Meer oor die Beroepsvrou agter die pen…

My naam is Elsie Potgieter en ek is die outeur en skepper van die blad “Uit die pen van ‘n Beroepsvrou”.

Ek is ‘n Geoktrooieerde Rekenmeester (sê dit 3 keer vinning – omtrent ‘n “tongue-twister” soos die Engelse sou sê). Ek is in 1981 gebore en het in 2021 die groot mylpaal van 40 behaal.

Ek was oorweldig met die gedagte om myself aan die wêreld bekend te stel, want al my “blog posts” op Facebook was anoniem gewees. Jy sien, ek hou nie van die kollig nie en het gedink ek kan anoniem bly, maar, ek het besef, na ‘n gesprek met iemand, dat dit mense help om te identifiseer as hulle ‘n naam en gesig by ‘n inskrywing kan koppel.

My eerste reaksie was ook om ‘n hele rits goed te lys van wie en wat ek is in wêreldse terme. Soos wat ek begin voorberei het in my gedagtes oor wat om te sê, is dit asof die Heilige Gees my kom stil maak om te HOOR wat Hy wil hê ek moet skryf.

Eerstens, en belangrikste van alles, is dat ek ‘n kind van God is. Ek het Jesus op ‘n jong ouderdom as my Verlosser en Saligmaker aanvaar. Ek het nog altyd probeer doen wat reg is, al kyk niemand nie en my eerlikheid is vir my belangrik, maak nie saak wat nie.

Ek het op ‘n 30 jarige ouderdom die groot stap geneem om werklik te bekeer en die doop soos in die Bybel beskryf, te ondergaan. Sedertdien, was dit ‘n ongelooflike reis en voel ek net soveel veiliger met Jesus reg langs my.

Só kan ek julle vir ure besig hou met alles van my. Jy sien, ek hou BAIE van detail en stories met ‘n groot draai vertel en hom mooi vir jou inkleur soos ek dit sien. Dit frustreer mense soms, maar ek “embrace” absoluut wie ek is en hoe God my geskep het.

Terug by die wêreldse goedjies wat ek wil lys – ek wil dat die leser verstaan dat ek ook net ‘n normale mens met foute is. God se genade is groot. Ek streef na Heiligmaking elke dag en sommige dae is makliker en beter as ander dae. Ek weet ook as ek foute maak en omvergifnis vra, ek vergewe word.

Ek bly in Suid-Afrika in die Noord-Wes provinsie. Ek is die jongste van drie dogters en het op die Oos-Rand groot geword. Ek is in 2006 getroud met die man vir wie ek gebid het van die Here af (dis ‘n storie vir ‘n ander dag – daardie gebed!). Hy verstaan my en ons vul mekaar absoluut aan, al stamp ons soms koppe oor goed. Die Bybel praat nie verniet van “yster slyp yster en vriende vorm mekaar” nie. As ons nie mekaar gevorm het nie, sou ons beide nie gewees het waar ons vandag is nie. Ons het saam twee pragtige kinders, ‘n seun en dogter (of ‘n “pigeon pair” soos my ma dit altyd genoem het) en ek besef net meer en meer hoe geseënd ek is om beide die manlike en vroulike geslag te kan groot maak (met God se leiding) en voor te berei vir die wêreld daar buite.

Ons het ‘n hele versameling troeteldiere, van groot honde tot ‘n klein huishondjie, pappagaai en hamster. Natuurlik kom meerderheid van die huistroeteldiere se versorging neer op my. Dit het my altyd frustreer, maar ek besef dat dit ‘n voorreg is wat ek as ‘n mamma het – om my kinders te leer hoe om vir ‘n ander lewende wese wat die Here geskep het te versorg en lief te wees.

Ek bestuur, saam met my man, ons eie besigheid, wat hoofsaaklik Belastingkonsultasie is, met al die ander goed tussen in wat maar tipies is van ‘n belastingbetaler en besigheid in Suid-Afrika. Die besigheid was in 2004 gestig en met God se genade, kan ons steeds handeldryf en ‘n bestaan maak as Entrepreneurs.

Die “blog” is absoluut ‘n God-gegewe inspirasie en opdrag. My amptelike Facebook blad was einde Maart 2021 gestig. Alle inskrywings en stories wat ek skryf, word deur die Here geinspireer. Alleen kan ek nie só skryf nie. My talent is absoluut van Hom af. Wie sou kon dink dat ek op 40 my skryf-talent ontdek?

Ek dra hierdie amptelike “Blog” op aan die Here. My gebed is dat elke woord en letter wat ek insleutel op my foon of rekenaar, elke keer deur Hom geinspireer word. Mag ek altyd, elke dag, Sy Naam verheerlik, ongeag my omstandighede waarin ek myself bevind. Niks op hierdie “blog” gaan oor my nie, alles gaan oor Hom. Ek is Sy instrument op die aarde wat my getuienis deel om ander te help en te stig. Mag elke persoon wat die “blog” lees, aangeraak word deur die Here. Mag mense wat Hom nog nie so goed ken nie, leer wie Hy is en nader aan Hom beweeg. Ek bid dit alles in die wonderlike Naam van Jesus Christus, ons Verlosser en Saligmaker. Amen en Amen.

Ek glo dat elke liewe persoon wat die blad lees, saam met my die reis van die lewe sal ontdek en sal ervaar soos wat die Here dit vir my wys.

Die Here het verder ook vir my Spreuke 10:21 gegee kort na ek die amptelike blad op hierdie platform bekend gestel het. “Die lippe van die regverdige help baie mense reg; maar die dwase sterf deur gebrek aan verstand” Afrikaans 1953 vertaling.