Posted on Leave a comment

My liefde (of nie so baie liefde nie) vir my werk

“Hou jy van jou werk en wat jy elke dag doen?”

Elke keer as ek die vraag hoor stik ek amper aan my koffie of tee of sommer net my eie spoeg.

Hou ek van wat ek doen? My onmiddellike reaksie is amper altyd NEE want, ek voel, ek moet altyd die waarheid praat en mag nie jok nie.

Maar, die antwoord hang ook af van die bui wat ek in is, die dag wat ek gehad het en nog heelwat buite faktore wat buite my beheer is.

Ek analiseer en “over think” die vraag nou al vir ‘n paar jaar.

Hou ek van wat ek doen? Dis eintlik baie moeilik om te antwoord.

Soos wat ek hom dissekteer en uitmekaar trek, besef ek eintlik diep binne my dat die antwoord eintlik Ja is.

Nie ‘n valse ja nie. Nie ‘n oordadige oordrewe ja nie. Net ja.

Ek gesels ‘n paar jaar terug met ‘n vriendin via whatsapp toe ek weer een dag moeg en moedeloos voel (ek dink soms voel & klink ek soos hierdie kla kous of nat onderbroek soos wat ek net eerlik al my kaarte op die tafel sit as my vriendinne my vra hoe gaan dit – want ek mag mos nie jok nie).

Ek vertel haar hoe ek nie van my werk hou nie en dit en dat en wie weet wat nog alles. Sy reageer en sê “Ek hou ook nie elke dag van wat ek doen nie”.

Jy kan amper die bande hoor skree soos my brein ‘n noodstop doen van 120 km/u af.

Wat???? Ek is nie die enigste een nie?? Regtig? Jy kan my omslaan met ‘n pap snoek. Vir jare (en ek sê jou jare nie net 2 jaar nie) dink ek dat ek is die enigste een wat nie van my werk hou nie.

Almal anders is dan so super gelukkig en MAL oor hulle werk….? Daar moet fout wees met my….

Ek kom verder tot die besef dat die werk wat ek/ons doen amper vergelyk kan word met wat mense doen met huise of karre.

Al verskil is, ek kan nie ‘n mooi kombuis of blink rooi kar wys wat enige iemand sonder kennis van kombuise of karre kan waardeer nie.

Maar ek het op my manier my rooi kar of nuwe kombuis waarmee ek kan spog. In die vorm van finansiële state of netjiese rekeningkundige rekords.

Weet jy hoeveel besighede se chaos het ons aan gewerk en reg getrek dat dit vir ons voel soos die blink rooi kar wat oorgedoen is deur Gas Monkey?

Ek dink wat dit vir ons/dalk eerder my, moeiliker maak is die feit dat die mense nie altyd ‘n waardering het vir dit wat ons doen nie..nie begryp WAT ons doen nie….

Maar diep binne my WEET ek net dat die finansiële state of die Pastel wat ons getransformeer het van ‘n ou stukkende Excel dokument of geen sisteme (wat op die oog af vir die verbruiker fantasties gelyk het maar eintlik soveel gate en gapings in gehad het) tot die eindproduk wat ons lewer, ons blink rooi motor is wat ons getransformeer het…..

“Beauty is in the eye of the beholder” soos die Engelse sê.

Ek weet dat ek die “beauty” van die handewerk wat ek doen kan sien en super trots is daarop, al toon ander soms geen waardering vir dit nie….

Ek WEET ook net dat die Here vir my die gawe gegee het om te doen wat ek doen.

Ek WEET ook ek moet ophou luister vir die leuens van die duiwel dat ek glad nie van my werk hou nie.

Ja daar is dae wat ek die ontvangsdame by die dokter se spreekkamer beny, want sy WEET wat sy moet doen. Sy moet net die foon antwoord “Dokter spreekkamer goeiedag” en dan die oproep deur sit (en ek kyk nou glad nie neer op ontvangsdames nie – ek het eintlik bewondering en waardering dat daar ‘n werk is wat jy kan doen sonder om heeltyd onseker te voel)…want dit voel soms of ek met navrae sit of iets uit die BTW wet moet interpreteer en vir iemand ‘n antwoord gee met die grootste onsekerheid hier diep binne my…..

Maar dan weet ek ook net as ek net diep asemhaal, bid vir kennis en wysheid, die Here dit vir my sal gee sodat ek dit reg interpreteer en alle onsekerheid verdwyn…..en dan weet ek ook dat daar eintlik baie is wat die dokter se ontvangsdame moet doen waaroor sy onseker is. Ek weet net nie van dit nie, want ek observeer net die telefoon antwoord en nie die volle rol wat sy wel vertolk nie….

Dankie dat ek ‘n God dien wat my kan wys dat ek eintlik diep (soms voel dit baie diep en dat ek lank en hard moet gaan soek) binne my hou van wat ek doen en dat die onsekerheid my nie onder moet kry nie, want ek het HOM in my span.

Ek moet nie luister vir dit wat die hardste raas nie, want dis in die minderheid…..ek moet net Hom vertrou. “I was chosen for such a time as this….

Wat meer kan ek voor vra?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.