Posted on Leave a comment

Wanneer jou rekenaarmuis te swaar is

Te moeg om die ongelooflike swaar muis (wat glad nie swaar is werklik nie maar soos lood in my hande voel) van my rekenaar rond te skuif om my werk te doen, probeer ek myself oortuig om my dag se take te doen.

Dit het letterlik gevoel of ek elke laaste gryntjie van die bietjie energie wat ek met min slaap opgebou het deur die aand, myself uit die bed gesleep het daardie oggend.

Broodjies vir skool bou vroegoggend het gevoel of ek ‘n 5 gang “French cuisine” aanmekaar sit. Dit vat lank en is uitmergelend….

Dan begin die dag….goed moet by owerhede in. Elke ding het ‘n ander dag en datum, geen skoon doellyn waarheen jy beweeg nie, dit voel soos een van daai wiskunde kaarte wat net miljoene kolle op het en ek dink amper hulle noem dit ‘n “scattered” iets se grafiek of ‘n ding. Die naam ontgaan my maar dis hoe die werkslading voel.

“All over the show”. Nie mooi reguit lyne en boksies soos wat vir my werkspersoonlikheid werk nie….

Dit voel weer soos een van daai 90 myl per uur dae…..die ding vir SARS oplaai, dat by CIPC. Hierdie epos beantwoord dan daardie whatsapp. Tussen in is oproepe en op ‘n kol voel dit vir my soos Germiston stasie.

Ek begin voel soos “Stukkie van der Merwe”…. ek grinnik vir myself, as my van Van Der Merwe was sou ek sekerlik gespot het en gesê het my naam is Elsie aka Stukkie van der Merwe ?? nie dat daardie wêreldse liedjie enigsins gaan oor iemand wat hulself in stukke moet verdeel om by al die werk uit te kom nie…..

Als voel of dit 100 keer langer as normaal vat want ek voel MOEG. Moeger as moeg. My moeg is al moeg.
So het ek gevoel seker 90% van die keer in 2020 en tot onlangs toe, grootste deel van 2021 wat ons tot dusver gehad het….

Moeger as moeg.

Liewe hemel, dink ek by myself. Kan EEN mens SO moeg wees?

Ek probeer vir my man beduie hoe ek voel. Hy verstaan nie. Hy kan met min slaap “cope”. Ek nie. Die nagte voel so kort en dan slaap ek ook nie goed nie bo op dit alles. Ek beny hom wat net sy kop neerlê en amper dadelik snork. Dan dink ek by myself, regtig? So maklik en gou?

HOE DOEN JY DIT????

Sy antwoord? Maklik. Ek maak my oë toe en dink aan niks dan slaap ek. Ai, ek rol my oë vir daardie antwoord want vir my is dit nie so maklik nie.

Ek sit by my nael tegnikus en huil amper weer oor hoe moeg ek is en hoe sleg ek slaap. “Nee” sê sy vir my, “so kan jy nie aangaan nie.”

Sy vertel my van een of ander drip wat jy kry wat jou laat slaap. Ek kan nie verder “worry” oor wat in die drip is nie, dit kan net slaap pille in vloeistof vorm wees vir al wat ek omgee. Ek wil SLAAP.

Ek kry die nommer, maak ‘n afspraak en gaan na die dokter toe.

Dis toe ‘n vitamiene drip. So lekker geel pakkie wat direk in jou are in drip. Jy ruik sommer die vitamine B. Ek kry die drip, slaap sleg die eerste aand want ek het een MASSIEWE hoofpyn. Seker my lyf wat aan bom skok ly van al die goeie goed wat nou weer terug inkom wat volksvreemd voel.

Die volgende aand begin ek beter slaap. Jinne, ek het vergeet HOE goed dit voel om te slaap!!! Dis lekker! Ek kan weer my veer van ‘n muis rondskuif en my werk doen.

Ek is nog nie waar ek WIL en MOET wees nie, MAAR ek voel darem al beter. Broodjies bou voel weer soos broodjies bou…..emosioneel weet ek dat ek nog ‘n spreekwoordelike drip moet kry en al plek waar mens dit kry is die bybel.

Dag vir dag en bietjie vir bietjie is dit besig om te herstel. Die fisiese voel makliker as die emosionele.

Elke dag kry ek my emosionele en geestelike drip deur die Praise & Worship musiek wat ons luister wanneer ons stort en reg maak vir die dag.

So baie liedjies PRAAT net met mens….val in jou gees en dan WEET jy net….die Here hoor en weet. Hy WEET. En Hy help ons as ons Hom toelaat…..

Nog so liedjie is – Maybe it’s OK deur We are Messengers.

Dis OK om sommige dae nie OK te voel nie. Want die Een wat die sterre in SY hand hou, hou my ook vas.
Wow. Nê? Hy ken MY naam? Ek wat nietig is hou HY vas in SY hand.

Daar is soveel maniere wat die Here ons help. Ons moet HOM net toelaat om dit te doen. Dis OK om ‘n aanvulling van natuurlike minerale en vitamines te vat….ons lywe het dit nodig om te funksioneer. Ons kos sit nie alles terug wat die gejaagde lewe uit suig nie…..

Dis ook OK om nie OK te voel nie….ons is mense en ek WEET Hy sal ons altyd help.

Met ‘n muis wat nie meer loodswaar is nie kan ek darem weer funksioneer en my take verrig.

Ek voel soms steeds moeg, maar ek is darem nie meer moeger as moeg nie.

Oorweldig, die voel ek amper elke dag (so baie goed het agter geraak a.g.v. 1 kwartaal se “home schooling” en die normale werkslading was steeds daar), maar ek sal hierdeur kom….as die vlees sterker is kan die gees en siel ook kans kry om sterker te word….

Maybe it’s ok….if I’m not ok…..

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.