekenaars net om iets gedoen te kry….want….dis MAANDEINDE.

Siekte en maandeinde is nou glad nie soos “battery & torch” soos die engelse sal sê nie. Hulle “like” mekaar niks en as die twee mekaar ontmoet is dit omtrent ‘n gestoei en gespartel oor wie gaan wen.

Nie te min, ons telefoniese gesprek het gelei tot werk in paaiemente. Ek sing-praat en lag saam (ek weet mens mag nie lag en spot met siekte nie maar heng weet ek lag vir myself want ek was al baie daar wat daar nie TYD is vir siek wees nie).

Met my singende stem heet ek haar welkom by die lewe van paaiemente, deurmekaar laaie met groot en klein skuifspelde gemeng (ja dis ‘n “issue” vir sommige van ons), deurmekaar huise wat mens naderhand nie meer skoonmaak nie want 2 min na jy skoon gemaak het en die kinders is weer soos tornado’s deur die huis dan lyk dit nog erger as voor die skoonmaak….en so giggel ons oor alles wat pla en dat mens dit net oorleef op ‘n manier.

Die werk in paaiemente bly en ek glo dis so tot jou kinders uit die huis uit is. Dan dink ek jou lyf gaan ‘n skok kry as hy weer vir 8 ure mag werk sonder onderbrekings…..

Soos wat ek my gesig was en my grimering afhaal wat na aan Cleopatra gegrens het soos my man spottender uitgewys het, omdat ek oral oogpotlood aangesit het en effens onhandig geword het omdat ek lank laas so grimeer het, dink ek by myself dat dit BAIE cool sal wees as ons “tyre” oefeninge vir balans kan doen vir die REGTE balans in die lewe….

Dan voel ek die Heilige Gees lag amper vir my en sê “Maar daar is sulke oefeninge, Ek het jou dan vertel en gewys….kan jy nie onthou nie?”

Dan dink ek hard en hier het ek seker weer my snaakse uitdrukking op my gesig. Ek dink terug aan HOE dit was toe ek met beide kinders swanger was, toe hulle babas was en hoe dit nou is.

Jy kan dit nie vergelyk nie. MAAR ek onthou ook dat ek paar jaar terug net my voet neergesit het en gesê het dis nou klaar. Kinders opsy skuif is verby.

Die werk moet tussen kinders deur gedoen word nie kinders groot maak tussen werk deur nie!

Soos wat ek dink en als verby flits WEET ek dat ek al vir so lank besig was en steeds is om te balanseer op die lewe se “tyres”.

Val ek soms af? Te dikwels voel dit vir my!

Kry ek dit reg en bly bo vir langer tye? Vir seker!

Ek weet dat die besluit om 5 uur die middag die rekenaar af te sit en te ontspan voor aandete een van daai oefeninge is.

Of 2 uur die middag ophou werk en almal reg kry en aangetrek kry vir gimnastiek en Cross Fit….dis vir seker nog so oefening.

Om nie een gimnastiek of cross fit oefening te mis nie, maak nie saak of dit maandeinde of Februarie (finansiële jaareinde) is nie, is seker die hardste taaiste oefening om te doen…..

Om “bible journalling” te doen in paaiemente is nog ‘n groot oefening want hier oefen jy sommer jou geheue ook….

Na dit als besluit ek dat die hele lewe een groot balanserende oefening is….niemand kry dit reg voor 25 nie en vir seker ook nie teen 40 nie….maar op 40 is ons slimmer en wyser en weet ons wat is balangrik en wat nie….wat is nodig vir daai perfekte balans….

Geheim is jy moet LUISTER vir die Heilige Gees en net die eerste stap NEEM.

Gaan dit maklik wees? “Nope” nie elke dag nie.

Gaan jy moed op wil gee? Ja soms….maar gelukkig het ek die Heilige Gees om my te herinner aan die vordering en as ek nou moed op gee om die balans te probeer kry, alles verniet sal wees….

Belangrikste is om te weet dat Ek is tot ALLES in staat deur Hom wat my krag gee (Fil 4:13). As ons aan dit bly vasklou kan ons deurmekaar huise, gemengde skuifspelde en werk in paaiemente lag-lag oorleef….

Balans….balanseer….balans….balanseer….

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.