Posted on Leave a comment

Die Groot Dag!

Vroegdag lê ek al wakker. Hoor die “Piet-my-vrou” roep…dan onthou ek ‘n vriendin het vir my gesê hulle kan net roep as daar vog in die lug is…

Ek speel met ons nuwe baba, laat ek jou vertel, die afgelope 2 weke was soos pajama dril en wakker word uit ‘n diep slaap as die dingetjie wil pieps en draaitjies loop….maar sjoe, het die Here vir ou Fudge net op die regte tyd gestuur vir my gemoed!

Na nog ‘n half uur van lê en wag vir die son om op te kom (die seisoen het mos gedraai so die son strek later eers haar arms oor die horison) besluit ek maar om my man wakker te maak…’n groot dag met ontbyt saam hartsmense lê voor en ek kan nie laat wees vir dit nie!

Ons lê so en gesels, hy vertel my dat ons dogtertjie die persente gekies het en dat dit ‘n groot verrassing is. Dit was vir hom vreemd maar ek weet sy het gekies wat haar hartjie gevoel het belangrik was/is vir my.

Hy staan op en maak die kinders wakker. ‘n Gefluister en sagte bewegings hoor ek in die huis. Sy woorde aan my was dat ek moet maak of ek slaap sodat die kinders vir my kan sing…

Ek lê en wag. In my binneste giggel ek dat hulle nou doen vir my wat ek elke verjaarsdag vir hulle doen. Kersies in cupcakes sit en die verjaarsdag maatjie wakker sing en verras met geskenke.

Dan hoor ek dit, vir ‘n oomblik deur mekaar met of hulle Afrikaans of Engels moet sing en toe trek almal weg in Afrikaans.

My hart klop tjoklits oor my gesin my so in oorvloed bederf met die awesome persoonlike gebaar.

Wonder bo wonder is my gemoed op ‘n plek waar dit lank laas was op my verjaarsdag.

Terwyl ek stort dink ek vir ‘n vlietende oomblik dat ek nie eens aan my ma gedink het toe ek wakker geword het nie. Ek skuif die gedagte een kant toe want dis so lekker om so te voel en nie die verlange na haar heeltyd te hê nie.

Ons maak reg en ry vir ons ontbyt….

Diep binne my weet ek net die Here seën hierdie dag. Ek kan VOEL dat iemand (of baie) vir my gebid het….ek kan voel my gemoed is lig en reg om die dag aan te pak…. “Fourtabulous” hier is ek nou. Ek omhels die groot 40 met ope arms. Want sy hou insig, kennis en wysheid in. Ek gaan haar nie meer vermy nie.

Sy is nou hier, ek vat haar om haar skouers en gee haar ‘n stywe druk. Kyk haar in die oë en knik my kop. Ek is reg. Ek is reg vir 40.

Mag die Here my as ‘n instrument gebruik elke dag vir elke mens wat ek aanraak. Mag elkeen na Hom smag omdat ek Sy lig helder laat skyn al voel my eie liggie flou en dof soms…

Ek gaan nie toelaat dat die druk van die wêreld my onder kry nie want ek weet alles is moontlik met God en dat Hy altyd alles ten goede laat mee werk vir die wat Hom lief het.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.